Verbruikersregte met elektroniese transaksies

online-942409_640Internasionale Verbruikersregtedag is vandeesweek wêreldwyd gevier met die tema “bou ‘n digitale wêreld wat verbruikers kan vertrou”. Verbruikers gebruik die digitale wêreld toenemend om goedere en dienste te koop en ongelukkig het baie verbruikers ook al bloutjies geloop wanneer hulle ‘n elektroniese transaksie doen. Ina Opperman verduidelik hoe die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies verbruikers beskerm en hoe verbruikers die bepalings in die Wet kan gebruik om self seker te maak hulle doen veilig sake aanlyn.

Verbruikers word beskerm deur die bepalings in hoofstuk 7 van die Wet, wat handel oor die transaksies waarop dit van toepassing is, inligting wat verskaf moet word, die afkoelperiode wat verbruikers moet kry, ongevraagde goedere, dienste of kommunikasie en aflewering.

Watter elektroniese transaksies word gedek?

Volgens artikel 42 van die Wet is die Wet net van toepassing op elektroniese transaksies, maar artikel 44 van die Wet is nie van toepassing op enige finansiële dienste soos beleggingsdienste, versekering, herversekering, bankdienste en die handel in effekte nie.

Dit is ook nie van toepassing op aanlyn-veilings nie en ook nie vir die verskaffing van kos, drank en ander goedere vir daaglikse verbruik en dienste wat verskaf word gedurende die afkoelperiode nie. Verder is dit ook nie van tpoepassing op goedere en dienste waarvan die pryse afhang van die wisselkoers nie of waar goedere volgens die verbruiker se spesifikasies gemaak word, duidelik persoonlik vir iemand gemaak is, uit die aard daarvan nie teruggegee kan word nie of vinnig sleg word.

Audio of video-opnames of rekenaarsagteware wat uit die verpakking gehaal is, koerante, tydskrifte en boeke word ook nie deur artikel 44 gedek nie. Elektroniese transaksies vir die verskaffing van verblyf, vervoer, onthaal of ontpanningsdienste vir ‘n bepaalde datum word ook nie gedek nie.

Watter inligting moet die verbruiker kry?

Artikel 43 van die Wet bepaal watter inligting verbruikers moet kry van die verskaffers van goedere en dienste deur middel van elektroniese transaksies. Verbruikers moet die volgende inligting kry:

  • Die volle naam en regstatus van die verskaffer
  • Die volle fisiese adres en telefoonnommer
  • Die webadres en e-posadres
  • Lidmaatskap van enige self-regulerende liggaam en dié se kontakbesonderhede
  • Enige gedragskode waaraan die verskaffer voldoen en waar om dit te vind
  • Die maatskappy se registrasienommer, die name van die amptenare en die plek van registrasie
  • Die verskaffer se adres waar regsdokumente afgelewer kan word
  • Genoeg inligting oor die diens of produk sodat die verbruiker ‘n ingeligte keuse kan maak
  • Die volle prys, wat vervoerkoste, belasting en enige ander heffing insluit
  • Hoe die betaling gedoen word
  • Enige voorwaardes, wat die waarborg insluit en waar om dit elektronies te kry
  • Waar die verbruiker ‘n volledige rekord van die transaksie kan kry
  • Die maatskappy se beleid oor die teruggee, omruil en terugbetaling van goedere
  • Enige alternatiewe dispuutoplossingskode wat die verbruiker elektronies kan gebruik
  • Die veiligheidsprosedures en privaatheidsbeleid met betrekking tot betaling, betalingsinligting en persoonlike inligting
  • Indien van toepassing, die minimum tydsduur van die ooreenkoms
  • Die verbruiker se regte volgens artikel 44.

Wat moet verskaffers nog doen?

Verskaffers moet ook verseker dat verbruikers die elektroniese transaksie kan hersien, enige foute regstel en dit te kanselleer voordat enige bestelling geplaas word.

Indien verskaffers nie al die inligting verskaf en verbruikers die kans gee om die transaksie te hersien nie, kan die verbruiker die transaksie binne 14 dae kanselleer en die goedere terugstuur of ophou om die diens te gebruik. Die verskaffer moet dan die verbruiker se geld terug betaal nadat die koste om dit terug te stuur afgetrek is.

Verskaffers moet ook ‘n betalingstelsel gebruik wat aan aanvaarde tegnologiese standaarde voldoen. Die verskaffer is aanspreeklik vir enige skade wat die verbruiker ly indien hy nie die verbruiker se geld terug betaal nie.

Afkoelperiode

Volgens artikel 44 van die Wet mag verbruikers die transaksie kanselleer sonder enige boete vir die verskaffing van goedere binne sewe dae nadat die verbruiker dit ontvang het, of dienste binne sewe dae nadat die ooreenkoms gesluit is. Die verbruiker moet net betaal om die goedere terug te stuur, maar die volle bedrag wat die verbruiker betaal het, moet binne 30 dae terugbetaal word.

Ongevraagde goedere, dienste en kommunikasie

Verskaffers wat ongevraagde kommersiële kommunikasie aan verbruikers stuur, moet verbruikers die opsie gee om van die lys verwyder te word en waar die verbruiker dit kan doen. Die feit dat die verbruiker dit nie doen nie, beteken egter nie daar bestaan ‘n ooreenkoms nie.

Aflewering

Aflewering moet volgens artikel 46 geskied binne 30 dae, tensy anders ooreengekom. Indien die aflewering nie binne 30 dae geskied nie, kan die verbruiker die bestelling kanselleer deur sewe dae kennis te gee op skrif. Indien die verskaffer nie dadelik kan aflewer nie, moet hy die verbruiker in kennis stel en terug betaal binne 30 dae.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae