‘Verlamde’ rugbyspeler wil nou teruggee

Heinrich Terblanche saam met sy vrou, Chanel. (Foto: Verskaf)

Meer as vier jaar gelede was die toekoms vir Heinrich “Ollie” Terblanche baie onseker. Sy rugbydroom het in ʼn nagmerrie ontaard en dokters het gesê hy sal nooit weer kan loop nie.

Maar dié dokters het duidelik nog nie vir Ollie geken nie.

Vandag, 55 maande ná daardie dag, kan Terblanche al met gebruik van krukke regop staan en selfs klein entjies loop. Boonop is hy nou ook ʼn volwaardige sakeman aan die hoof van sy eie koffiehandelsmerk, Rise Coffee.

Maroela Media het vroeër berig oor Terblanche wat op 24 Januarie 2015 sy nek gebreek het toe hy as stut vir die SWD Arende-vyftiental uitgedraf het in ʼn kragmeting teen die Evergreens. Terblanche het sy nek in ʼn skrum gebreek en was daarna van sy middellyf af ondertoe verlam. Maar sy vasbeslotenheid om bo alle verwagting weer te loop, het sedertdien elkeen wat sy storie hoor aangegryp.

Terblanche vertel die inspirasie agter Rise Coffee was vir hom baie groter as bloot dié van ʼn sakebesluit. “In die jare nadat ek my nek in die rugbywedstryd gebreek het, het ek ʼn absolute passie vir koffie ontwikkel en die droom is gebore om my eie koffie-onderneming te begin. Maar ek het geweet ek wil dit nie ter wille van selfverryking doen nie; ek wil teruggee aan die mense wat so baie aan my gegee het,” sê Terblanche.

Rise Coffee verteenwoordig Terblanche se vasbeslotenheid om nie op te gee nie, om bo moeilike omstandighede uit te styg, en om sy storie te gebruik om hoop, vertroosting en deernis na ander te versprei.

Rise Coffee. (Foto: Verskaf)

Terblanche vertel dat hy, nadat hy verlam geraak het, finansiële ondersteuning van die Chris Burger-Petro-Jackson-spelersfonds ontvang het. Dié fonds is die amptelike liefdadigheidsorganisasie van die Springbokke en verskaf steun op alle vlakke van die sport aan rugbyspelers wat ernstige en lewensveranderende beserings opgedoen het.

Die fonds het Terblanche gehelp met mobiliteitstoerusting, om sy huis rolstoelvriendelik te maak en het steeds ʼn impak op sy lewe. Daarom wou Terblanche deur Rise Coffee aan die fonds teruggee om sodoende ander beseerde rugbyspelers by te staan.

“Die fonds sal R2 van elke pakkie koffie wat verkoop word ontvang. Die fonds se kenteken word ook op elke koffiepakkie gedruk met ʼn QR-kode wat skakel na my storie toe,” sê Terblanche.

Die name van die twee vermengings Rise Coffee wat beskikbaar sal wees, is ook heel gepas vir Terblanche se verhaal. “The Hero”, ʼn medium geroosterde mengsel, en “The Brave”, ʼn donker geroosterde mengsel.

Heinrich en Chanel Terblanche. (Foto: Verskaf)

ʼn Ongelooflike wonderwerk

Intussen gee Terblanche elke dag alles wat hy het om vordering op sy herstelpad te maak. Chanel, Terblanche se vrou, sê hy is elke dag op sy krukke in die gimnasium om sy liggaam te beweeg en sy spiere sterk te maak.

Chanel vertel mense in die gimnasium sien dikwels Terblanche se krukke en vra dan of hy ʼn knie- of rugoperasie gehad het. “As hulle hoor dat hy sy nek gebreek het en van sy middellyf af verlam was, is hulle stomgeslaan om te sien wat hy kan doen,” sê sy.

Terblanche ontvang steeds stamselbehandeling en het juis vandag weer in Witrivier, Mpumalanga, sy sesde behandelingsessie ontvang.

“Dokters sê nog steeds dieselfde as vier jaar terug; hy moes glad nie kan loop nie,” sê Chanel. “Waar hy nou is, is net ʼn ongelooflike wonderwerk. Dit is net weer vir ons ʼn bewys Jesus ís daar vir ons en dat Hy nie noodwendig net iets vir ons sal gee nie, maar dat Hy van ons ook verwag om hard te werk. Ek is so trots op Heinrich, daar is nie ʼn dag wat hy gaan lê nie. Hy druk homself om die beste te wees vir my en vir ons toekoms, elke dag.”

Die Terblanche-egpaar. (Foto: Verskaf)

Sy vertel hulle het baie hoop dat die stamselbehandeling nog baie vir Terblanche se herstel gaan beteken. Hoewel sy vordering baie stadig is, waardeer hulle elke klein oorwinning en elke treetjie vorentoe.

“Die grootste les wat ons hieruit geleer het, is dat ons God se genade ontvang, maar dat Hy ook van ons verwag om ons alles te gee. Heinrich moet elke dag hard werk, maar ons weet dat Jesus ons die krag gee om dit elke dag te doen. Om te kan opstaan en ons dag aan te pak met die hoop dat Hy hom sal aanraak en hom sal genees, want ons glo met ons hele harte dat Jesus dit kan doen.

“Maar tot daardie dag gee Hy ons elke dag die genade en die krag om te werk, te waardeer wat ons het en nie gejaagd deur die lewe te gaan nie, maar elke klein dingetjie om ons raak te sien.”

Rise Coffee word in George gerooster en verpak en word versprei na kleinhandelwinkels op die Tuinroete, sekere nasionale franchises, koffiewinkels, restaurante en Suid-Afrikaanse rugbyunies. Die koffie sal ook aanlyn verkoop word. Besoek www.risecoffeeco.co.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

J Longland ·

Mooi so Ollie – hou so aan. Jou storie is ‘n inspirasie vir menige persoon en ek glo nie eers jy is bewus van wie jy almal inspireer nie.

Bamsie ·

n Positiewe jong mens wat hard werk. Ek het in 2014 verlam geraak en al oefen mens hoe hard, n spinale koord besering is permanent, as dit n volledige besering is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.