Vermiste hond ná vier jaar met eienaar herenig

Scotty nadat hy met Werner Gerber (middel) herenig is. (Foto: Verskaf)

Scotty nadat hy met Werner Gerber (middel) herenig is. (Foto: Verskaf)

ʼn Hond wat Saterdag – vier jaar ná sy verdwyning – met sy eienaar herenig is, het weereens bewys hoe noodsaaklik en voordelig dit is om ʼn mikroskyfie met jou persoonlike besonderhede in jou troeteldiere te laat inplant.

Scotty, ʼn Ierse wolfhond-Bouvier-kruising, is vier jaar gelede langs ʼn dam in Rustenburg by sy eienaar, Werner Gerber, gesteel. Gerber het Scotty destyds by die DBV in Rustenburg aangeneem en vir hom ʼn mikroskyfie laat insit.

Intussen het dit aan die lig gekom dat Scotty die afgelope vier jaar op die Suidkus gewoon het.

Scotty het destyds, na sy verdwyning, by ʼn huis in Rustenburg opgedaag.  Hy het vir ʼn paar dae by dié vrou gebly voordat hy na haar vriendin se huis gestuur is.

Dalene Erasmus van die SPCA Lower South Coast het aan Maroela Media vertel die mense wat na Scotty by dié omgesien het, het onlangs na die Suidkus verhuis. “Ons is nie seker hoe die storie inmekaar steek nie, want iemand het baie duidelik gesien hoe ʼn motor vir Scotty langs die dam oplaai. Dit is moontlik dat Scotty by die diewe weggeloop het.

Scotty en Werner nadat hulle herenig is. (Foto: Verskaf)

Scotty en Werner nadat hulle herenig is. (Foto: Verskaf)

“Volgens die vrou wat hom aanvanklik in Rustenburg ‘aangeneem’ het, het Scotty glo verskeie kere probeer weggeloop. Scotty het hier in Leisure Bay weer weggeloop, en dit is toe dat Marlize Booyens op hom afgekom het waar hy in die hoofpad gestap het.”

Booyens, ʼn liefdadigheidswerker van die DBV in Uvongo, was op pad om voorraad te gaan haal by ʼn verskaffer toe sy vir Scotty langs die pad gewaar. Sy het hom in haar motor gelaai en na die DBV geneem.

“Dit was ʼn bestiering dat Marlize daardie dag in die hoofpad was, want sy moes eintlik die vorige dag die voorraad gaan oplaai het, en kon toe nie daarby uitkom nie,” het Erasmus vertel.

“Ons het by die DBV ʼn skandering van Scotty gedoen en dit is toe dat ons bevestig het dat hy wel ʼn mikroskyfie het met Werner se besonderhede. Ons het hom genader en laat weet ons het sy hond hier in Leisure Bay gekry,” het Erasmus gesê.

Volgens Erasmus was Gerber stomgeslaan om te hoor dat Scotty nog leef. “Hy het moed opgegee dat Scotty nog leef, aangesien hy al vier jaar weg is. Hy was verbaas om te hoor Scotty is in Uvongo. Hul het aangebied om Scotty terug te vlieg Johannesburg toe maar Werner wou Scotty persoonlik kom haal met sy motor.”

Scott Kvalsig, voorsitter van die SPCA Lower South Coast het die hond aan Gerber oorhandig. “Die eerste twee minute het Scotty nie vir Werner herken nie, maar toe hy besef wie dit is, het hy heeltyd by hom gestaan. Van daar af was hulle weer onafskeidbaar. Scotty het doodluiters in Werner se kar geklim, op die sitplek gaan lê en glad nie probeer om te spring nie.”

Erasmus het klem gelê op die noodsaaklikheid van mikroskyfies in troeteldiere. “Dit is ook baie belangrik om ʼn optelhond of -kat na die naaste veearts, DBV of diereskuiling te neem sodat ʼn skandering eers gedoen kan word. As Scotty vier jaar gelede al geneem is vir ʼn skandering, sou dit hom en Werner jare lange hartseer gespaar het. Ek glo Scotty het soveel keer van die plot af probeer wegloop omdat hy na Werner gesoek het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nou ja Toe. ·

Phfftt.
‘…..op die Suidkus gewoon het’.
Engels: …lived on the South Coast.
PS.
Plus n spul ander.

Janet ·

Ag wonderlik ek ek kry skoon ‘n knop in my keel, kan daar nie meer sulke goeie nuus gepubliseer word nie!!

Johanna ·

Pas asb nou vir Scotty baie mooi op dat hy nie weer n kans kry om weg te loop nie. Baie bly hy is veilig.

Suz ·

Baie mooi storie. Maar die taalkeuses! “Geoffer”??? Moet dit nie aanbied wees nie? A nee a MM julle kan beter

Mariné Lourens ·

Dagsê Suz

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Josua Keys ·

Suz, daar was so ‘n rukkie gelede ‘n skrywe gelewer waar gevra was waarom Maroela Media nog kommentaar op hul berigte toelaat en dit het juis daaroor gegaan dat mense mekaar aanvat op die berigte, ek wil nie lelik wees nie en ek dink jy het wel goed bedoel maar asb in die toekoms dink eers mooi wat jy doen, die persoon wat die berig geskryf het dink ek is in die gesig gevat jou kommentaar! Wat maak dit nou saak of die woord of daardie woord gebruik moes word as dit nie vir jou werk nie dit werk dalk vir ander, Suz as jy almal wil reghelp in die lewe doen so voort maar nie waar almal jou intensie moet ervaar nie, stuur eerder ‘n privaat boodskap aan Maroela media en vra om die artikel te wysig, ek glo jou intensie was opreg bedoel en wou nie iemand in die gesig vat nie maar die aksie spreek vanselfsprekend maar onthou gerus wat ek vra, ek is ook nou skuldig maar ek het net gevoel om dit aan u te noem en ja dit is ‘n mooi storie met n mooi einde en dit vat baie tyd om so ‘n eenvoudige storie op papier vas te lê so journaliste kan soms ook voute maak soos ek soms verkeerd spel, die mense spandeer soms ure van hul Families af net om n storie vir my en jou te bring, geniet eerder die storie as om vout daarin te vind!

E SCHOLTZ ·

Hoeveel sal so ‘n skandering deur die DBV kos? Barmhartiges het dikwels nie fondse vir allerhande tierlatyntjies nie, aangesien hondekos duur is. Gelukkig is hul liefde en versorging gratis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.