‘Verlamde’ rugbyspeler loop: ‘Die Here het elke gebed gehoor’

Heinrich “Ollie” Terblanche en Chanel Supra. Foto: Facebook

Heinrich “Ollie” Terblanche en Chanel Supra. Foto: Facebook

Minder as twee jaar gelede het dokters vir Heinrich “Ollie” Terblanche (26) gesê hy sal sy lewe lank aan ʼn rolstoel gekluister wees, nadat hy sy nek tydens ʼn rugbywedstryd beseer het. Nou maak hy gereed om oor ʼn maand hand-aan-hand saam met sy vrou by hul troue se onthaalsaal in te stap.

Maroela Media het vroeër berig oor Terblanche, ʼn professionele rugbyspeler, wat op 24 Januarie 2015, tydens ʼn wedstryd tussen die SWD Arende en die Evergreens, op ʼn volgepakte Outeniquapark in George in die Wes-Kaap, sy nek beseer het. Hy was van sy middellyf af ondertoe verlam en dokters het gemeen hy sou nooit weer kon loop nie.

Terblanche het die medici en sy familie en vriende egter verstom deur stelselmatig al sterker te word, totdat hy in Julie 2015 uiteindelik sy eerste paar treë kon gee. Chanel Supra (25), Terblanche se verloofde, het Maandag aan Maroela Media gesê sedertdien raak Terblanche net al sterker en het hy die afgelope naweek vir die eerste keer met net een kruk geloop.

“Ons kan regtig net nie ophou glimlag en lag van blydskap nie. Dit gaan net so ongelooflik goed met hom. Die dokters staan verstom, hulle kan dit nie glo nie,” het Supra gesê. “Hy het net die naweek gesê hy dink hy is sterk genoeg om met een kruk te probeer loop en hy het dit gedoen. Dit is op sulke oomblikke wat ons net weer besef hoe die Here ons gebede verhoor. Ons is ongelooflik geseënd.”

Sy vertel Terblanche ontvang gereeld steeds fisioterapie, maar hy oefen meestal alleen en gaan daagliks gimnasium toe om sterker te word. Hy gebruik 90% van die tyd nie sy rolstoel nie en probeer soveel as moontlik net met sy krukke rondbeweeg en self die trappe in die paartjie se woonstel klim. Hy het weer gevoel in sy onderlyf en kan voel wanneer hy pyn het of as iemand aan hom raak. Volgens Supra sukkel hy nog om aan sy onderlyf tussen warm en koud te onderskei, maar dit word ook stelselmatig beter soos sy herstel vorder.

Terblanche en Supra sou op 19 Desember 2015 die knoop deurgehak het, maar moes die troue noodgedwonge uitstel ná Terblanche beseer is. In Januarie vanjaar het die paartjie die wonderlike nuus gekry dat hulle die wenners van Monte De Dios se DROOMtroue-kompetisie is. Dié troue, ter waarde van R300 000, sluit alles in, van die onthaalplek tot die trourok en word geborg deur Monte De Dios, die EPH Group en GROOTfm 90.5 se GROOTontbyt.

Heinrich “Ollie” Terblanche en Chanel Supra. Foto: Facebook

Heinrich “Ollie” Terblanche en Chanel Supra. Foto: Facebook

Supra sê hulle sal nou op 7 Januarie 2017 uiteindelik in die paadjie afstap. “Ons het nou nog ʼn volle maand voor die troue en daarom oefen Ollie baie hard om daardie dag saam met my by die saal in te loop,” sê sy. “Ons sal kyk hoe sterk hy teen daardie tyd is en of ons ons eerste dans saam sal kan doen. Ons wil nie nou nog ekstra druk op hom sit nie en ons weet wat ookal hy daardie dag kan regkry, sal net wees soos die Here dit wil hê. Ons is klaar so opgewonde vir die groot dag!”

Sy het gesê Terblanche het vanjaar ook ʼn aanlyn-kondisioneringskursus voltooi en begin volgende jaar met ʼn kwalifikasie in persoonlike afrigting. Sodra hy dit voltooi het en sterk genoeg is, sal hy weer begin werk.

“Ons wil nooit vir mense jok en sê ons het nooit slegte tye in hierdie afgelope twee jaar gehad nie. Dit was ʼn baie lang pad tot hier en daar was baie trane en dae wat ons ongelukkig gevoel het. Maar ons het net heeltyd geglo die Here sal vir Ollie die deure oopmaak wat hy nodig het en Hy het dit ook gedoen. Hy het elkeen van ons gebede gehoor en ons sal nooit ophou dankbaar wees nie.”

Lees alle vorige berigte oor Heinrich Ollie Terblanche op Maroela Media.

