Veeveilings nou met klik van muis gedoen

Beeswinkel: ‘n Splinternuwe digitale platform vir aanlyn veilings. (Foto: Verskaf)

’n Splinternuwe digitale platform vir aanlyn veilings, Beeswinkel, het Dinsdagaand geskiedenis gemaak toe 1 000 speenkalwers in minder as 20 minute op dié internet-veeveiling verkoop is.

Petrus van Heerden, direkteur van Beeswinkel, sê dié veiling is die produk van maandelange intensiewe beplanning om van dié veiling ʼn sukses te maak. Volgens Van Heerden is Beeswinkel die eerste voltydse aanlyn verhandelingsplatform waar kopers en verkopers van lewende hawe regdeur die jaar met die druk van ’n knoppie vee kan aankoop en verkoop.

Kopers landwyd het gister vanaf 14:00 die geleentheid gehad om die speenkalwers, wat in agt verskillende lotte aangebied is, te koop. Van Heerden het trots vertel dat ongeveer 600 deelnemers aan dié veiling deelgeneem het en selfs mense van Sjina en die VSA die webtuiste besoek het.

Van Heerden sê dié platform bring ʼn radikale verandering in die manier hoe lewende hawe in Suid-Afrika verhandel word. Afgesien van speenkalwers, kan kopers en verkopers van lewende hawe ook enige vee, wat slegs volgens gewig verhandel kan word, verwag.

“Ná die bek-en-klouseer-uitbraak het die stoorlam-pryse ontsettend gedaal en met Beeswinkel is daar geen middelman in die koop- en verkoopproses nie. Dit beteken ook dat die boer – indien hy Beeswinkel gebruik vir sy aankope en verkope  – nie so erg geraak word deur hierdie finansiële krisis nie.”

Van Heerden glo dat Beeswinkel ’n bewys is dat tegnologie ’n uitmuntende toevoeging tot enige boerdery is. “Suid-Afrika se lewende hawe-produsente kan nie genoeg kry van Beeswinkel nie en veral die jonger garde wat ’n passie het vir boer, is mal oor die sosiale media‑nuus en interessante brokkies wat gedeel word,” verduidelik hy.

“Die sukses van hierdie veiling is van onskatbare waarde vir die huidige kopers en verkopers van lewende hawe. Nie net kan ons sien dat ’n tegnologiese deurbraak vir boere gemaak is nie, maar ook dat die belangstelling daar is en dat die veilingproses nou baie eenvoudiger is.”

Hy sê die doeltreffendheid van hierdie konsep lê daarin dat hierdie platform voerkraaleienaars se lewens gaan vermaklik deurdat hulle nie hulle plaas, werk of huis hoef te verlaat om na ’n veiling toe te gaan nie.

“Om ’n nuwe toevoeging tot jou voerkraal te maak of om jou lotte te verkoop, was nog nooit so maklik soos met die gebruik van hierdie elektroniese platform nie.”

Besoek die webtuiste by www.beeswinkel.co.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.