Deur Yolanda Wessels
In 2016 het Nick Dreyer en Ross Zondagh na die openingseremonie van die Olimpiese Spele in Rio gekyk en ʼn idee het posgevat: Wat kan Suid-Afrikaanse atlete dra wat die kleur en gees van die land beter verteenwoordig?
In minder as vyf jaar het Veldskoen van ʼn klein sakeonderneming op die internet gegroei tot ʼn wêreldwye handelsmerk, en die kersie op die koek is dat dié vellies deur die Suid-Afrikaanse atlete by die Olimpiese en Paralimpiese Spele in Tokio gedra is.
Ross het ʼn paar vellies voorgestel omdat dit ikoniese Suid-Afrikaanse skoene is. Dreyer se gevoel was dat tradisionele vellies nie juis as modieus beskou word nie. So het die twee oor maniere begin gesels waarop hul ons “nasionale skoen” meer aantreklik kon maak. Die eindresultaat was skoene met helderkleurige sole en veters en vandag is dit Veldskoen se handelsmerk.
Om te help dat die skoene vandag die hele aardbol bewandel, het die entrepreneurs die verbeelding en vaardighede van Nic Latouf, ʼn ou skoolvriend en digitale bemarkingsgenie, ingespan. Sy vindingryke internetbemarkingsvaardighede het spoedig ʼn sterk aanlyn voetspoor geskep wat gehelp het dat Veldskoen vinnig die Suid-Afrikaanse grense oorgesteek en wêreldwyd gedra word. In 2018 het Veldskoen, met behulp van plaaslike beleggers, die internasionale uitbreidingsplanne ondersteun en in 2019 het Veldskoen die oog van internasionale vermaaklikheidsbeleggers Marck Cuban en Ashton Kutcher gevang. ʼn Been van die sakeonderneming is gevolglik in die VSA begin.
Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (SASCOC) het Veldskoen die amptelike van-die-veld-af-skoen vir Suid-Afrikaanse atlete by die Olimpiese en Paralimpiese Spele gemaak en is vanjaar tydens die Olimpiese openingseremonie in Tokio gedra. Barry Hendricks, president van SASCOC, het Veldskoen verwelkom en het gehelp om te verseker dat ons land se atlete hierdie plaaslike handelsmerk internasionaal bekendgestel het. Sodoende is ons nasionale trots ten toon gestel en die gees van ons Suid-Afrikaners gedeel.
Ross Zondagh sê alles is nog vir hom surrealisties. Nick het ʼn video op Facebook gesit wat Suid-Afrikaners gevra het hoe ons met SASCOC in kontak kon kom, want ons wou hê die atlete moes in Veldskoen-skoene by die openingseremonie uitstap. Nick het die volgende dag ʼn oproep van Ravi Naidoo gekry waar hy gesê het: “Ek hoor jy is op soek na my…” Veldskoen het begin in ʼn oomblik van nuuskierigheid; ʼn droom. Ons klein droompie het by die Olimpiese Spele tydens die openingseremonie uitgestap vir die hele wêreld om te sien.”
Hul skoenreekse sluit die oorspronklike Heritage-reeks in wat suede skoene is, maar hulle het al na ander soorte leer en style ook uitgebrei. Al die leer wat gebruik word, is afvalleer van vleisprodukte, dus herwin hul boonop met elke paar skoene wat hul vervaardig. Hulle gebruik ook sover as moontlik plaaslike materiale en die skoene word in Durban vervaardig. Hulle is daarop gefokus dat die vervaardiging van hul skoene Suid-Afrikaners moet baat deur werk te skep en die plaaslike ekonomie te stimuleer.
Op 12 September het Eight Feet se bekendstelling plaasgevind. Dit is ʼn vennootskap tussen Veldskoen en die Du Toit-broers, Pieter-Steph, Johan, Anton en Daniel. Johan vertel dat dit alles gebeur het deur gemeenskaplike familiewaardes ná die ontmoeting op Kloovenburg. “Ons almal het van die begin af gemaklik gesels asof ons mekaar al jare lank ken. Ons grootste droom was nog altyd om iets unieks te begin onder die Eight Feet-handelsmerk waarop ons almal trots kan wees. Die Veldskoen-familie het egter oor ons pad gekom en ons het die geleentheid aangegryp. Ons het ʼn heerlike tyd saam gehad tydens die beplanning en ontwerp van die skoen.”
Die idee waarom dit Eight Feet heet, is baie oorspronklik. Dit simboliseer die vier broers se voete en hoe hulle die wyn saam met hulle pa getrap het. Dit kom van jare terug af toe die Du Toit’s na ʼn nuwe naam vir hul wyn op soek was. Dié wyn het die vier broers saam met hul pa gemaak en hul ma, Annelene, het met die baie oorspronklike naam van Eight Feet na vore gekom. Dit is die vier broers se handelsmerk waaroor hulle almal baie opgewonde is.
