Van dwelmslaaf tot bestuurder ná Krugersdorp-afspraakmoorde

Candice Ellison (Foto: Verskaf)

Hoe kon sý ʼn dwelmslaaf wees wat op straat gewoon en by verkeersligte gebedel het? Dit is die tipe gedagtes wat jy ervaar as jy vir Candice Ellison (41) van Krugersdorp ontmoet. Sy is welsprekend, intelligent, goed versorg en vandag die bestuurder van The Cradle of Hope liefdadigheidsorganisasie wat deur Melodie van Brakel gestig is; die plek waar talle gebroke vroue en kinders gehuisves word en ʼn tweede kans kry.

Candice se verhaal is des te meer tragies omdat haar verloofde, Jarod Jackson, deur die Krugersdorp afspraak-moordenaars vermoor is terwyl sy swanger was.

Saam was hulle jare lank haweloos en aan heroïen verslaaf. Hulle het van plek tot plek geswerf en het toe vir Cecilia Steyn, baasbrein agter die Krugersdorp-afspraakmoorde, ontmoet wat haar oor hulle “ontferm” het. Op die oog af was sy ʼn meelewende en deernisvolle vrou wat hulle selfs vir ete genooi het. Dit sou Jarod se lewe kos.

Candice vertel: “Ons verhouding was nie volmaak nie, maar Jarod was lief vir my en ek vir hom. Hy was ʼn saggeaarde man. Ons het net gekliek. Ongelukkig was ons twee toksiese mense wat toksiese keuses gemaak het.

“Ek is ʼn gerehabiliteerde heroïenverslaafde wat na 18 jaar van dwelmmisbruik nou al ses jaar skoon is. Ek het aanvanklik terugvalle gehad met die uitgerekte ondersoeke en hofsaak rondom die Krugersdorp-afspraakmoorde. Dit het my ondergekry.”

Candice het na skool kuns begin studeer met groot drome om ʼn kunstenaar te word. Trauma uit die verlede het haar selfbeeld geknou en sy was altyd op soek na ʼn man wat haar beter kon laat voel het, maar dan het die teenoorgestelde gebeur. Een was gewelddadig en ʼn ander een het haar oortuig om met dwelms te eksperimenteer. Hulle is later uitmekaar.

“Ons het gedink dis onskuldig en net vir ontspanningsdoeleindes. Ek was gou aan heroïen verslaaf, het in rehabilitasiesentrums geboer en my ma deur hel gesit. My gesin het my werklik probeer help.

“Ek kon nie verstaan dat ek nie die dwelms kon los nie. Dwelms maak jou selfsugtig. Jy steel en lieg en bedrieg om jou verslawing te finansier. Dis boonop uiters gevaarlik om op straat te woon, waar ons gereeld beland het. Jy het later nie meer trots of integriteit nie. Ek het by verkeersligte gestaan en bedel; my skoene vol gate. Mense beskou jou as ʼn laspos, nie as ʼn mens nie. Jy voel waardeloos. Ek het soms gebid dat ek net moes sterf. Ek het een of twee keer probeer selfdood pleeg. Selfs op dié gebied was ek ʼn mislukking. Dit was nie nodig vir iemand anders om my te mishandel nie. Ek het dit goed op my eie reggekry.

“Elke nou en dan het ʼn wonderwerk egter gebeur en het iemand my kos gegee of ʼn baadjie op ʼn koue wintersdag uitgetrek en aan my oorhandig. Dan is daar die perverte wat vroue wil oplaai. Jy stel jouself aan alles bloot.”

Terwyl Candice haweloos was, is sy verskeie kere beroof, verkrag en met ʼn vuurwapen teen die kop aangehou. Dis ʼn lewensgevaarlike leefwyse.

Sy en Jarod het in ʼn stadium by ʼn skuiling in Krugersdorp gebly en moes bedags bedel om hul losies te betaal.

“As jy nie betaal nie, slaap jy op die sypaadjie.”

Zak Valentine, Cecilia Steyn en Marcel Steyn op 23 Mei 2019 in die hof. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Sy onthou een snerpende koue nag toe hulle vergeefs met komberse en kartonne buite ʼn kerk probeer warm bly het.

“In al die chaos en waansin het ek boonop swanger geraak. My ma wou hê dat ek my swangerskap beëindig, maar ek kon nie. Sy het voorgestel dat ek die baba laat aanneem, maar dit kon ek ook nie doen nie. Ondanks die swangerskap het ek steeds dwelms gebruik. Die gevolg van ʼn leeftyd se verkeerde keuses.