With hard work, and unshakable faith in the unseen, Ollie is strong enough to start practicing to walk with one crutch. This is something we have been praying for almost 2 years, and God is showing himself faithfull everyday. God bless

Posted by Ollie's Road to recovery on Sunday, December 4, 2016

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Elza ·

Lof aan ons Koning vir Sy Genade Hand en Wonderwerkende Krag , Jesus doen dit weer…dankbaar saam die familie Daar is niks wat ons Heer nie kan doen nie…Lof en Eer aan Hom , dankie Here vir slim drs met wysheid , U werk deur hul hande

Connie ·

Prys Die Here. Wonderwerke gebeur elke dag om ons. Hierdie is een van hulle. Hy het self ook hardgewerk. Dit is duidelik. Well done.

Chtistiaan ·

Amen.We serve a miracle working God! God wil hom aan die mens openbaar.

Denise ·

Ek is baie bly vir die jong man fantasties en dit is net soos m gese het!!!!

Stan Oberholster ·

My God is so groot, so sterk en so magtig. Daar is niks wat my God nie kan doen.

liza ·

Alle eer aan ons Hemelse Vader, ai Heinrich sterkte vir jou seun jy kan en niks gaan jou onderkry nie, vat elke ou treetjie dag vir dag…. Chanel dankie vir jou ondersteuning aan jou verloofde ook, saam maak julle ‘n wenspan………

Leon ·

En ons sê daar is nie meer wonderwerke nie!
Baie mooi Heinrich, en selfs vir almal wat die gereingste gedoen het op jou pad van herstel!
Wys jou net weereens, niks is onmoontlik nie, jy moet net glo en nie tyd aan iets koppel nie!

AL ·

Wat n moedige jongman! En Chanel is n supermens om so mooi na hom te sien. Mag God jul huwelik en toekoms vorentoe seen.

Paul ·

dit is amazing hoe vinnig hy vorder ons Here leef verseker,dan wil ek ook net se sy vroutjie is die dapperste wat ek nog gesien het kyk net na die glimlag van elke tree wat hy gee.Julle is n wonderlike paartjie sterkte vir alles vorentoe >Bly op die Here vertrou en hy sal voorsien.

Org du Plessis ·

Hi Ollie,

Ek het my nek gebreuk C4/5 toe ek 17 was, ja ook met die geliefde sport rugby.

Kon net my een skouer beweeg op daai stadium en was daar vir my gese ek sal nooit weer loop nie en heel moontlik minimaal herstel. Ek is nou 37 getroud met twee kids en loop self met een kruk.

Kontak my gerus as jy bymekaar wil kom of sommer net wil chat. Ek het gevind daar is baie vrae en min mense wat antwoorde het.

Baie geduld, vat dit dag vir dag en vasbyt!

Helene Heyns ·

Dis wanneer ek sulke berigte, oor die kosbare wonderwerke uit die hand van God lees, dat my hart in my jubel. Prys Sy naam.

Moira ·

Ja is dit nie wonderlik nie. Nie die alewige moorde en raaisels daaroor nie. Prys God

Quintin Prinsloo ·

Wow!!!!! Ek het nie woorde nie!! Wys jou n Dr se woorde beteken niks teen iemand se wil en vashou aan God!!! Mooi maat hou so aan!!

Deon van Zyl ·

Die Here is daagliks nog besig met wonderwerke. Alle eer aan Hom dat Heinrich tot so mate herstel het en nog herstel.
Ons kan ook se dat Keagan Girdlestone ook een van God se kinders is wat wonder bo wonder geseen is…toe sy hoofslagarein sy nek afgesny is tyden n fietsren in Italie….
Wonderwerk op wonderwerk het plaasgevind en gebeur nog daaglik tot so mater dat 20 jarige Keagan al weer op sy fiets kon ry…..nog n baie lang pad na herstel maar vir iemand wat byny 20 min sonder bloed was herstel sy brein wonderbaarlik en is hy saam met Heinrich twee wonderwerke uit God se hand.

J ·

Alle eer aan die Here vir die wonderwerk en dat Hy jou krag en genesing gegee het. Jou hardewerk met die oefeninge en jou meisie en familie en vriende se bystand en liefde. God is Great

Louise ·

God is groot en net weer n bewys dat Hy in beheer is. Sterkte vir julle!

Vettie ·

En waar is al die keyboard warriors wat altyd se daar is nie ‘n Here nie? Hier is die bewyse!!!!!

Belmarie ·

Ons God is so groot, so sterk en so magtig..daars niks wat ons God nie kan doen nie….Amen

Elize ·

Amen en Amen. Ek kan ook getuig van God se almag. In 2010 het God my seun teruggegee aan ons. Nadat hy in kop aan kop botsing was. Op ongelukstoneel was sy GCS 3/15. Prys die Here, Hy is ons Groot Geneesheer. Baie bly en dankbaar saam met julle.

johan hennig ·

Met en by GOD is alles moontlik, Dankie HERE vir U Genade en Liefde

Mooiste storie ·

Dit is die mooiste storie vir my, daar is soveel lesse, waarvan die belangrikste 2 is die feit dat Ons Hemelse Vader so genadig is en gebede verhoor. Die ander feit is “wanneer jy opreg glo en jou lewe / krisis in die Vader se hande plaas” jong man, jy gee weer moed, jy herinner ons daaraan ” hoe om die Vader opreg te vertrou”!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.