Die feit dat hul Eight Feet-koffie en Eight Feet-wyn reeds eersteklas is, het die besluit maklik gemaak om ʼn premium Eight Feet-Veldskoen saam met hulle te ontwerp. Al vier broers was van die begin af by die ontwerp betrokke en Annalene se olyfprodukte was die inspirasie vir die leer wat gebruik is om die skoen mee te maak: ʼn pragtige sjokoladebruin wat mettertyd na ʼn diep, olyfgroenkleur verander soos dit gedra en sag word. Die ontwerp is met ʼn skoenvoering wat binne en buite heeltemal uit leer gemaak is afgerond. Die Du Toit-familie het die prototipes gedra en uitgetoets om seker te maak dat hul tevrede was voordat die skoen aan die wêreld bekendgestel is.
Eight Feet is ʼn familiebesigheid, wat vir hulle beteken dat almal gedurende alle besluite betrokke is, en dat almal se insette in ag geneem word. Almal kan insette tot voordeel van die sakeonderneming lewer. Pieter-Steph en Johan, die oudste twee seuns, is by rugby betrokke, maar hulle streef ook daarna om jong suksesvolle entrepreneurs te wees. Anton, die derde broer, is ʼn vyfdejaar-mediese student wat ook ʼn groot passie vir rugby het. Hy het ook ʼn paar bouhande wat wondere kan verrig. Hy het al die kroegtafels en sitplekke vir Kringe innie Bos asook vir Eight Feet Village gebou. Daniel, die vierde Eight Feet-broer, is die boer tussen die vier van hulle. Hy is tans ʼn finalejaarstudent op Stellenbosch en studeer BSc Agric.
Die idee om na borgskappe te soek sodat sportmanne hul eie sakeondernemings kan begin met die fokus op ʼn lewe ná uittrede in plaas van om bloot net na borgskappe te soek, het ontwikkel toe die Veldskoen- en Du Toit-families mekaar ontmoet het.
Johan vertel dat hulle ʼn jaar gelede deur ʼn gemeenskaplike vriendin, Tina Pienaar, aan die span agter Veldskoen voorgestel is.
“Ons het mekaar beter leer ken en besef dat albei partye na dieselfde visie en waardes in die lewe streef. Ons het almal besef dat die beste manier vir ons om vorentoe in die lewe te beweeg, is om in ʼn gesamentlike vennootskap te werk te gaan.”
Die Eight Feet-broers was altyd bekend om as kaalvoetkinders rond te hardloop en wyn te trap. Soos wat hulle nou ouer word, het hulle die regte paar skoene nodig om die “grootmenswêreld” te betree en daarom is die Eight Feet-Veldskoen die vennootskap wat soos die spreekwoordelike skoen gepas het.
“Ons het binne ʼn uur se gesels besef dat die Du Toit-familie alles verteenwoordig wat ook vir ons as die Veldskoen-familie belangrik is: sterk familiebeginsels en waardes, respek teenoor ander, lojaliteit, eerlikheid en goedheid. Ons was dit eens dat ons graag “iets” saam met die Du Toit-familie wil doen en ʼn Eight Feet-Veldskoen het na ʼn fantastiese plan geklink!”
Wat die toekomsdrome vir Veldskoen betref, is hulle tans besig om ʼn televisieprogram te formuleer wat plaaslike toerisme sal stimuleer en ʼn kollig op kreatiewe inhoudsvervaardigers sal plaas. Hul droom ook daarvan om teen 2023 een miljoen pare skoene per jaar te verkoop.
Veldskoen is tans in 28 lande met onafhanklike aanlyn winkels te kry, asook by groot kleinhandelsvennote soos Takealot, Outdoor Warehouse, Tekkie Town en natuurlik ook aanlyn deur hul eie winkel. Al die skoene wat tans beskikbaar is, kan op hul webwerf Veldskoen.com gesien word.
Mooi storie, net jammer dit begin by R1000 per paar. My “brand name” ingevoerde tekkies het dieselfde gekos. So voer ons werk uit na die Ooste.
Dis ongelukkig die ding in SA…Jy wat ‘n landsburger is, betaal duurder vir jou eie produk as die wat ingevoer word. Niks wat eie aan SA is, is goedkoop nie, want hulle produseer vir die toeris wat bereid is om daardie prys te betaal, en in ‘n ander land te gaan spog. In plaas van bekostigbaarheid sodat ons eie mense met ons eie produkte kan spog.
Is dit veldskoen of velskoen? Albei is seker reg….
Bata se vel(d)skoene is net so goed vir helfte van die prys.