Verbruikersbeskerming vir kompetisies

board-761586_640Almal van ons wil graag ‘n kompetisie wen en wegstap met ‘n lekker motor of ‘n vakansie. Maar word wenners regverdig gekies en is daar enige reëls oor hoe kompetisies aangebied moet word? En wat van daardie oproepe waarin jy meegedeel word jy het iets gewen, al het jy nooit ingeskryf nie? Ina Opperman verduidelik hoe kompetisies gehou moet word volgens die Wet op Verbruikersbeskerming en hoe dit verbruikers se regte beskerm.

Dit is verbruikers se plig om ook verbruikerswaghond te speel en te sorg dat hulle nie ingeloop word nie. As jy aan ‘n kompetisie deelneem, is dit belangrik om te sorg dat jy net deelneem indien die kompetisie volgens die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming aangebied word. Jy het ook sekere regte as deelnemer en wenner volgens artikel 36 van die Wet.

Belangrike definisies

Dit is belangrik om eerstens die definisies in die Wet te verstaan.

  • ‘n Reklamekompetisie is volgens artikel 36 enige kompetisie, speletjie, skema, ooreenkoms, stelsel, plan of toestel om pryse toe te ken deur middel van loting of toeval, in die gewone verloop van sake om reklame te maak vir ‘n vervaardiger, verspreider, verskaffer of vereniging, of die verkoop van goedere en dienste, waarvan die prys ‘n waarde het van meer as R1, ongeag of jy enige vaardigheid of vermoë moet hê om die prys te wen.
  • ‘n Deelnemer is ‘n verbruiker wat inskryf, deelneem of op enige ander manier in aanmerking kom om ‘n reklamekompetisie te wen.
  • ‘n Prys is ‘n beloning, geskenk, gratis goedere of dienste, prysverlaging of spesiale voorreg, meer of beter gehalte van goedere en dienste of enige ander item wat op afslag of gratis verskaf word.
  • ‘n Promotor is die verskaffer wat direk of indirek ‘n reklamekompetisie bevorder, borg, organiseer of hou of vir wie die kompetisie bevorder, geborg, gereël of gehou word.

Kompetisies wat deur die Wet gedek word

Volgens artikel 36 moet ‘n reklamekompetisie gebruik word om ‘n verskaffer van bepaalde goedere of dienste in die normale verloop van sake te bevorder en die wenner moet gekies word deur ‘n loting of gelukkige trekking. Daarom word ‘n lootjie by ‘n skoolbyeenkoms of kerk nie as ‘n reklamekompetisie beskou nie en dit hoef nie te voldoen aan die bepalings van die Wet nie.

Onwettige voorwaardes om te wen

Artikel 36 bepaal dit is onwettig om jou in te lig dat jy iets gewen het as geen kompetisie gehou is nie, of as jy nie gewen het nie, jy eers aan ‘n voorwaarde moet voldoen om te wen wat nie vooraf bekend gemaak is nie, jy ‘n bedrag moet betaal of iets koop om die prys te kry, jy geen reg het om die prys te wen nie en indien die prys reeds beskikbaar is of aangebied word aan ander verbruikers of groepe.

Maatskappye mag ook nie vereis dat jy posgeld betaal of betaal om die inskrywing te stuur nie. Dit sluit betaling vir die kans om deel te neem en toegang tot die kompetisie of toestel in. Jy kan ook nie gedwing word om goedere of dienste te koop vir meer as die gewone prys nie. Regulasie 11 van die Wet bepaal ook teksboodskappe om in te skryf mag nie meer as R1,50 kos nie en jy mag nie betaal vir verdere kommunikasie nie. Onwettige goedere en dienste, soos kinderpornografie of dwelms, mag ook nie aangebied word as pryse nie.

Wie kan wen?

Die meeste kompetisies het gewoonlik die vereiste dat niemand wat vir ‘n maatskappy of sy verskaffers werk of hul naaste familie mag deelneem nie. Artikel 36 verbied maatskappye om pryse toe te ken aan enigeen wat ‘n direkteur, lid, vennoot, werknemer, agent of promotor is, of wat goedere of dienste verskaf vir die kompetisie.

Kompetisiereëls

Maatskappye moet kompetisiereëls saamstel voordat die kompetisie begin en hierdie reëls moet gratis beskikbaar gestel word aan die Nasionale Verbruikerskommissie en enige deelnemer wat daarvoor vra. Maatskappye moet ook ‘n afksrif van die reëls hou vir ten minste drie jaar na die einde van die kompetisie. Dit is gewoonlik voldoende om die reëls beskikbaar te stel op ‘n webwerf.

