Van twee potte tot sestig: ‘Konfyttannie’ Ina Lessing vertel

Danie en Ina Lessing (Foto: Verskaf)

Ina Lessing, Nylstroom se konfyttannie, kán kook. Almal in die dorp en omgewing besing haar lof in die kombuis. Stap jy by ʼn padstal iewers tussen jou huis en jou vakansiebestemming in, is die kans goed dat jy ʼn botteltjie Ina Lessing-marmelade of ingelegde perskes op die rak gaan sien. In die verspreidingsaanleg in Centurion kreun die rakke onder produkte wat wissel van tradisionele appelkooskonfyt en ingemaakte perskes tot gesofistikeerde produkte soos lietsjie-balsemiek en aarbeistroop terwyl die eintlike kook- en inlegwerk steeds in die hart van die Bosveld op die familieplaas gedoen word.

ʼn Mens sou nooit raai dat dié familie-onderneming uit nood gebore is nie.

Die begin

Ná ’n droogte van elf jaar in Limpopo was Danie en Ina Lessing se saai- en volstruisboerdery in 1996 op ’n laagtepunt. Ina het skoolgehou en selfs die skoolbus bestuur, maar die gesin se finansies was steeds baie knap. Dit was ’n daaglikse stryd om oorlewing om vir vyf kinders brood op die tafel te sit.

Boonop was Ina vasberade om al vyf kinders eendag universiteit toe te stuur. “Volwasse afronding kry jy op universiteit. ’n Mens wil vir jou kinders die geleentheid gee om iets agter hulle naam te kry vir ’n loopbaan,” vertel Ina. Sy was sterk, kordaat, standvastig – ’n kanniedood.

Sy moes eenvoudig ʼn plan maak, sê Ina. As opgeleide Huishoudkunde-onderwyseres was haar kookvernuf en die bestanddele in die veld ál wat sy tot haar beskikking gehad het; en ook al wat sy nodig gehad het. Dié jaar was die veld geil met wilde stamvrugte en kort voor lank het die potte begin prut met die resepte wat sy in haar kop uitgewerk het. Met elke pot konfyt is die vyf orrelpypies se karakter sterker en sterker gevorm. Dink vooruit; wees kreatief; beskerm jou gebied; wees selfvoorsienend.

Personeel (Foto: Verskaf)

Niemand kon lyf wegsteek nie. Die eerste bottels konfyt is aan die plaaslike tuisnywerheid verkoop en tydens die boeremark uitgestal. Die reuse 400 jaar oue maroelaboom op die plaas het vrugte begin dra, en maroelajellie was die volgende projek. Soms het Danie en Ina vrugte van buurplase ontvang en dit verwerk. Op hierdie manier is mangoblatjang gebore. Niemand kon werklik voorspel watter produkte volgende op die rakke sou wees nie, maar Ina het altyd ’n resep in gedagte gehad wat die bottels en beursies sou volmaak. Danie was verantwoordelik vir die haal van bottels, suiker en vrugte om toe te sien dat die plaasproduksie seepglad kon verloop. Almal móés werk.

Bloedsweet

“Jy werk Maandae tot Saterdae. Dit is harde werk, jy is natgesweet, maar jy kan voel hoe die Here jou krag gee vir hierdie werk, want uit jouself kan jy dit nie doen nie,” vertel Ina.

Gelukkig was die Lessing-gesin, kinders inkluis, reeds gewoond aan harde werk toe die onderneming op sy voete begin kom. Geen vakansie was ’n ledige vakansie vir die kinders nie – daar was altyd ’n projek, onthou Ané, die oudste dogter. Op reënerige dae het Ina vroeg-vroeg pannekoekbestellings op die dorp begin insamel. Teen opstaantyd was die kombuis en bestanddele gereed om produksie aan die gang te kry.

