Verbeter só jou kind se akademiese vaardighede

kind_lees_bril.jpg

Foto: visionbeyond2020.com

Susan du Plessis, direkteur van opvoedkundige programme by Edublox, sê ouers moet in gedagte hou dat leer ʼn drieledige eienskap is en dat die toepassing van dié drie bene kinders beter sal laat vaar op skool.

Edublox is ʼn lees-, wiskunde- en leerkliniek met 25 sentrums regdeur Suider-Afrika. Die Edublox multisensoriese kognitiewe ontwikkelingsprogramme stel leerders daartoe in staat om leerstruikelblokke soos lees-, spel- en wiskundeprobleme te oorkom, help hulle om lewenslange leerders te word en bemagtig hulle om hulle hoogste opvoedkundige doelwitte te bereik.

Du Plessis sê dié drie bene van leer is lees, skryf en wiskunde. “’n Kind se vermoë om te kan lees, skryf en wiskunde te doen vorm die grondslag van sy akademiese sukses, en raak sy potensiaal en toekomstige prestasies op elke terrein. Sommige leerders kan nie lees nie, maar kan skryf; ander sukkel met wiskunde, maar lees maklik – dit is deurslaggewend dat ’n kind ál drie onder die knie het.”

Sy sê lees vorm die grondslag van akademiese sukses regdeur ’n kind se skool- en universiteitsloopbaan. “Lees sal jou kind nuwe woorde leer en sy woordeskat uitbrei, sy algemene kennis verbeter, hom help om beter te konsentreer en op een taak te fokus. Hedendaagse kinders word met soveel klank, lig en beweging van elektroniese toestelle gebombardeer dat lees eintlik die brein help ontspan,” sê Du Plessis.

Du Plessis sê die brein word gestimuleer wanneer daar geskryf word. “Skryf maak die brein wakker, aangesien kinders nie net vinniger leer lees wanneer hulle eers met die hand leer skryf nie, maar dit stel hulle ook in staat om hulle gedagtes beter te formuleer en inligting te onthou.”

Die laaste en ewe belangrike faset vir ʼn sterk akademiese onderbou is die vestiging van ’n stewige wiskundige begrip. “Mense word maklik mislei om te glo wiskunde is geen voorvereiste vir ʼn suksesvolle loopbaan nie, maar in wetenskap, sake en selfs ons alledaagse bestaan kan ons nie van syfers ontsnap nie.”

ʼn Kind se vermoë om te kan lees, skryf en wiskunde doen, hang ten diepste van kognitiewe vaardighede soos aandagspan, visuele en ouditiewe persepsie, reeksgeheue en werkende geheue, en logiese denke af. “Maak seker hierdie vaardighede word goed ontwikkel.”

Volg dié wenke:

Lees

  • Ouers van jong kinders moet soveel moontlik vir hulle spruite lees. “Deur jou kind kinderrympies te leer, stimuleer jy die brein en verbeter geheue. Navorsing onder driejariges toon dat kennis van rympies by driejariges ʼn beduidende voorspeller van latere leesvaardighede is, selfs as ons hulle IK en die ma se vlak van opvoeding buite rekening laat.”
  • As jou kind met lees sukkel, moet daar dadelik aandag aan gegee word: 95% van swak lesers kan tot graadvlak verbeter as hulle vroeg gehelp word. Hoe langer ouers wag om daarvoor hulp te kry, hoe meer gaan die kind later sukkel.
  • Moenie op rekenaarprogramme steun wanneer dit by leesprobleme kom nie.

Skryf

  • Frommel velle papier op saam met jou kind. Dit sal help om sy fyn motoriese vaardighede te verbeter en help dat hy makliker en netjieser skryf. Gebruik A4-grootte papier en gee jou kind een in elke hand. Hy moet dan terselfdertyd albei in balletjies frommel. Dit is belangrik dat elke hand sy eie werk doen. Maak seker jou kind sit met sy hande ver van mekaar. As deel van die speletjie mag hy nie met sy hande teen sy lyf of iets soos ʼn tafel druk nie.

Wiskunde

  • Maak seker jou kind kan vlot tel – vorentoe én agteruit. Daarna kan oorslaan-tel probeer word, soos om in gelyke of ongelyke getalle te tel. Oorslaan-tel is belangrik vir die ontwikkeling van beredeneringsvaardighede en vir syferbegrip, en vorm boonop die grondslag van vermenigvuldiging en deling.
  • Daar is talle wiskundige begrippe wat ’n mens eenvoudig moet ken en dus moet leer, soos terme, definisies, simbole, ensovoorts. Maak seker jou kind ken die woorde vir verskillende vorms. As hy nie weet wat ’n sfeer is nie, sal hy moet raai wanneer hy in ’n toets 12 verskillende voorwerpe moet uitken.

Besoek Edublox se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.