Verbode gedrag: Wet op Verbruikersbeskerming

escalator-711793_640Nadat die Nasionale Verbruikerskommissie verlede week aangekondig het dat dit ondersoek instel na Ford SA en sy handelaars vir beweerde verbode gedrag, wou baie verbruikers weet wat verbode gedrag is. Verbode gedrag is enige optrede van ‘n verskaffer van goedere of dienste wat strydig is met die Wet op Verbruikersbeskerming. Ina Opperman verduidelik wat verbode gedrag is in terme van die Wet.

Die definisie van verbode gedrag in artikel 1 van die Wet, wat die definisies bepaal, is dat dit enige handeling of versuim is wat teenstrydig met die Wet is.

Artikel 4

Volgens artikel 4, wat handel oor die verwesenliking van verbruikersregte, mag niemand in onderhandelinge met ’n verbruiker, gedurende die gewone verloop van sake, deelneem aan gedrag wat teenstrydig is met die oogmerke en beleid van die Wet, of iets doen wat die oogmerke van die Wed frustreer of omverwerp nie.

Niemand mag deelneem aan gewetenlose, misleidende of oneerlike gedrag, of gedrag wat verbruikers waarskynlik sal mislei of bedrieg nie, of ’n voorstelling oor ’n verskaffer, goedere of dienste maak nie, tensy die persoon redelike gronde het om te glo dit is waar.

Artikel 51

Artikel 51 bepaal ook presies wat verbode transaksies, ooreenkomste, bedinge of voorwaardes is. Dit sluit in dat ’n verskaffer nie ’n transaksie of ooreenkoms onderhewig kan maak aan voorwaardes met die oogmerk om die doelwitte en beleid van die Wet te verydel, die verbruiker te mislei of te bedrieg of die verbruiker aan bedrieglike gedrag te onderwerp nie.

Die handelaar mag ook nie direk of indirek verbruikers van hul regte ingevolge die Wet laat afsien of ontneem nie. Niemand mag ook iets doen om ’n verskaffer se verpligtinge of pligte ingevolge die Wet te vermy, of die uitwerking van ’n bepaling van hierdie Wet tersydestel of omverwerp nie.

Voorwaardes mag ook nie die verskaffer magtig om enigiets wat onregmatig is ingevolge die Wet of versuim om enigiets wat ingevolge hierdie Wet vereis word, te doen nie. Die voorwaardes mag ook nie die verskaffer van goedere of dienste se aanspreeklikheid vir verlies direk of indirek beperk of kwytskeld indien dit eintlik te wyte is aan die verskafer se growwe nalatigheid nie. Dit is ook verbode om die verbruiker die risiko of aanspreeklikheid te laat dra vir skade.

Artikel 60

Volgens artikel 60 moet die kommissie die ontwikkeling, aanvaarding en toepassing van bedryfswye praktykkodes bevorder, wat voorsiening maak vir effektiewe en doeltreffende stelsels om kennisgewing te ontvang van verbruikersklagtes of verslae oor produkgebreke, defekte of gevare. Dit sluit ook in die terugneem van goedere weens ’n gebrek, defek of gevaar, persoonlike besering, siekte of skade aan eiendom en ander aanduiding van gebrek, defek of gevaar, besering of skade.

Die kommissie moet ook die inligting monitor om die moontlike risiko van gebruik vas te stel en te identifiseer en ondersoek instel na die aard, oorsake, mate en graad van die risiko, verbruikers in kennis te stel van die aard, oorsake, mate en graad van die risiko en indien dit onveilig is, sorg dat dit herroep word vir herstelwerk, vervanging of terugbetaling.

Dit is ook verbode gedrag

Verskillende artikels van die Wet bepaal ook verder wat verbode gedrag is, soos:

  • Verskaffers mag niemand uitsluit van toegang tot goedere of dienste of verskillende pryse vir goedere of dienste vra nie, of bepaalde gemeenskappe, distrikte, bevolkings- of marksegmente vir eksklusiewe, prioriteits- of voorkeurverskaffing van goedere of dienste teiken of uitsluit nie.
  • Direkte bemarkers mag nie mense bel op tye wat deur die Wet uitgesluit word nie en moet mense se name van hul lyste verwyder as die verbruikers daarvoor vra en moet die afkoelperiode nakom.
  • Maatskappye mag nie weier om vastetermynooreenkomste te staak nie.
  • Werskwinkels mag nie werk doen wat die verbruiker nie vooraf goedgekeur het nie.
  • Maatskappye mag nie weier om besprekings te kanselleer onder sekere omstandighede nie.
  • Hulle mag nie weier om goedere terug te neem onder sekere omstandighede nie of herstelwerk of terugbetaling weier nie.
  • Verskaffers van produkte en dienste mag nie ingewikkelde en onverstaanbare taal gebruik wanneer hulle met verbruikers werk nie.
  • Kleinhandelaars moet pryse en produkbeskrywings op produkte aanbring in ooreenstemming met die Wet.
  • Dit is ook verbode om verbruikers nie in te lig dat produkte grys of herboude produkte is nie.
  • Kleinhandelaars moet verbruikers ‘n koopbewys of kwitansie gee.
  • Verskaffers mag nie valse of misleidende voorstellings maak of verbruikers mislei of bedrieg nie.
  • ’n Verskaffer mag nie goedere of dienste adverteer teen ’n bepaalde prys wat verbruikers kan mislei of onder ’n vals indruk bring oor die beskikbaarheid daarvan teen die geadverteerde prys nie.
  • Negatiewe bemarking, waar verbruikers byvoorbeeld op ‘n diens ingeteken word en dan moet aandui dat hulle dit nie wil hê nie, is ook verbode.
  • Handelaars mag nie weier om koepons of koopbewyse te aanvaar wat nog geldig is nie.
  • Maatskappye mag nie verbruikers laat weet dat hulle ‘n kompetisie gewen het as geen kompetisie in werklikheid gehou is nie, die verbruiker nie werklik die kompetisie gewen het nie, die prys aan ’n voorheen onbekende voorwaarde onderworpe is nie of as die verbruiker iets verder moet doen om die prys te kry nie.
  • Niemand mag valse voorstelling maak oor die beskikbaarheid, winsgewendheid, risiko of ander wesenlike aspek van werk nie.
  • Ondernemings mag nie van ‘n verbruiker verwag om die name van verbruikers te gee in ruil vir afslag nie.
  • Dit is ook verbode gedrag om ‘n ooreenkoms aan te gaan met iemand wat nie bevoeg is nie, soos kinders onder 18 of verstandelik gestremde mense.
  • Gewetenlose gedrag is ook verbode gedrag en sluit in fisieke geweld, dwang, onbehoorlike beïnvloeding, druk, teistering en onbillike taktiek in die bemarking of verskaffing van goedere of dienste, of sluiting van ‘n ooreenkoms of invordering van betaling.
  • Valse, misleidende of bedrieglike voorstellings is ook verbode gedrag.
  • Bedrieglike skemas en aanbiedinge is ook verbode en sluit in dat mense nie mag voorgee hulle verteenwoordig ‘n maatskappy as dit nie die geval is nie en dat niemand mag maak asof hulle geld vervaardig of vermeerder nie.
  • Piramideskemas en deelname daaraan is ook verbode gedrag.
  • By ‘n veiling is verbode gedrag onder meer dat ’n eienaar of sy verteenwoordiger bie sonder dat die ander bieërs daarvan weet.
  • Handelaars mag ook nie voorgee dat hulle goedere of dienste kan lewer wat hulle nie kan lewer nie.
  • Maatskappye mag nie enige kontrakvoorwaardes wat in die Wet en Regulasies gelys word, in verbruikersooreenkomste gebruik nie.
  • Die voorwaardes van ooreenkomste mag ook nie eensyidg verander word nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

jorie ·

As dit “verbode” is vir direkte bemarkers om mense te bel op sekere tye en hulle verplig is om jou naam van hul lys af te haal, Hoe op aarde kry mens dit reg dat hulle dit gehoorsaam?

SkarrelKind ·

jorie – ek praat onder korreksie, maar mens “chip” in terwyl hulle nog praat en dring aan dat hulle nou naam verwyder, vra vir ‘n verwysingsnommer, vra die agent se volle naam en van en skryf die tyd neer. As hulle jou weer bel dan kan jy dit verder neem. Laai True Caller op jou selfoon – dit wys baie gou die “spam” sondebokke uit en maak jou lewe makliker.

Valerie ·

Jong kinders mag ook nie alleen op die roltrappe speel nie. Kry Ma en Pa om saam te speel.

Tammy ·

En ONLINE adverteerders kom met alles weg, dan was almal hulle hande in onskuld. Wys asb vir ons hoe SUKSESVOL julle is met die vervolging van die mense wat valse advertensies aanbied. Hoe lank kla ons al oor hierdie sogenaamde holiday clubs en puntestelsels wat jou met ‘n slinkse manier vang om na hulle aanbieding te kom luister deur vooraf vir jou te sê jy gaan ‘n PRYS ontvang of ‘n KAR. Kom jy daar is dit niks anders as punte gemors vir vakansiebehuising nie. Hulle is dan ongeskik met jou as jy nie die geld wil uithaal om ‘n plek of punte aan te koop nie. Dit hou al vir DEKADES aan en niemand stop hulle FAKE bemarking nie. DIS BAIE OULIK OP PAPIER, hoeveel sukses het julle al regtig met die vervolging van die mense gehad wat veral aanbied mense kan van die HUIS af werk, dan bestaan dit nooit nadat jy die adminfooi betaal het nie, tikwerk, advertensies, oplaai van syfers en rekords, alles is GEMORS en dit word STEEDS gedoen.

M van Niekerk ·

Wat van Vodacom wat jou ‘beloon’ as jy lugtyd gekoop het met ‘gratis lugtyd ‘tussen 12 uur middernag en 5 uur in die oggend? Is dit omdat hulle weet die ‘gratis ‘ tyd gaan nie gebruik word nie? (Dalk deur .05% intekenare) Niks werd ‘geskenk’ of lê die fout by my?

En data en minute wat 'verval'? ·

En wat van data en minute wat ‘verval’ na ‘n tydperk? As mens vir 1 GB of 100 minute betaal het, moet dit mos joune wees? Hoe kom die selfoon maatskappye daarmee weg om dit na ‘n maand of twee te laat ‘verval’? Dan steel hulle mos mens se geld. Mens huur nie daai praattyd of data by die selfoon maatskappy nie, jy koop dit. En partykeer wil mens dit laat ophoop – mens gebruik mos bv. meer data wanneer jy op vakansie is of ‘n groot projek het om aan te werk.

Dr Grobbelaar ·

Data is geneig om geklasifiseer te word as ‘n produk wanneer dit in werkilikheid ‘n diens is.
Wannneer jy data koop, koop jy slegs toegang tot die data-diens vir ‘n vasgestelde periode, tot en met ‘n gespesifiseerde hoeveelheid data. Selfde geld vir ander dienste soos ‘n voorafbepaalde Gym kontrak. As jy vir 10 oefen sessies die maand betaal het, en jy oefen net 5 keer dan verloor jy die ander 5 sessies. Jammer vir jou.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.