(Foto: Verskaf)

Dié “genadeprojek”, soos Ina dit beskryf, was egter ook nie sonder teleurstellings nie. Aan die begin moes hulle intensiewe direkte bemarking self doen. Op ’n keer vat hulle die pad na Pretoria, Hartbeespoort, Brits en weer terug na Modimolle, met ’n kombi wat kreun onder konfytbottels. By elke tuisnywerheid doen hulle aan om konfyt te verkoop, maar nie een bottel verkoop tydens die hele reis nie. Vandag skryf Danie dit toe aan die feit dat hulle onbekend was vir tuisnywerhede en dat winkeleienaars onseker was of die produkte weer bekombaar sou wees.

Genade in oorvloed

Maar mettertyd het Ina Lessing-produkte vir hulself ʼn naam begin opbou wat die produkte vooruitgeloop het: Betroubare, eg Suid-Afrikaanse produkte, met net hier en daar ʼn kinkel om dit interessant te hou. Verbruikers wou seker wees dat hulle keer op keer produkte van hoogstaande gehalte aankoop wat tuisgemaak proe. Dít het die Ina Lessing‑produkte van die res onderskei. En een ná die ander het tuisnywerhede, padstalle en ander winkels Ina Lessing-produkte begin aankoop, het die twee potte konfyt op die plaas drie geword; toe vyf; toe tien… en toe sestig.

“Die besigheid het organies gegroei. Soos die vraag na konfyt groter geword het, het ons meer spasie geskep, nog ʼn stoor gebou, nog ʼn voertuig aangeskaf,” vertel Danie.

Die Lessing-gesin (Foto: Verskaf)

In 2012 wou Ina die besigheid verkoop toe die onderneming in elke opsig uit sy nate bars. Produksie, personeelbestuur, bestellings, logistiek, roetes en verspreiding het in ’n onmenslike groot taak ontaard. Hulle het die droogte van 20 jaar gelede oorleef en in die proses ’n lewe vir die hele gesin geskep. Die taak was afgehandel.

‘n Familiebesighied

Ané, die oudste dogter en ’n onderwyseres in daardie stadium, het die nood raakgesien en wou help. Haar ouers was moeg en oorwerk. Die ander kinders was elders in hulle lewensfases. Ané het besluit om die tuig neer te lê en het ’n aanleg in Centurion gevestig vanwaar die bemarking en verspreiding hanteer kon word. “Dit is moeilik om iemand wat nie deur die breiproses is nie, deel te maak van die besigheid. Ons besigheid se samestelling is baie uniek en enig in sy soort,” vertel Ané.

Die volgende fase van die besigheid het aangebreek en stelsels om groot volumes produkte te kon hanteer, moes byna oornag in bedryf gestel word. Nuwe produkte soos beskuit en koekies is ontwikkel en die fondament vir toekomstige besigheidvertakkings is gelê. Natan, die enigste broer in die gesin, en sy vrou Neriché het intussen hulle onderwysposte verlaat en Natan is sedert 2015 besig om die produksie-leisels by sy ouers in Modimolle oor te neem, wat verdere verligting vir die Lessing-egpaar bring. Neriché is in beheer van die plaas se bakkery.

Die konfytfabriek (Foto: Verskaf)

Perske-, vye- en appelkoosprodukte is natuurlik ononderhandelbaar vir enige volwaardige inleg- of konfytbesigheid. Maar dié vrugte bring sy eie uitdagings: vir die beste resultate moet dit verwerk word op dieselfde dag wat dit geoes word, vertel Ané. Daarom word die hele produksiefabriek – stowe en kastrolle inkluis – elke jaar in Desember opgepak en op vragmotors Kaap toe vervoer, en al die produksiepersoneel met ’n bus aangery na ’n plaas waar ’n tydelike fabriek opgerig word om perskes, vye en appelkose te verwerk.

“Vir vier of vyf weke is dit klippe kou. Ons kook in dié tyd sowat sewentigduisend bottels konfyt. Ek weet nie van enige ander besigheid wat soos ons s’n bedryf word nie,” sê Ané.

