Vastfontein het jóú stem nodig om leersentrum op te rig

Foto: Facebook via Vastfontein Community Transformation

Foto: Facebook via Vastfontein Community Transformation

Die niewinsgewende organisasie Vastfontein Community Transformation net buite Pretoria is onlangs aangewys as een van die finaliste van die R150 000-prysgeld wat deur die internasionale organisasie Fluor geskenk word vir gemeenskapsopheffing.

Maroela Media het vroeër berig die sussies Chrisna en Rolindi Devenish het ʼn wegbreekvakansie vir 18 kinders van dié sentrum gereël aangesien die kinders wat permanent hier in pleegsorg is baie selde die geleentheid kry om uit hul onmiddellike omgewing weg te kom.

“Fluor, ’n Fortune 500-maatskappy wat wêreldwyd projekte vir diverse kliënte bestuur, het ʼn internasionale gemeenskapsprojekfonds waaruit hulle jaarliks 10 projekte van oor die wêreld finansier met ʼn skenking van $10 000 elk. Die idee is om behoeftige gemeenskappe internasionaal op te hef, en dit werk op ʼn nominasiegrondslag,” het Chrisna verduidelik. “Vastfontein en die projek wat ons graag sou finansier, is genomineer, en toe deur Fluor aangewys as een van die 30 finaliste.”

Hoewel daar 11 inskrywings uit Suid-Afrikaanse bodem was, is Vastfontein nou die enigste Suid-Afrikaanse finalis.

Chrisna vertel hulle beplan om ʼn mediasentrum vir die kinders op te rig. “Dit is al ʼn jare lange droom by die skool om so ʼn sentrum te hê om die kinders te help, so ons kon baie spesifiek wees met wat ons voorgelê het. Daar sal ʼn biblioteek en ʼn lees- en studiegedeelte, rekenaar met internettoegang, multimedia-geriewe, nuwe boeke, opvoedkundige DVD’s, en meer wees,” het sy gesê.

Dié sentrum sal ook uiteindelik bydra tot die kinders se prestasie. “Die sentrum sal die onderwysers in staat stel om hul leerprogramme aan te vul sodat die kinders beter kan vaar op skool. Laas jaar het 15 van die outjies akademies goed genoeg gevaar om van preprimêr op te skuif na groot skool, so dis vir ons belangrik dat hulle al die geleenthede kry wat hulle verdien.”

Jy kan aanlyn vir Vastfontein stem deur die Fluor-webwerf te besoek. Besoek ook Vastfontein se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eliza-beth ·

Gaan beslis stem – as dit vir ‘n bib is is ek ALTYD daar om my stem in te gooi!

Eliza-beth ·

Pas gestem – so maklik soos net ‘n klik! ai ek hoop ander Maroela lesers doen ook – laat kinders tog net geletterd raak en toegang tot boeke kry!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.