Van webwerf tot steun aan wildreservate met renosters

ER24-noodhulp-01

Wildbewaarders van die Nasionale Krugerwildtuin, wat afdeling-veldwagters en die lugvleuel insluit, het onlangs ER24 se taktiese noodhulpkursus voltooi. Foto: Verskaf.

StopRhinoPoaching.com het onlangs 205 wildbewaarders van die Nasionale Krugerwildtuin toegerus met opleiding in taktiese noodhulpvaardighede.

Die bewaarders het ook 145 gespesialiseerde noodhulpkissies ontvang wat spesiaal toegerus is om skietwonde te behandel en ernstige bloedverlies te voorkom. Dit is moontlik gemaak deur ER24-nooddienste, die radiostasies Jacaranda FM en CTM en die mediese verskaffingsmaatskappy MedDev.

Volgens Elise Daffue, direkteur van StopRhinoPoaching.com, is daar nou vir die eerste keer wildbewaarders met taktiese noodhulpvaardighede regdeur die hele wildtuin beskikbaar. “Vroeër vanjaar het ʼn renosterstroper ʼn wildbewaarder van die Krugerwildtuin geskiet. Gelukkig het die betrokke wildbewaarder en sy kollegas ʼn ER24-noodhulpkursus bygewoon en kon hulle die wond behandel. Hulle het ook die regte noodhulpkissie by hulle gehad en dit het die wildbewaarder se lewe gered,” sê Daffue.

StopRhinoPoaching.com se doelwit

StopRhinoPoaching.com is in 2010 gestig en was aanvanklik bedoel om ʼn onafhanklike webwerf te wees wat bewusmaking oor renosterstropery moes skep. “Ek het ʼn gevoel gehad ek moet net iets doen vir renosters veral omdat daar toe relatief min inligting oor stropery beskikbaar was. Die webwerf, wat eers net gefokus het op inhoud en bewusmaking, het vinnig verander in ʼn voltydse verantwoordelikheid wat bestaan uit die bestuur van donasies en ondersteuning aan wildreservate met renosters,” vertel Daffue.

Die organisasie het opleiding van 420 wildbewaarders en 50 reservaatbestuurders geborg en ʼn totaal van 29 honde is opgelei wat renosters beskerm en ʼn verdere vier ontvang tans opleiding.

ER24-noodhulp-02

Opgelei en gereed. Van die wildbewaarders wat opleiding ontvang het saam met ER24 se personeel. Foto: Verskaf.

Nog iets wat Daffue baie na aan die hart lê is ʼn welstandsprojek wat omsien na die sielkundige welstand van wildbewaarders en hulle gesinne. “Hierdie projek help bewaarders om hulle stresvlakke te beheer en uitbranding te voorkom.” Volgens Daffue het die wildbewaarders soldate geword wat renosters moet beskerm teen swaar gewapende stropers. “Stropery is dikwels iets wat ʼn wildbewaarder emosioneel laat, veral die gewelddadigheid van sommige stropers se dade. Jy gee baie van jouself en kom na aan die mense wat saam met jou die geveg teen renosterstropery voer,” sê Daffue.

Samewerking maak ʼn verskil
Daar is geen vinnige korttermynoplossing vir Suid-Afrika se renosterstropery nie. “Dit is genadeloos en dit is hier om te bly. Die werklikheid is dat ons renosters geteiken word deur georganiseerde sindikate – misdadigers met goed ontwikkelde netwerke. Renosterhoring is vir hulle net nog ʼn kommoditeit waarmee jy ʼn klomp geld kan maak. Om ʼn verskil te maak gaan beteken dat verskeie mense op verskillende vlakke op die langtermyn betrokke moet raak om die probleem op te los.”

Daffue sê die toename in renosterstropery van 2008 tot 2014 is skrikwekkend. Volgens haar was die effens afname in statistiek in 2015 ʼn gekoördineerde poging tussen reservate en investering in ‘n bewaringstrategie. “Hoewel dit maar ʼn klein oorwinning was, het dit gewys dat as mense bereid is om saam te werk, daar wel ʼn verskil gemaak kan word.”

ER24-noodhulp-03

Peter van der Spuy, ʼn algemene bestuurder van ER24-nooddienste, lewer ʼn demonstrasie tydens die opleiding van die Nasionale Krugerwildtuin se wildbewaarders. Foto: Verskaf.

Ondersteuning en befondsing

StopRhinoPoaching.com het tot op datum meer as R12 miljoen vir die bewaring van renosters ingesamel. Daffue het Jacaranda FM se Martin Bester en Barney Simon en die radiostasie se luisteraars geloof vir hul ondersteuning. Sy het ook haar waardering uitgespreek van die opleiding wat ʼn maatskappy soos ER24 aan die wildbewaarders bied.

“Daar is geen beter gevoel as om die hand te skud van ʼn wildbewaarder wat pas opleiding ondergaan het nie. ʼn Mens sien die dankbaarheid en hulle gevoel van prestasie met die wete dat jy ʼn rol hierin gespeel het. Dit is dié soort motivering wat deur skenkers se ondersteuning geskep word en dit is ongelooflik. Baie dankie aan ER24 en al die borge wat dit moontlik gemaak het. Daar sal beslis nog soortgelyke kursusse aangebied word,” het Daffue afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.