Die jongste sussies, Jana en Nicolet, het albei 11-maande kontrakte by hulle werkgewers onderhandel om elke jaar in Desember beskikbaar te wees vir die Kaapproduksie. Vir dié maand is elke lid van die Lessing-gesin ’n bestuurder. Personeeluitdagings vier gewoonlik hoogty gedurende hierdie tyd en die belangrikste doel voor oë is om almal gefokus te hou. Om seker te maak die personeel funksioneer op hulle beste en ʼn positiewe atmosfeer heers, versamel Ané en haar familie reg deur die jaar oulike pryse waarmee hulle gedurende Kaapproduksie personeelkompetisies hou. Op ’n rusdag in die Kaap word personeel ook met ’n see-uitstappie bederf. Vir baie is dit die eerste keer wat hulle die see sien. En op dié manier word die moraal so hoog as moontlik gehou.

Die moeite werd

Die Lessings (Foto: Verskaf)

“’n Familiebesigheid is kompleks. Dit is nie net besigheid nie. Daar is ’n dik streep emosie en jy moet óm dit werk,” se Ané.

Sy en Natan werk as ’n gedugte span saam. Hulle het as kinders die fondament vir Ina Lessing Konfyte en Ingemaak help vestig, en daarom ken hulle die besigheid soos die palm van hulle hand. Hulle verstaan die waardes waarop die besigheid gebou is en die emosionele pad wat hulle ouers moes stap om dit so ver te kon bring.

Danie en Ina voel vandag dankbaar dat hulle kinders as’t ware kom oorneem het. Die Lessing-egpaar is op die drumpel om alle take oor te handig en ’n nuwe lewe te begin. Hulle smag na ’n vakansie wat in 20 jaar nie vir hulle beskore was nie.

“Ek wil van ’n afstand af kyk hoe die besigheid blom en verder wil ek alles doen wat my kleinkinders vra,” sluit Ina af. Soos ʼn gewone mens, op pad na haar vakansiebestemming, by ʼn padstal instap en ʼn botteltjie Ina Lessing-ingemaak van die rak afhaal om vanaand ná die braaivleis saam met vla te geniet.

Só ʼn bek kort jêm.

Kry Ina Lessing se maaskaastert-resep hier.

 

*Ina Lessing Konfyte en Ingemaak vervaardig en versprei konfyte, jellies, slaaie, slaaisouse, blatjang, ingemaakte vrugte, piekels, strope, koekies en beskuit. Besoek www.inalessing.co.za
Ina Lessing is vereer met verskeie toekennings:

·         Sanlam/Landbouweekblad Vroue-entrepreneur van die jaar 2014

·         VLU-Noord Persoonlikheid van die jaar 2018

·         Kokanje Aftree-oord Persoonlikheid van die jaar 2019

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

E.K. die eerste ·

Mense kla so maklik omdat hulle sukkel. Kyk net wat het Ina vermag! Ek salueer jou! Jy is werklik iemand om op trots te wees en ‘n voorbeeld vir BAIE. Jy verdien sommer hele paar medaljes!

MH ·

Hulle het vreugde gebring na my eetkamer. Ek kan nie meer die geblikte goed eet wat deesdae op die winkelrakke is nie. Mag julle lank so voortgaan.

ANNALIE ·

Dankie aan Ina vir haar en haar familie se heerlike koekies en konfyte. Ek bak nie weer koekies nadat ek met haar baksels kennisgemaak het nie.

Henk Stander ·

Ons hoop Oom en Tannie geniet die vanaksie onbeskryflik baie!

Welgedaan!

AB ·

Die spreekwoord sê mos: ‘n Boer(vrou) maak ‘n plan! Welgedaan Ina en jou gesin – Afrikaneradel op sy beste!

Agie ·

Dit wat hier voor reeds geskryf is kan ek jubelend beaam. Wanneer ek die rakke sien kreun van Ina Lessing produkte kan ek dit nie weerstaan nie. Baie dankie aan elkeen van die Lessing gesin en elke personeellid. Ons Suid-Afrikaners is absoluut geseën !!!!! Dankie Vader?

Tommie ·

Bravo Ina!! Dit is `n uitsonderlike voorbeeld van hardwerkendheid en deursettingsvermoë. Dankie vir julle heerlike produkte. Geniet die vakansie, julle verdien dit!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.