Vermiste hond ná 19 dae weer tuis

Skunk die Boston-terriër is gevind. (Foto: Happy Tails/Facebook)

Trane van blydskap is gestort toe Skunk, ’n geliefde Kaapse Boston-terriër wat in Junie vanjaar op Tafelberg vermis geraak het, na ʼn soektog van 19 dae gevind is.

Skunk het op 17 Junie vanjaar vermis geraak toe hy saam met sy eienaars, Rotem Shachar en haar man, Andrew Whitehouse, gaan stap het.

“Ons was besig om van Overseer Cottages, waar ons daardie nag oornag het, na die parkeerterrein in Constantia Nek te stap. Ek moes met die bussie en bagasie ry. Die res van die 11 mense in ons groep het saam met Skunk en ons ander Bostie, Panda, gestap,” het Shachar op Facebook gedeel.

In ’n stadium het Skunk agter geraak, wat volgens Shachar ongewoon is aangesien hy gewoonlik die voortou neem. Haar man het na hom geroep, maar omdat Skunk doof in sy een oor is en maklik gedisoriënteerd raak, het hy in die teenoorgestelde rigting begin hardloop.

“Andrew het probeer byhou, maar hy kon nie. Baie kort daarna het hy Skunk verloor. Snaaks genoeg, het baie min mense hom gesien. Dit was rondom 12:30 en ’n warm, openbare vakansiedag. Daar was baie mense wat op die berg gestap het.”

Hulle het kort daarna met hul soektog begin.

Skunk se storie het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei, en mense het vrywillig gehelp om Skunk te probeer opspoor.

Reddingspanne het hoog en laag na Skunk gesoek, maar dit het geblyk dat hul soektogte tevergeefs was.

Hommeltuie met termiese sensors is ingespan om die omgewing waar Skunk weggeraak het te fynkam en snuffelhonde is ontbied. ’n R10 000-beloning is ook uitgereik vir enige iemand wat Skunk kan opspoor.

Die familie was egter moedeloos. Ná meer as twee weke was daar steeds geen teken van hul geliefde hond nie.

Skunk is uiteindelik op 5 Julie in ’n stormwaterdrein deur ’n groep kinders gevind.

Angel Camphey, bekroonde komediant en omroeper by Smile 90.4FM, was besig met ’n staptog met haar eie honde, toe die groep kinders haar nadergewink het.

“Ek het nadergeloop en ʼn bewende Boston-terriër, met een duidelike blou oog en een donker een, gesien,” het Camphey later op Twitter gedeel.

Talle ander honde-liefhebbers het toe hand bygesit om die storie van Skunk met Camphey te deel. Foto’s is uitgeruil en goeie nuus het uiteindelik aan sy eienaars se deur kom klop.

Skunk is veearts toe geneem en is nou weer snoesig tuis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.