Die US Woordfees het vandeesweek in ʼn verklaring bekendgemaak dat kaartjieverkope vir vanjaar se fees met byna 30% gestyg het teenoor verkope in 2015.
Saartjie Botha, US Woordfees-direkteur, het gesê vanjaar se Woordfees is gekenmerk deur ongekende hoogtepunte en suksesse. “Die rekordgetal kaartjies wat verkoop is, bewys die fees dien ’n gemeenskap met ’n warm hart vir die kunste,” het sy gesê.
Die verkope het in geheel met 27,8% gestyg teenoor 2015 se syfers. Die fees het boonop ook rekordverkope behaal wat visuele kuns en boeke betref.
“Ons het vanjaar nuwe onthaalplekke by ons bestaande lys gevoeg, en dit was veral Hoërskool Lückhoff in Idasvallei en Coetzenburg wat die verwagtinge oortref het,” het Saartjie gesê.
Lückhoff se skoolsaal is ingespan vir dramas soos Raka, Orgie, Innie Rof en Amper Vrystaat. “Die Woordfees behoort aan die hele Stellenbosch. Hoe meer betrokke ons kan wees by die plaaslike gemeenskap, hoe meer suksesvol is ons as verteenwoordigende fees.”
Sy sê die ander hoogtepunt, Coetzenburg, het al haar verwagtinge oortref. Die fees se gewildste konsert, Die Republiek van Zoid Afrika, is hier gehou op 11 Maart. “Dit maak soveel sin om buitelugkonserte hier aan te bied, met die berge en sterrehemel as agtergrond.”
Sowat 6 000 kaartjies is vir die geleentheid verkoop. Ander konserte wat hier aangebied is, is Woordfees Pops, Johnny Clegg en Die Karnaval. Laasgenoemde is voorheen by die Van der Stel-terrein aangebied.
Die wenners van die US Woordfees se WoordTROfees word op 18 April bekendgemaak. Die US Woordfees vir 2017 vind plaas van 3-12 Maart.
In lig van die US bestuur se apatiese houding teenoor Afrikaans, is dit baie skynheilig dat die universiteit so lekker geld maak uit die Afrikaanse taal net om die wins dan weer te gebruik om die Afrikaner verder te ontmagtig.
Baie geluk Saartjie. Trots op jou !!!!