Van wankelrige begin tot toekoms vol hoop

 helpende-bemagtig-kind-pixabay-04.jpg

Foto: pixabay.com

ʼn Klein pienkvoet, skaars twee maande oud, is een aand by haar ouma en oupa afgelaai. Haar babageluidjies het haar ouma en oupa se huis gevul. Die liefde wat slegs ’n kind kan betoon was dieselfde liefde wat steeds heers, ten spyte van al die seer en twyfel wat jare later sou volg in haar onskuldige kinderhart. Die hoop dat “mamma eendag sal terugkom” het begin kwyn, maar Klara se gees en menswees het begin groei, en sy het almal rondom haar gewys wat werklik in haar steek.

Klara het grootgeword op ’n klein plattelandse dorpie waar sy kind kon wees onder toesig van haar ouma en oupa. Hulle is haar voogde en Helpende Hand en Maroela Media het die nodige ondersteuning gebied wat die gesin (grootouers en Klara) nodig gehad het.

Klara ken nie haar pappa nie en weet nie waar in die wêreld hy homself tans bevind nie. Met ʼn pappa wat afwesig is en ʼn mamma wat haar agtergelaat het as baba, kon Klara ʼn heeltemal ander lewe kies – een van hartseer en sonde. Sy het egter ʼn ander lewe gekies: Sy is ’n absolute pilaar van hoop en ʼn bewys dat ongeag die verlies wat jy deurmaak, daar altyd ʼn pad van hoop is.

Op die dorp waar Klara grootgeword het, was daar nie ʼn Afrikaanse hoërskool nie en Klara moes die naaste dorp se Afrikaanse skool bywoon. Helpende Hand en Maroela Media se Bemagtig-ʼn-kind-projek het verseker dat Klara geplaas word in ’n koshuis waar sy kon leer en waar sy veilig en gelukkig kon wees. In die koshuis kry sy elke dag ontbyt, middag- en aandete. Die Bemagtig-ʼn-kind-projek help ook vir Klara om elke Vrydag huis toe te gaan om by haar ouma en oupa te wees en dan weer Maandag terug skool toe te gaan, waar sy ook weer haar sport en kultuur kan beoefen. Klara word ook vanuit die naaste Helpende Hand-tak bygestaan met items wat alle meisies nodig het.

Vyf jaar lank stap ons ʼn pad saam met Klara; vyf jaar lank is ons geseënd met haar sprankelende persoonlikheid. Klara is ’n gebalanseerde kind wat lief vir haar skoolwerk en mense is. Baie mense beskryf Klara as iemand wat “die lewe nie sommer kan onderkry nie”.

 helpende-bemagtig-kind-pixabay-03.jpg

Foto: pixabay.com

Terwyl ek skryf, staan my gedagtes voor die deur die aand toe Klara by haar ouma en oupa se huis afgelaai is in haar babakombersie. My hart huil saam. Ek sien die trane wat vloei, en ek voel die twyfel en hartseer wat sou volg. Maar dan sien ek ook vir Klara wat jare later ontwikkel het in ʼn jong vrou om op trots te wees. ’n Sonskynkind wat saam met God haar eie pad stap en haar weg oopsien waar ook al sy gaan. Ek sien Helpende Hand-vrywilligers wat elke dag saam met haar hierdie pad stap, en ek weet in my hart, opreg, dat Klara uit die armoedeketting sal ontsnap; sy gaan kleur bring aan die nag wat oor haar lewe geheers het.

’n Kind is nie veronderstel om deur hierdie onstuimige oseane te gaan nie; ’n kind moet ʼn kind kan wees. Sy het nie hierdie omstandighede gekies nie, maar Helpende Hand en Maroela Media het gekies om te help. Talle mense het gekies om haar te kies en haar te bemagtig.

Klara is nou in haar matriekjaar. Haar rapportpunte lyk puik, en sy is ’n sagte, liefdevolle jong vrou. Klara-kind die lewe lê oop voor jou. Sy het reeds aansoek gedoen om te gaan studeer, haar droom is om ʼn arbeidsterapeut te word. Hier sal ons nie vir Klara agterlaat nie, ons sal haar deur Helpende Hand se Studiefondssentrum help om haar drome te verwesenlik – ons sal saam met haar die pad vorentoe aandurf, met hoop en genade van bo.

Eendag as ek heelwat ouer is, en ek kyk terug op Klara en haar lewe, kan ek gerus wees dat ons ’n verskil gemaak het, ’n volhoubare verskil. Kaalvoetkind-Klara kan nou vry hardloop op die velde van die lewe, want die wêreld wat sy gekies het om in te leef, is die wêreld waar sy geseënd sal wees.

helpende-bemagtig-meisie-gelukkig-pixabay-06.jpg

Foto: pixabay.com

Hierdie verhaal kon ʼn ander uitkoms gehad het, as die gemeenskap nie saamgestaan en geld aan die Bemagtig-ʼn-kind-projek voorsien het nie. Sonder die gemeenskap sou Helpende Hand nie kon intree en help nie. Hierdie is ʼn besonderse voorbeeld van ʼn gemeenskap wat saamstaan om mekaar te help.

Dankie weer eens aan elke persoon wat aanhou om skenkings aan die Bemagtig-ʼn-kind-fonds te maak.

As jy hierdie artikel lees, en jy wil en kan ook help, besoek gerus ons webwerf, sluit aan as ʼn ondersteuner of SMS die woord KIND na 45763 (SMS kos R2) en help ons om kinders te bemagtig.

Jy kan vandag ʼn verskil maak – ʼn lewensveranderende, ewigdurende verskil.

*Klara is ʼn skuilnaam wat gebruik word om die identiteit van hierdie dogter te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.