Veearts trotseer koue hondehokke vir DBV

Dr. Nolan Landman in die hondehokke van die Witbankse DBV. (Foto: Verskaf)

ʼn Veearts van eMalahleni (Witbank) het Maandagaand die eerste nag van ʼn marathon inslaap-uitdaging in die hondehokke van die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) op dié dorp deurgebring.

Die inslaap-uitdaging is ʼn inisiatief wat van stapel gestuur is om geld in te samel vir die DBV op die dorp, en om die publiek aan te moedig om ʼn liefdevolle huis aan die troeteldiere te gee wat tans by die DBV gehuisves word.

Dr. Nolan Landman van die Witbank-veeartsenyhospitaal en Liz Oberholzer, ʼn komiteelid van die Witbank DBV, sal vir die volgende sewe nagte nog elke aand in die hondehokke slaap.

Carika Roux, tesourier van die DBV in Witbank, sê die idee was dat Landman en Oberholzer vir elke R5 000 wat ingesamel word, ʼn nag in die koue op kartonbokse en komberse saam met die honde in die hokke slaap.

Tot dusver het hulle genoeg geld ingesamel om hulle nog sewe nagte in die hokke te laat slaap. “Die inperking het ons almal geraak, en die DBV se donasies het baie afgeneem. Ons het probeer om virtuele geldinsamelingsgeleenthede aan te bied, maar dit was nie eintlik suksesvol nie,” sê Roux.

Die skenkings wat hulle tot dusver gekry het, kom van individue, sakeondernemings in die omgewing asook ʼn ander plaaslike veearts. “Hy wou graag sien hoe Nolan in die hondehokke slaap. Dit word alles aangepak met pret in die oog,” sê Roux.

Liz Oberholzer (middel) en dr. Nolan Landman tree aan vir die eerste nag in die hondehokke. By hulle is Natalee Pretorius, die skuilingbestuurder, wat hulle in haar nagklere kom ondersteun het. (Foto: Verskaf)

Die publiek kan ook regstreeks inskakel wanneer Landman en Oberholzer in die hokke is om te sien waarmee hulle doenig is.

“Dit was bitter taai. Dit is baie koud en die sement is baie hard. Ek kon nie glo hoe koud dit geraak het nie; rondom 04:00 was dit die ergste,” het Landman emosioneel op Facebook gesê oor die eerste nag in die hondehokke.

“Omstreeks 03:00 het een van die hondjies bibberend na my toe gekom. Sy het onder die komberse ingewikkel en langs my gelê en bewe. Dit het my hart gebreek om te dink aan die ander honde in die skuiling wat nie liggaamshitte kon kry nie. Die eerste nag het my ʼn nuwe perspektief gegee en net werklik benadruk hoe baie die diere ons hulp nodig het.”

Volgens Roux probeer hulle die inslapers opbeur deur elke aand vir hulle ʼn taak te gee wat voltooi moet word en deur hulle te bederf met warm sjokolade, gekookte etes en soetkoekies in die vorm van hondekoekies vir ontbyt.

“Ons wil hê die publiek moet ook die inslapers kom ondersteun en sodoende die diere ontmoet. Net dalk raak hulle verlief op een van die diere en kan ons vir hulle ʼn huis gee. Dit sal ook wonderlik wees as ons ander takke van die DBV kan aanmoedig om dieselfde inisiatief te volg,” sê sy.

Besonderhede oor hoe om ʼn skenking te maak is hier beskikbaar. Vir skenkings kontak die Witbank DBV by 013 650 2321.

Posted by Nolan Landman on Monday, July 6, 2020

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarel ·

Kyk hier is ons regte helde….nie die misdadigers wat deur sommige lede van die gemeenskap ge eer word nie.
Dankie vir julle

Sandy ·

Ek het my woefer by die DBV in Middelburg aangeneem. Die mense wat daar werk kort net vlerke – want hulle is engele. Asb ondersteun julle plaaslike DBV. Daardie diere verdien almal ‘n warm bedjie, liefde en kos. Dit is AL wat hulle vra. In ruil kry jy onvoorwaardelike liefde elke dag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.