Vat die lewe soos Vaalie die see vat

california-1751455_1280Ons “Vaalies” word maar lekker gespot oor Desember, met ons wit kantoorlyfies en ons reën-of-weer-ons-gaan-swem-malligheid, maar leer nou iets van die lewe uit ons Gautengers se benadering tot die see: ons wag nie vir more nie!  Tyd is min!  Ons geniet vandag en ons gaan voluit!  Die plaaslike mense, wat alles gewoond is, kla oor “die wind wat alweer nie reg waai nie” en “jy gaan in elk geval nie parkering by die see kry nie”, “ag en jy het nou ʼn swembad by die huis en hoekom sal jy 20 minute afry see toe..”. en dan gaan hulle nooit!  Ek het nege jaar in Port Elizabeth gewoon voordat ek na Johannesburg verhuis het en in daardie nege jaar was ek een keer met my voete op die sand wat nog van in die see… Want die see is mos maar daar en more is nog ʼn dag.

Maar nou is ek ʼn volbloed Vaalie en ons gáán see toe! Elke dag! Ons gee nie om of dit bewolk is of reën nie, te veel mense of te ver loop nie, want ons is nóú hier, in hierdie oomblik by die see – een van die min dinge waarvoor jy nie eens toegang hoef te betaal nie en vir ʼn Gautenger, wat nie sy voet by die deur kan uitsit sonder om iets te betaal nie, is dit groot!  Jy daag net op, hol oor die warm sand, gooi jou handdoek besitlik oop op jou lappie aarde wat vir hierdie rukkie aan jou behoort, skuif dalk die kos in die koelte, spuit of smeer gou ʼn blob sonskerm en hardloop resies tot in die altyd net-reg water!

Julle moet maar dink wat julle wil, maar die Vaalies kry dit reg om selfs die alles-gewoond-woon-by-die-see-kinders te kry om dit, wat hier onder hulle neuse is, 365 dae in die jaar, meer te gebruik en geniet, want ons tot-in-ons-kleintoontjie-geniet van die son en see en sandkastele trek jou in en saam soos daardie einste ordentlike brander wat jou onderstebo slaan dat jy volgende jaar nog sand in jou ore sal hê!

Hier is dus my gedagte aan die begin van 2017:  Die lewe is kort!  Die lewe is lekker!  “Vat die lewe voluit soos ʼn Vaalie die see vat!”

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Arrie ·

Maar dan gaan al jou geliefdes huistoe, iemand steel jou handdoek en die son brand jou, die sand looi jou vel en die skerp klippe sny jou voete, jy is moeg en die see is nie meer lekker of mooi nie, en jy wil regtig ook net huistoe gaan.

Pietser ·

Fantasties, veels geluk en maak die beste daarvan. Ek woon in Kaapstad sowat 7km van die naaste strand en kom omtrent nooit by die see nie. Dis ‘n skande om nie jou seeninge te tel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.