Van petroljoggie tot rekenmeester danksy dié vrou

Henry Masi. Foto: Facebook via Megan Cassie

Henry Masi. Foto: Facebook via Megan Carrie

ʼn Barmhartige samaritaan van Durban in KwaZulu-Natal wat uit nuuskierigheid ʼn gesprek met ʼn petroljoggie aangeknoop het, het onlangs ʼn groot bedrag geld ingesamel om die joggie, wat eintlik ʼn opgeleide rekenmeester is, te help om sy studies af te betaal en ʼn werk te kry.

Megan Carrie, wat in die modebedryf werk, het haar onlangs tot Facebook gewend nadat sy Henry Masi by ʼn vulstasie in dié dorp ontmoet het.

“Ek is nie seker of dit die sorgvuldige manier is waarop hy die voorruit van my motor soos ʼn chirurg gewas het nie, of sy groot glimlag wat my genoop het om ʼn gesprek aan te knoop nie,” het sy op Facebook geskryf.

Henry het vertel hy werk reeds drie maande as petroljoggie in Suid-Afrika. Hy het in Zimbabwe vir ʼn graad in rekeningkunde studeer en in 2008 na Suid-Afrika verhuis. “Hy kon danksy ’n staatstoelaag studeer, maar het meer as anderhalf jaar se studiegeld wat terugbetaal moet word voordat hy die sertifikaat kan kry wat bewys dat hy ʼn opgeleide rekenmeester is.”

Volgens Megan is Henry se storie hartroerend, want sy kon sien hy is opreg. “Daar is honderde, selfs duisende, van hierdie verhale om ons elke dag. Hierdie een het my veral diep getref en ek kon dit net nie uit my kop kry nie.”

Henry het nadat hy met die universiteit in verbinding was aan Megan gesê sy algehele uitstaande koste is nog R35 000. “Ek het toe die Facebook-inskrywing gemaak en ʼn Paypal-rekening geskep waarin mense skenkings kon doen as die storie hulle ook raak,” het sy gesê.

Skenkers van oor die wêreld het intussen hulle harte en beursies oopgemaak. ʼn Bedrag van R71 000 is tot dusver ingesamel. “Ek het aanvanklik gedink as 1 000 mense elkeen R35 kan skenk, kan ons sy skuld delg,” het sy gesê.

Toe sy die goeie nuus aan Henry vertel het, wou hy niks meer hê as die geld wat hy skuld aan die universiteit nie, het sy aan die webwerf Good Things Guy vertel. “Hy het gesê hy wil graag die oorblywende geld aan iemand anders in ’n soortgelyke posisie gee. Hy het gesê hy kort nie meer geld as wat hy skuld nie.”

“Ek het begin huil,” het Megan geskryf. “Hy het werklik niks hiervan verwag nie. Dit maak die storie soveel meer kragtig as wat dit reeds is.”

Megan is tans besig met die Hello Henry-veldtog wat ander minderbevoorregtes soos Henry ook gaan help. Henry het tot dusver vyf goeie werkaanbiedinge gekry wat hy saam met Megan gaan oorweeg.

Besoek Megan se Facebook-blad om die oorspronklike plasing te lees. As jy in verbinding wil tree, kan jy haar direk op Facebook nader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Skepties ·

Watter bewyse het hy dat hy wel studeer het??? Groot slenter, maar ek is altyd skepties met die idees waarmee sommige te vore kom en die mense wat val daarvoor. Vinnige geld!

Elize C ·

Ek het net die grootste respek vir Megan en Henry, as dit alles waar is. Ek glo darem Megan het die spesifieke universiteit gekontak en bewys by hulle gekry dat hy ‘n student daar was, wie sy graad geslaag het, en dat sy aangedring het vir bewys van Henry se rekening-staat wat die uitstaande bedrag aandui, asook dat die fondse direk aan die universiteit vereffen is. Ons ou volkie is al so gewoond daaraan om van bedrog-stories te hoor, dat ons onbewustelik onmiddellik skepties is as ons so bemoedigende berig soos van Henry & Megan lees. Indien alles met klinkbare bewyse gestaaf kon word, wens ek Henry net die beste toe in sy loopbaan, en seënwense vir die werk wat Megan doen.

Anel ·

Jammer maar ek dink die vrou se kop raas. Ons het genoeg sukkelende en verdienstlike mense in ons land. Hoekom nie een van ons eie mense help nie? Maar nou word ‘n , tien teen een, onwettige immigrant gehelp. Jammer maar ek dink dit is heeltemal verkeerd. Dit moedig die spul net aan om hierheen te kom. Die witmense gaan mos help. Jammer, maar nee!

Pieter ·

Lees gerus Matteus 25. Die Zimbabweers wat hierheen kom wil meestal nie hier wees nie. Was jy onlangs in Zimbabwe? Die mense is honger, hulle kry swaar a.g.v. ‘n despoot wat sy eie mense onderdruk en die land ruïneer. Hulle kom hierheen uit nood, en is meestal bereid om baie hard te werk. Dit is neer as wat ek van die meeste jong wit Afrikaanse kinders kan sê. Ons kan nie so liefdeloos teen die buitelanders wees nie! Ek respekteer Megan vir wat sy doen en hoop jou hart sal ook versag. Ek was lank genoeg in Zimbabwe, Zambië en Malawi om die mense daar se nood te ken. Hulle wil nie weg gaan nie, maar moet tog vir hul gesinne sorg…

Gesiggie ·

Megan mag jy tonne en oorvloed geluk vind, vir wat jy gedoen het, baie mooi gebaar van jou, partykeer kos dit mens net n paar sekondes om net na iemand te luister.. en dan soos nou.. iemand te help wat hulp nodig het, glo my Henri sal jou altyd dankbaar wees en jou naam sal hy altyd onthou… en ook so aan al die mense wat hul harte oopgemaak het vir hierdie man met n gawe.. WELL DONE”’ En Good Luck Henri.

Griki ·

Wat ‘n pragtige storie – ek is sommer hoendervleis en tranerig. Megan, mag God jou so, so baie seën en Henri – alles wat mooi is vorentoe. “Good things come to those who wait.”

Tollies ·

Sjoe Henri dit het jy nie verwag, maar ek glo dit is die deurbraak vir n suksesvolle jy Mag God jou voorspoedig maak en jou paaie in regverdigheid lei.
So ook aan Megan mag God jou voorspoedig wees jy het jouself nie grootgemaak nie

Mielie ·

Absoluut! Trotse Suid AfRiKaNeR. Op die regte tyd op die regte plek, Hy het n hand hier in gehad. Amazing. God is goed.

Pieter Duvenage ·

Ek weet nie of Megan die Here ken nie, maar dit is duidelik dat sy na Hom luister. As ek Deutronomium 24 en Matteus 25 lees, wéét ek sy doen die regte ding! As elkeen wat kan, net sal help om die wat wíl werk te bemagtig, sal ons die Here se seën ervaar! Wees gehoorsaam, selfs al maak ons some oordeelsfoute! Dankie vir mense soos Megan wat die regte ding doen. So kan ons ‘n verskil maak! So kan Henry ‘n neer sinvolle bydrae leer en iemand anders sy ou werk as petroljoggie kry. Een swaeltjie maak nie somer nie, maar elke bietjie help!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.