Van goeie gebaar tot studiebeurs danksy FroueVonds

Claudia Behr (19). (Foto: Verskaf deur Helpende Hand.)

Sedert die FroueVonds in Augustus verlede jaar tot stand gebring is, is minstens 12 jong vroue die kans gegun om die kettings van armoede te verbreek en duisende ander vroue deur ander se verhale geïnspireer.

Een só ’n jongvrou is Claudia Behr (19) van Witbank in Mpumalanga, ’n behoeftige meisie wat nooit sou kon dink ’n goeie daad vir haar plaaslike Helpende Hand-tak sou vir haar ’n deur oopmaak om ’n studiegeleentheid te kry nie.

Benette Welman, Solidariteit Helpende Hand se projekkoördineerder van die FroueVonds, verduidelik die fonds is in Augustus 2019 gestig vir vroue en meisies in wie se lewens alles nie altyd reg loop nie.

“Dit is dan ook die leuse en die rede hoekom die naam van hierdie merkwaardige fonds verkeerd gespel is. Die FroueVonds poog om ’n deur of soms selfs net ’n skrefie van ’n venster vir vroue en meisies oop te maak. Alexander Graham Bell skryf: ‘Wanneer een deur toegaan, gaan ’n ander een oop. Dikwels kyk ons so lank en vol berou in die toe deur vas, dat ons nie die een sien wat vir ons oopgegaan het nie.’ Dit is in ’n neutedop waarvoor die fonds staan,” sê Welman.

Sy sê een van die pilare wat die FroueVonds sterk laat staan, is die opleidingspilaar, genaamd die Susanna Smit Studiefonds.

“Met die Susanna Smit Studiefonds, waarvan die sangeres Elmé Churr die ambassadeur is, is ons geseënd om tans vir 12 meisies ’n deur vir ’n tersiêre kwalifikasie oop te maak,” sê sy.

Claudia is een van die 12 FroueVonds-studente wat in 2020 die geleentheid tot ’n tersiêre kwalifikasie ontvang het. Sy is tans besig met haar diploma in besigheidsadministrasie aan Susca Watts Akademie op Middelburg.

Benette sê vir Claudia het ’n paar deure in haar lewe toegeslaan. Hierdie jong vrou het egter besluit om al die toe deure agter haar te sit en elke nuwe geleentheid om ’n toekoms te skep, aan te gryp. Claudia se ma moes alleen na haar omsien vandat sy 6 jaar oud was. Sy en haar ma, Sonja, het van familielid tot familielid rondgetrek, wat moes bystand bied vir hulle om te oorleef.

“My ma het in ’n stadium in Potgietersrus (Mokopane) ’n goeie werk gehad, dit was lekker om bykans twee jaar daar te kon bly. Ek en my ma het toe Witbank toe getrek en saam gewoon, maar het toe na aan my matriekjaar, Brits toe getrek. Ek het agtergebly omdat ek graag matriek wou klaarmaak en aan Hoërskool Middelburg gematrikuleer,” beaam Claudia.

Ná haar ouers se egskeiding het sy haar pa net van tyd tot tyd gesien.

“Die grootste uitdaging in my lewe was die gevoel om my pa te verloor aan iets wat nie die dood was nie. Vir lank het ek seer en verwerp gevoel. God het my egter nou bevry van die verwyt,” sê Claudia.

Annemarie van Heerden, Helpende Hand se streeksorganiseerder van Mpumalanga en KwaZulu-Natal, vertel sy het Claudia ontmoet toe Helpende Hand verlede jaar ’n reuse aartappelskenking ontvang het.

“Ons het die aartappels vir die gemeenskap beskikbaar gestel met die teenprestasie dat vir elke sakkie aartappels wat hulle vir hulself verpak, moet hulle ook ’n sakkie verpak wat ons na ander behoeftige gesinne in ander dorpe versprei het.”

Claudia en haar vriend het op Facebook die geleentheid raakgelees. Hulle het vir hulself ’n sakkie gepak om gaar te maak vir aandete en die inisiatief het hulle diep geraak. Hulle het aangebly en die heeldag onbaatsugtig aangebied om te help met die verpakking.

Ná die aartappelpakdag het Claudia, ten spyte van haar eie omstandighede, as vrywilliger by Helpende Hand se Witbank-tak aangesluit.

“Om iemand anders te help, gee my ’n ander soort vreugde. Ek dink dit is die dankbaarheid op mense se gesigte wat my gelukkig maak. Die klomp tannies van die Witbank-tak speel ’n belangrike rol in my lewe. Hulle ondersteun my so baie en het iets in my raakgesien, hulle het my menswees erken,” stel Claudia.

Claudia het ná matriek nie die fondse gehad om te gaan studeer nie.

“Toe ek vir Claudia vertel van die Susanna Smit Studiefonds en beurs wat Susca Watts Akademie bied, was sy histeries opgewonde en het dadelik haar aansoek begin regkry,” vertel Annemarie.

“Die beurs gee vir haar ’n geleentheid. Claudia het ’n droom om êrens in die lewe te kom. Daar is geen ander manier hoe sy sou kon studeer nie. Hierdie besigheidsopleiding stel haar in staat om ’n toekoms vir haarself te skep, om later ’n entrepreneur te wees en weer werk te skep vir meisies in dieselfde posisie as sy.”

Annemarie vertel dat Claudia se reaksie op die beurs hartroerend was.

“Sy’t my vasgedruk en ons twee het saam uit dankbaarheid gehuil. Ten spyte van uitdagings, doen sy haar bes in haar studies. Die skootrekenaar wat die FroueVonds aan haar geskenk het, maak die uitdagings ook minder en sy is baie toegewyd.”

Claudia vertel verder: “Die lewe het my geleer dat God jou nie onnodig ’n pad sal laat stap nie, Hy het ’n rede vir alles.”

Benette sê die FroueVonds stap vol vertroue saam met Claudia op God se pad vir haar.

“Ons is ook opgewonde om te sien na watter nuwe paaie hierdie groot oop deur vir Claudia sal lei,” sluit sy af.

  • Die FroueVonds is dankbaar vir instansies soos Imbalie Beauty-opleidingsakademie, Serwalo Hair-akademie, Susca Watts-akademie en Guvon-akademie, wat ons hande versterk om aan behoeftige jong vroue studiegeleenthede te bied en ’n toekoms vir hulle te skep. Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds* poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig en op te lei om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word. Vir meer inligting, besoek FroueVonds.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jaco

Studiebeurs, studiefonds, studiehulp: wonderlike woorde en ‘n wonderlike gebaar om mense te help, maar WAAR gaan hulle ná hulle wonderlike studie werk kry? Kwalifikasies en ondervinding tel nie veel in SA nie; die “regte” velkleur gee wel werk. En voordat ek gekruisig word met opmerkings soos “hulle kan in die buiteland gaan werk”: Om daar te gaan werk beteken nie jy vlieg vinnig Australië toe en stap daar dadelik in ‘n werk in nie. Dis eintlik ‘n lang, harde DUUR proses. Ek het my CV gedokter om weer ordentlike werk te kry. Dit sê niks van my universiteitsgrade nie. Deur… Lees meer »