Veldtog ver oor die wenstreep vir Maties se studente-atlete

Gert Heyns (voor), Tristan de Lange (middel) en Johann Trotzky (agter) van Maties tydens die USSA-fietstoernooi in 2019 op die Coetzenburg-bergfietsrybaan. (Foto: Verskaf.)

Studente-atlete aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat finansiële steun verloor het weens die uitwerking van die Covid-19-pandemie sal binnekort ʼn finansiële hupstoot ontvang nadat sportsterre, afrigters, alumni en vriende van die universiteit geld ingesamel het om uitstaande klasgeld te betaal.

’n Algehele bedrag van R1 808 428 is ingesamel as deel van die US se #Train4Fees-veldtog nadat ’n ruimhartige skenker onderneem het om die geld wat in Julie en Augustus ingesamel is op ’n rand-vir-rand-grondslag te verdubbel.

“Ons is besig met die lys van studente-atlete wat hulp gaan ontvang, maar ons doel is tans om minstens 45 studente te help,” sê Hans Scriba, fondswerwingsbestuurder by die US se afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge.

Volgens Scriba het 109 spelers, personeel en ondersteuners gehoor gegee aan die oproep om deel te neem aan die #Train4Fees-veldtog, terwyl meer as 480 skenkings van alumni, ondersteuners en korporatiewe skenkers ontvang is. Voormalige en huidige Maties Sport-, Stormers- en Springbokspelers Pieter-Steph du Toit, Breyton Paulse en Schalk Brits het ook hierdie veldtog ondersteun.

Die vyfjarige Michael Allcock. (Foto: Verskaf)

#Train4Fees se jongste fondswerwer, die vyfjarige Michael Allcock, het daarin geslaag om ʼn 50 km-stap te voltooi en het R9 500 ingesamel – amper dubbel sy oorspronklike teiken van R5 000.

“Ons is so dankbaar dat ons uitgebreide Maties-familie soveel steun aan ons studente getoon het. Al die moeite die afgelope drie maande het ons verwagtinge oortref. Dit is wonderlik om in ʼn posisie te wees om hulp aan ons studente te bied, en dit help ons ook om te verseker dat geen student agtergelaat word nie,” sê Scriba.

Die drie maande lange #Train4Fees-veldtog, wat op 1 Junie vanjaar van stapel gestuur is deur Maties Sport en die afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge, het op 31 Augustus tot ʼn einde gekom. Ondersteuners kon geld skenk aan enige van die verskillende Matie-sportkodes op die GivenGain-fondswerwingsplatform of self geld werf deur te hardloop, fiets te ry, te stap of skaatsplank te ry terwyl hulle hul netwerk – familie, vriende, kollegas of bure – vra om ʼn bydrae per kilometer te maak.

“Dit wys net dat ons almal met ʼn klein bietjie moeite ʼn groot verskil kan maak.”

Ilhaam Groenewald, hoofdirekteur van Maties Sport, sê hierdie baie belangrike inisiatief was een van die opwindendste ervarings gedurende die afsonderingstydperk. “Dit het ons as ʼn span bymekaargebring om ʼn positiewe uitslag vir ons atlete te lewer.”

Rugbyspelers is van die studente-atlete wat deur die #Train4Fees-veldtog ondersteun sal word. (Foto: Stefan Els.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.