Veldtog voorsien ouetehuis van noodsaaklike skenkings

Inwoners van een van die Ons Tuis tehuis glimlag breed oor die skenkings wat hulle ontvang het. (Foto: Verskaf.)

Die inwoners van Ons Tuis-ouetehuise het die afgelope twee weke breed geglimlag oor skenkings wat aan die groep gemaak is. Dié skenkings van reg oor die land sluit in kos, kontant en noodsaaklike middels.

Volgens Jaco Bothma, besturende direkteur van Ons Tuis, het dié groep vinnig die finansiële druk van die inperking begin voel. Die onderskeie tehuise in Pretoria, Mokopane en Parys is besonder afhanklik van geldinsamelingsprojekte om die versorgingsfasiliteite effektief te bestuur. Vanselfsprekend kan die aksies nie tydens die inperking voortgaan nie, en daarom het Ons Tuis ʼn veldtog van stapel gestuur om die publiek te versoek om op enige manier ondersteuning te bied.

“Die bereidwilligheid van Suid-Afrikaners om kwesbare bejaardes te ondersteun het ons verras en verheug. Ons was ook opgewonde oor die netwerk van omgee-organisasies wat hande gevat en die veldtog nog meer momentum gegee het,” sê Bothma.

“Ek dink nie mense besef hoe baie dit vir ons beteken nie. Dit is nie bloot die kos en geld wat hoop skep nie, maar die ware betrokkenheid en harte wat ons inwoners versterk.”

GrootFM en Spar het met die #JouMenseMyMense-insetsel R5 000 aan die groep geskenk. GrootFM was verder ook so geraak oor hoe alleen en bang bejaardes tydens die inperking voel, dat hulle ook ʼn Briefies vir Bejaardes-inisiatief bekendgestel het om bejaardes te bemoedig. Lesers is met dié inisiatief aangemoedig om briewe vir ʼn bejaarde te skryf en saam met hulle foto op GrootFM se webblad te laai. Die briewe word uitgedruk en by ouetehuise in Pretoria uitgedeel om hoop aan eensame bejaardes te bring.

Uit die insetsel het die organisasie WeCook besluit om die Ons Tuis-groep as ʼn begunstigde in sy WeCan-projek aangewys. WeCook verkry bestanddele vir voedsame maaltye teen drasties verminderde pryse by voedselverskaffers en versprei dit dan aan WeCan-projekte landwyd. Hierdie projekte voed kwesbare gemeenskappe gedurende die afsonderingstydperk. Lede van die publiek kan uit verskeie projekte kies om te ondersteun

In Ons Tuis se WeCan-projek kon Suid-Afrikaners oor twee dae kos in die vorm van 5 kg groente en 1 kg hoendersop-kombo’s teen R59 elk vir Ons Tuis aankoop.

ʼn Oorweldigende ses ton groente en net meer as ʼn ton hoendersop ter waarde van meer as R71 000 is op dié wyse ingesamel. Die publiek het 1 218 kombo’s aangekoop.

“Ons Tuis moes vandeesweek rondskarrel om genoeg vervoer te reël om die kos op te laai en tussen die tehuise te verdeel. Ons is eenvoudig totaal oorweldig deur die oop hande van die gemeenskap,” sê Bothma.

“Elke bydrae, van individue en besighede tot organisasies, word uit ons harte waardeer. Dit maak ons taak om verseker dat ons bejaardes op hulle oudag goed versorg word, beslis ligter. Ons bedank elke Suid-Afrikaner wat die veldtog ondersteun.”

In tussen het Daleen de Jager Gouws, wat kommunikasie en bemarking vir die groep tehuise behartig, aan Maroela Media gesê die bejaardes is besonders eensaam in die tyd.

“Ouer mense is nog altyd blootgestel daaraan om makliker in ʼn depressie te verval, maar oor die laaste drie weke sedert die inperking ingestel is kan ons sien hulle kry swaar omdat hulle eensaam is.

“Die bejaardes is baie afhanklik van kuiertjies, en self die inwoners wat nie gereelde besoekers ontvang nie, knoop graag ʼn geselsie aan met ander se besoekers. Dit gebeur nou ongelukkig glad nie meer nie omdat ouetehuis vir die bejaardes se eie beskerming gesluit is vir enige besoeke,” het De Jager Gouws gesê.

Volgens haar doen die groep nou bykomende aktiwiteit soos handwerk- of kunswerkprojekte om die bejaardes besig te hou.

“Ons het ʼn beroep om die families van ons bejaardes gedoen om nou selfs meer moeite te doen om gereeld kontak te hou deur WhatsApp video-oproepe en boodskappe,” het sy bygevoeg.

Besoek Ons Tuis se webwerf vir meer inligting oor die ouetehuisgroep se werksaamhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michael 1 ·

Die huidige benaadeeldes kan vergeet om deel te wees van die staats hulpfonds daarom moet hierdie tipe inisiatiewe ten volle ondersteun word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.