“Ons het vir Cecilia Steyn ontmoet. Dit het gelyk asof sy verstaan en omgee. Ek het gedink sy was ʼn bietjie ongewoon, maar wie was ek om te oordeel?

“Toe ek 8,5 maande swanger was, het Jarod skielik verdwyn, waarna ek ʼn saak rakende ʼn vermiste persoon by die polisie aanhangig gemaak het.

“Cecilia het skaars ʼn blok van my af gewoon (ons het toe ʼn kamertjie gehuur) en het kwansuis gehelp om na hom te soek. Sy het my nog R50 vir kos gegee. Intussen het Le Roux Steyn die tou om Jarod se nek gesit en hom vermoor. Sy liggaam is later in ʼn motor verbrand.

“ʼn Paar dae later lig Cecilia my in dat Jarod my seker vir ʼn ander vrou gelos het.”

Candice het in die Leratong-hospitaal in Krugersdorp geboorte geskenk. Dit was ʼn aaklige ervaring met bloedbesmeerde badkamers en onbeskofte verpleegsters wat glo geweier het om haar te help omdat hulle ʼn teebreek gehad het. ʼn Studente-verpleegster het haar later te hulp gesnel.

Die baba was wonderbaarlik gesond.

“Ek het myself die volgende oggend ontslaan waarna wonderlike vriende my en my baba in hul huis laat woon het. Omdat ek egter weer dwelms misbruik het, het hulle my gevra om te gaan, wat heeltemal te verstane is. Hulle het drie kinders gehad.”

Kort daarna het ʼn speurder haar besoek en haar gewaarsku dat sy in gevaar verkeer en dat Cecilia-hulle vermoedelik vir Jarod se dood verantwoordelik is.

“Hulle was nog besig om bewyse in te samel. Ek het nie eens in daardie stadium geweet dat hy dood is nie.”

Die opspraakwekkende moordverhoor het drie jaar later plaasgevind. Hoewel die verdagtes haar probeer intimideer het, is sy as ʼn uitstekende getuie beskryf. Cecilia, Marinda Steyn en haar twee kinders Le Roux en Marcel asook Zak Valentine is uiteindelik weens die reeksmoorde op elf slagoffers skuldig bevind.

’n Plek van hoop

Haar baba was vier maande oud toe Candice na The Cradle of Hope verwys is.

“Hawelose mense besef nie watter dienste daarbuite is nie. Ek het nêrens gehad om heen te gaan nie. By The Cradle het hulle my net een kyk gegee en gesê ek moet daar bly.

“Ek het elf maande lank daar gewoon en was aanvanklik agterdogtig omdat ek mense wantrou het, maar daar was onvoorwaardelike liefde. Melodie het selfs vir my baba gaan klere koop.

“Sy en Ronel Snyman het nooit met my tou opgegooi nie. Hulle het ook nie vir my gepreek nie en het net empatie betoon. Daar was geen oordeel nie. Hulle het my eerlikheid oor my donker verlede waardeer. Ek het toe twee jaar lank as vrywilliger hul donasies uitgesorteer. Toe daar ʼn pos as bestuurder oopgaan, het ek dit gekry.

“Ek verdien nou ʼn salaris, huur my eie woonplek en is onafhanklik.

“Ek werk nou met ander gebroke vroue. Vandag fokus ek op integriteit, verantwoordelikheid en genade. Ek besef ook dat die oorsake van dwelmmisbruik die eintlike probleem is. Mense probeer hul pyn verdoof. Ek het geleer dat geluk in oomblikke is soos jou eerste koppie koffie in die oggend, ʼn drukkie van jou kind en ʼn nuwe blom in die tuin.”

  • The Cradle of Hope verskaf ʼn tuiste aan hawelose, mishandelde vroue. Indien jy die organisasie wil ondersteun, stuur ʼn WhatsApp aan Ronel by 072 823 3525 of ʼn e-pos aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Grens

Wat ‘n “great” getuienis.

Leeu

Sjoe – ek het skoon ‘n knop in my keel soos ek hierdie getuienis lees! Ek is So bly dat jy dit kon regkry om jou lewe om te draai!
Ek wens jou alle voorspoed toe vir die pad vorentoe!

Janice

Pragtige getuienis