Aanbod om deel te neem

Die aanbod om deel te neem aan ‘n reklamekompetisie moet dit duidelik maak wat jy kan wen as jy deelneem, wat jy moet doen om die aanbod te aanvaar en deel te neem, hoe die uitslag bepaal sal word, die sluitingsdatum, hoe die uitslag bekend gemaak sal word en die kontakbesonderhede van die persoon by wie jy ‘n afksrif van die reëls kan kry en die datum, tyd en plek waar die wenner die prys kan kry.

Hierdie inligting kan versprei word saam met die kompetisie-inskrywing, in ‘n aangehegte dokument, of in ‘n advertensie wat gepubliseer word ten tyde van die kompetisie, in die omgewing waar die kompetisie gehou word en wat die aandag daarop vestig en duidelik verband hou met die kompetisie.

Jy het die reg om deel te neem aan ‘n kompetisie sodra jy voldoen aan die voorwaardes en toegang kry tot die medium om deel te neem. Jy het dan die reg om die prys te eis sodra die uitslag bepaal is en jy hoef nie aan nog voorwaardes te voldoen of iets te betaal om die prys te kry nie.

Wenners se regte

As jy ‘n kompetisie wen, kan jy nie volgens artikel 36 gedwing word om aan enige bemarking deel te neem nie en dit sluit foto’s in. Jy moet die kans gegun word om nee te sê en enige promotor wat dit insluit as ‘n kompetisiereël, sal dit in terme van regulasie 11 nie kan afdwing nie.

Kies die wenner

Artikel 36 bepaal die promotor mag nie ‘n interne ouditeur gebruik om die wenner aan te wys nie. Net ‘n onafhanklike rekenmeester, geregistreerde ouditeur, prokureur of advokaat kan toesig hou oor die kompetisie en dit sertifiseer en dit dan deur die promotor se interne ouditverslag of ander geskikte metode van geldigverklaring en verifikasie en rapporteer. ‘n Volle oudit word nie vereis nie, maar ‘n onafhanklike professionele persoon moet seker maak die kompetisie word volgens wet gehou.

Promotor se pligte

Die promotor wat die kometisie aanbied, moet die volgende inligting beskikbaar hou:

  • Volledige inligting van die promotor, reëls, aanbod om deel te neem en die name en ID-nommers van die mense wat verantwoordelik is vir die kompetisie;
  • ‘n Volledige lys van al die pryse;
  • Afskrifte van al die bemarkingsmateriaal;
  • ‘n Lys van al die geleenthede waar die kompetisie bemark is, sowel as die datums, medium en plekke waar dit bemark is;
  • Die name en ID-nommers van al die mense wat verantwoordelik is om die wenners te kies;
  • ‘n Lys van die wenners se name en ID-nommers;
  • ‘n Lys van die datums waarop die pryse oorhandig is of geldpryse betaal is; en
  • Erkenning van ontvangs van die pryse onderteken deur die wenners, met hul ID-nommers en die datum en plek, of indien die prys per pos of koerier gestuur is, bewys daarvan.

Die promotor moet ook rekord hou van:

  • Stappe wat gedoen is indien die wenner nie gekontak kon word nie;
  • Waarom ‘n wenner nie ‘n prys ontvang of aanvaar het nie en wat die promotor gedoen het om te verseker die wenner ontvang die prys;
  • Verklarings van die mense wat die kompetisie hou dat sover hulle weet, geen pryse aan direkteure, lede, werknemers, vennote, agente of konsultante of enigiemand anders wat direk of indirek iets met die promotor te doen het, die bemarkingsdiensverskaffers of hul gades, lewensmaats, sakevennote of naaste familie toegeken is nie;
  • Die grondslag waarop die wenners gekies is, moet ‘n opsomming insluit wat die prosedure beskryf wat gevolg is om die wenners te kies, saam met die name van die mense wat hulle gekies het, die datum en plek waar die wenners gekies is en of die geleentheid oop was vir die publiek;
  • Of ‘n onafhanklike persoon toesig gehou het toe die wenner gekies is en hierdie persoon se naam en ID-nommer;
  • Hoe die wenners aangekondig is en hoe dikwels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.