Van trauma tot heling

 jong-meisie-pixabay-icsilviu.jpg

Foto: icsilviu/pixabay.com

Deur Chandré Oosthuizen

Trauma. Dít is wat die kinders van ʼn “plek van veiligheid” met mekaar gemeen het. Kinderlaggies is min, want die seer lê net té diep.

Dié spesifieke “plek van veiligheid” fokus hoofsaaklik op kinders wat seksuele trauma ervaar het. Nog meer traumaties is dat die kinders wat hier woon almal hangende hofsake het wat soos ʼn donker wolk oor hulle hang. Tog word daar hard probeer om vir die kinders ʼn veilige hawe te skep. ʼn Plek waar hulle geborge kan voel, ondanks wat met hulle gebeur het.

Hoewel die plek van veiligheid ʼn veilige tuiste skep en poog om hierdie kinders te plaas binne ʼn omgewing wat vir hulle bekend is, soos hulle kultuur, geloof en taal, is dit nie altyd maklik nie. Die maatskaplike uitdagings is ongelooflik groot. Die hartseer is dat baie van dié soort plekke van veiligheid so oorvol is en plasings word lukraak gedoen net om te sorg dat kinders so gou moontlik in ʼn veilige omgewing geplaas kan word.

Een van die inwoners is *Hettie. Haar kindwees is van haar af weggeruk en in haar kort lewe het sy al so baie trauma beleef. Hoewel sy uit haar omstandighede geneem is, is sy weggeneem van haar sekuriteit wat sy in haar maats en onderwysers gehad het. Sy bevind haar skielik in ʼn omgewing waar sy nie eens behoorlik kan kommunikeer met die mense om haar nie.

Daar is baie vinnig besef dat Hettie ʼn omgewing nodig het waar sy nie net veilig voel nie, maar ook gemaklik voel. ʼn Plek waar haar helingsproses kan begin.

So het die plek van veiligheid, in samewerking met Hettie, Bemagtig-ʼn-Kind genader. Die aansoek is goedgekeur en Hettie is toe in ʼn Afrikaanse skoolkoshuis geplaas. Hier deel sy ʼn kamer met *Lena. Lena is ook Afrikaans en vinnig word hulle beste maats. Hettie het die koshuislewe aangegryp en in haar geval was dit wat sy nodig gehad het om te begin met die helingsproses. Bemagtig-ʼn-Kind het dit moontlik gemaak dat Hettie in haar moedertaal, geloof en kultuur kan skoolgaan en haarself uitleef.

Met al die trauma wat Hettie al in haar jong lewe beleef het, was dit nodig vir haar om te begin met ʼn helingsproses waar sy kan “deel voel” en net wees. Wat sy nodig gehad het, is die vaste roetine, gesonde verhoudings en dissipline. Sy het ook vinnig ingehaal en akademies vaar sy goed. Sy neem deel aan sport en het begin met musieklesse. Haar groot droom is om te gaan studeer ná skool. Daarom werk sy ekstra hard. Sy voel sy behoort, het ʼn doelwit en ʼn kans op ʼn beter lewe.

Met al die trauma wat sy ervaar het, gaan die pad vorentoe allesbehalwe altyd maklik wees. Met die geleentheid wat sy gekry het, het sy egter ʼn kans om tog so bietjie van ʼn normale jeug te ervaar.

Om vir kinders soos Hettie die kans op bestendigheid te gee, is een van die grootste doelwitte van Helpende Hand se Bemagtig-ʼn-Kind-projek. Hierdie koshuis-geleentheid skep struktuur en bied ʼn veilige tuiste, iets wat elke kind moet hê. Die trauma en seer word dus holisties aangeraak, sodat kinders binne-in ʼn gesonde gemeenskap kan ontwikkel en groei.

As jy vandag hier lees en wil help, besoek gerus www.bemagtignkind.co.za of SMS die woord KIND na 45763 (SMS kos R2). Jy kan vandag ʼn verskil maak – ʼn lewensveranderende, ewigdurende verskil.

  • Hettie en Lena is skuilname wat gebruik is om hul identiteit te beskerm.
  • Chandré Oosthuizen is ʼn maatskaplike werker by Helpende Hand wat fokus op sentrums, nasionale takke en die Bemagtig-ʼn-Kind-fonds.
bemagtig-n-kind.jpg

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.