Van plakkershut na ikoon: ‘21 Icons’ vereer Terry Pheto

Die aktrise Terry Pheto. Foto: Verskaf/Gary van Wyk

Die aktrise Terry Pheto. Foto: Verskaf/Gary van Wyk

Die aktrise Terry Pheto is onlangs aangewys as een van die uitsonderlike Suid-Afrikaners wat in die 21 Icons-minireeks op TV vereer word.

Hoewel die aktrise bekend is vir haar hoofrol in die fliek Tsotsi, wat in 2006 die Oscar gekry het vir die beste buitelandse rolprent, is sy ook aktief betrokke met vervaardigingswerk, onder meer aan die fliek Asanda wat onlangs internasionaal versprei is.

Dié aktrise is in 1981 in die informele nedersetting Evaton gebore en het tot op die ouderdom van 19 saam met familie in ʼn plakkershut gewoon. Nadat sy Soweto toe verhuis het om by ʼn gemeenskapsdramagroep aan te sluit, het sy meer betrokke geraak by akteurswerk. ʼn Jaar se deelname aan oudisies het haar die rol in Tsotsi besorg.

“Ek het altyd ʼn brandende begeerte gehad vir meer. Daardie begeerte bestaan vandag nog. Selfs al kon ek nie na die beste skole gaan nie, het dit my nooit verhinder om te leer nie. Dit is ook die rede dat ek kon sukses bereik,” vertel sy.

Die derde seisoen van die 21 Icons fokus op die toekoms van Suid-Afrika en bring opnuut Suid-Afrikaanse “ikone” in die kollig. Die doel van dié reeks is om Suid-Afrikaanse uitblinkers met ʼn ongewone agtergrond en wat positiewe verandering in jong mense se lewe kan aanmoedig in die kollig te plaas. Die episode toegewy aan Pheto is ʼn gesprek tussen die Suid-Afrikaanse fotograaf, Gary van Wyk, wat die foto’s geneem het en die vervaardiging behartig het, en Pheto self.

Sy is gekies om deel van dié reeks te wees vir die vordering wat sy in haar loopbaan gemaak het ten spyte van haar omstandighede en struikelblokke wat haar in die gesig gestaar het, asook vir die impak wat sy het in die Suid-Afrikaanse televisie- en rolprentbedryf.

Sy word ook vereer vir haar prestasies. Pheto is in 2015 as ʼn beoordelaar vir die internasionale Emmy-toekennings aangewys en is boonop gekies as die eerste kunste-ambassadeur vir Save the Children South Africa, ʼn instansie wat poog om aan minderbevoorregte kinders goeie onderwys en ontwikkeling te gee.

Pheto sê dit is vir haar ʼn eer om op dié lys te wees. “Alles wat in my lewe gebeur het, het ʼn doel gehad. Lewenservaring verseker dat jy emosionele diepte kry. Ek het in my lewe al verlies ervaar, en ek het al liefde ervaar. Dit het verseker dat ek meer in voeling is met mense. Akteurswerk stel my in staat om konneksies met mense te bou, selfs dié wat ʼn mens nie ontmoet nie.”

Die Suid-Afrikaanse fotograaf Gary van Wyk het as hooffotograaf vir die derde seisoen van die reeks opgetree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.