Van Beitbrug tot parlement vir genesing in SA

Deon van der Berg van Beginet wil 2 200 km op ‘n fiets aflê vir versoening in gesinne en gemeenskappe. Foto: Beginet Facebook-blad.

Ds. Deon van der Berg spring op 12 Maart manalleen op sy fiets om ʼn 2 200 km-toer van Beitbrug, die grenspos tussen Zimbabwe en Suid-Afrika, tot by die parlement in Kaapstad aan te pak.

Hy doen dit om bewusmaking vir versoening en eenheid te help skep.

Die stigter en uitvoerende hoof van die bedieningsorganisasie Beginet sê hy kan nie langer net ʼn leunstoelkritikus wees oor die dinge wat verkeerd loop in die land nie. Sy organisasie wil iets daadwerkliks doen om die situasie in die land te verbeter.

“Ek weet rekonsiliasie is ʼn gelaaide term in Suid-Afrika, maar ons het ʼn veel groter visie vir die Let’s Reconcile SA-projek, wat die fietstoer insluit, as net versoening oor rassegroepe heen,” sê hy.

Charmaine Mahlagaume (middel) en Deon van der Berg van Beginet (regs) kuier by Esté Meyer Jansen in Maroela Media se ateljee om oor die Let’s Reconcile SA-projek te praat. Foto: Verskaf.

Volgens Charmaine Mahlagaume, programbestuurder by Beginet, het hulle in gemeenskappe met die mense self gaan gesels oor die konsep van versoening en vergifnis. Dit is hier waar hulle besef het dat daar soveel seer is binne gesinne, families, vriendskappe en huwelike en dat die werklike rekonsiliasie eers hier sal moet begin voordat dit na die res van die land uitgebrei kan word.

“Daar is selfs seer binne ons kerke en gemeenskappe, om dan nie eens te praat van tussen kerkverband of oor gemeenskappe heen nie. Rekonsiliasie sal eerstens in ʼn individu se hart moet gebeur en dan sal dit daarna na ʼn groter gemeenskap kan uitkring,” het Mahlagaume gesê.

Die fietstoer duur tot 23 Maart en Van der Berg beplan om elke 200 km in dorpe te stop en oor te bly waar hy met gemeenskappe oor genesing en eenheid sal gesels.

Op 15 Maart sal Van der Berg saam met ʼn groep fietsryers na die Uniegebou in Pretoria fietstrap en op die middag van 16 Maart sal die span ook ʼn geleentheid by die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein aanbied.

“Baie mense het al vir ons gesê hierdie is ’n belaglike idee, maar ek sal enige tyd ʼn mal projek soos hierdie aanpak ter wille van eenheid in ons land,” het Mahlagaume gesê.

Sy sê hulle wil in elke dorp of stad waar hulle stop, ʼn saadjie oor versoening in elke inwoner se hart plant.

Van der Berg sê ʼn daad van versoening kan eenvoudig en prakties wees.

“Jy kan net na jou binnekamer gaan en iemand in die naam van die Jesus vergewe vir dit wat hy of sy aan jou verkeerd gedoen het. Dit is ʼn daad van versoening. So word jou hart genees en kan jy verder gaan.”

  • Besoek Let’s Reconcile SA of Beginet se Facebook-blad vir meer inligting oor dié projek. Lesers kan ook Beginet se werksaamhede ondersteun. Besoek die organisasie se webtuiste vir meer inligting hieroor.
  • Maroela Media het met Deon en Charmaine van Beginet gesels oor wat hulle beoog met die Let’s Reconcile SA-projek. Luister na die volledige gesprek bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chris ·

Ek was op die 19 Julie 1998 in die kerk toe Deon vd Berg se preek oor vergifnis gehandel het. Hy het afgesluit met hoe kan jy vra/smeek vir vergifnis as jy nie iemand kan vegewe nie. Tien dae daarna word twee van my familielede soos honde op ‘n plaas doodgeskiet. Vir drie jaar wroeg en swoeg ek in so mate dat ek op ‘n selfvernietigingspad was om oor die gebeure te kom. Op ‘n dag staan ek weereens op my knieë, toe die woorde van Deon deur my kop begin maal. Ek het daar as verligte persoon opgestaan. Ek het ophou wroeg en weer die uitdagings van die lewe aangevat. Dit kan ek elke persoon verseker, dit is nie die maklikste besluit om te neem nie. Wat my egter bekommer, die huidige stand van rasseverhoudings in die land word deur politieke opportunisme en retoriek aangeblaas. Sterkte met die poging. Pas net op vir die motoriste.

madels ·

Dis so wonderlik Deon, mag hierdie sade groei en groot bome van rekonsiliasie word en vele vrugte geniet van wat julle hier gaan saai en alreeds gesaai het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.