Van hopeloos na hoop

 familie-rivier-pixabay-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Dit is vroegskemer terwyl Susan*, ʼn skrale veertien jaar oud, in die koue op die gras langs ʼn rivier in Gauteng sit. Sy kyk met verwondering na haar mamma. Haar ma draai haar kop weg van haar honger dogter af, en probeer om die trane van skaamte en ʼn gebroke moederhart vinnig van haar wange af te vee voor enige iemand dit kan sien.

Susan vra vir haar pa wat besig is om hout te kap: “Pappa, dit is baie koud vanaand. Kan ons nie maar teruggaan na ons huis toe nie?” Haar pa moet sy trots sluk; dit is moeilik, maar hy moet vir haar sê hulle kan nie terugkeer huis toe nie. Eers het hy sy werk verloor, toe sy besittings en toe sy huis. Al wat hy oor het, is sy viermantent, sy gesin en sy geloof.

Johan* is slegs ʼn jaar ouer as sy sussie en verstaan ook maar min van hierdie kampery langs die rivier. Maar een ding besef dié jong seun, en dit is dat daar geen ander uitweg is nie. Hy sien hoe mamma en pappa huil, en hy sien hoe hulle bid. As vier mense ʼn tent deel, sien mens mos maar baie van mekaar.

Foto: Pixabay

ʼn Tienerseun, ʼn tienerdogter, ʼn ma en ʼn pa in een tent, met niks nie; net die klere aan hulle lywe en ʼn pot, ʼn bord, verwaarloosde skoolklere en weereens geloof. Hoe hard moet die lewe jou nie ruk om hier te beland nie? Hoeveel vrae en hartseer moet daar nie in jou hart wees nie?

Susan en Johan moes skool vanuit hierdie tent bywoon. Hulle moes in hierdie beknopte spasie vir skool aantrek en in die pikdonker te voet skool toe gaan. Wanneer hulle ná skool terugkeer na die tent, moes hulle hul huiswerk in hierdie omstandighede doen. Daarna moes hulle ook honger gaan slaap omdat daar eenvoudig net nie kos was nie. Susan en Johan se ma het ʼn toelaag van SASSA af ontvang, maar dit was ook net-net genoeg om hier en daar skoolbehoeftes, sanitêre ware en ʼn stukkie brood en ʼn bietjie melk te bekostig.

Een aand kan Susan net nie ophou huil nie. Haar ma en pa weet nie meer wat om te doen om haar te troos nie. Dit sous buite en die donderweer slaan hard. Die tent is nie weerbestand nie. Susan huil omdat haar dagboek, haar kosbaarste en enigste besitting, papnat gereën het en verwoes is. Haar hartjie voel ook verwoes en haar drome, wat sy in haar dagboek geskryf het, lê nou aan skerwe. Als is papnat en verlep, net soos sy in hierdie tent voel wat haar tienerlyfie elke dag vashou en inperk.

helpende_hand_mary.jpg

Argieffoto

Dit is toe hier, in die papnat tent, waar Helpende Hand se streekspersoneel intree en dié twee tieners se name by Hoofkantoor indien. Tydens ʼn vergadering van die Bemagtig-ʼn-Kind-paneel het hulle vir ons Susan en Johan se storie kom vertel. Die doel van die Bemagtig-ʼn-Kind-projek is om behoeftige kinders op so ʼn manier te bemagtig dat armoede verbreek word en hulle op ʼn volhoubare manier bygestaan kan word. Helpende Hand se uitgangspunt is dat opheffing deur opleiding die doeltreffendste manier is. Dit verhoed dat die kind ʼn slaaf van die “bakhand”-toestand word.

Na afloop van die paneelvergadering het ons besluit om hierdie kinders te help. Die Bemagtig- ʼn-Kind-projek het dit toe moontlik gemaak vir Susan en Johan om koshuis toe te kan gaan. Daar ontvang hulle elke dag ʼn bord gesonde kos en het hulle ʼn dak oor hulle kop. Verder het Susan, as tienermeisie, haar privaatheid. Johan, as tienerseun, het nou ook die ondersteuning van ander tienerseuns. Hierdie kinders het ʼn warm bed, en die belangrikste is dat hulle nou op hulle skoolwerk kan konsentreer omdat daar na hulle basiese behoeftes omgesien word. Hulle word ʼn geleentheid gebied om ʼn sukses van hulle toekoms te maak en daarmee die armoedesirkel te verbreek.

Hierdie jaar is Susan en Johan se laaste jaar in die koshuis. Hier het hulle floreer, leer speel en net kind kon wees. Hier was hulle gelukkig en kon hulle steeds hulle ouers sien. Hulle kon leer en groei, en hulle kan nou as trotse studente ook by Helpende Hand se Studiefondssentrum aansoek doen om verder te gaan studeer.

Hierdie verhaal kon ʼn ander uiteinde gehad het as die gemeenskap nie saamgestaan en fondse aan die Bemagtig-ʼn-Kind-projek voorsien het nie. Sonder die gemeenskap sou Helpende Hand nie kon intree en help nie. Dit is ʼn besonderse voorbeeld van ʼn gemeenskap wat saamstaan om mekaar te help.

Dankie weereens aan elke persoon wat aanhou gee vir die Bemagtig-ʼn-Kind-fonds.

As jy vandag hier lees, en jy wil en kan ook help, besoek gerus ons webwerf of sluit aan as ‘n ondersteuner. Jy kan vandag ʼn verskil maak; ʼn verskil wat ʼn leeftyd gaan voortduur.

Susan* en Johan* is skuilname.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.