Vermiste skeepswrak opgespoor

(Foto: Falklands Maritime Heritage Trust/National Geographic)

Die wrak van die Endurance wat 106 jaar gelede in Antarktika gesink het, is pas in ʼn bykans ongeskonde toestand gevind.

Dié ontdekking kom ʼn maand sedert die 100ste herdenking van die eerste soektog na dié skip. Sir Ernest Shackleton, die man wat aan die stuur van die pooltog was waartydens die skip gesink het, was ook deel van daardie soektog na die wrak.

ʼn Span avonturiers, mariene argeoloë en tegnici het die wrak Woensdag gevind op die bodem van die Weddell-see aan die oostekant van die Antarktiese Skiereiland met behulp van ondersese, afstandbeheerde vaartuie.

Volgens die New York Times het die span vir meer as twee weke in ʼn gebied van 150 vierkante myl gesoek na waar die skip in 1915 gesink het. Die Suid-Afrikaanse navorsingskip SA Agulhas II is ingespan om die soektog uit te voer.

Die skip is teen ʼn diepte van 3 008 m en vier myl (ongeveer 6,5 km) suid van die posisie waar dit gesink het, soos Frank Worsley, die kaptein van die Endurance, dit jare gelede aangeteken het.

Dr. John Shears, die leier van die jongste pooltog, het aan Sky News gesê die beeldmateriaal van die Endurance toon dat dit bykans ongeskonde is.

“Ons het geskiedenis gemaak met die ontdekking van die Endurance, en het een van die moeilikste soektogte ter wêreld na ʼn skeepswrak suksesvol voltooi.”

Diegene wat deel was van die pooltog was uiters beïndruk met die toestand waarin die wrak gevind is.

“Dít is verreweg die bes bewaarde wrak wat ek nog ooit gesien het. Dit staan regop, feitlik ongeskonde en in ʼn briljante vorm van verduursaming. Jy kan selfs nog die naam Endurance uitmaak,” het Mensun Bound, ʼn maritieme argeoloog wat deel was van die tog, gesê.

Elke bemanningslid van die Endurance het die tragedie oorleef. In 1921 het Shackleton teruggekeer Antarktika toe, net om daar aan ʼn hartaanval te sterf. Sy vrou het gevra dat sy liggaam daar begrawe word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
ONTPS

Merkwaardig! Ek wonder of dit die sout in die water, die koue of ‘n kombinasie van beide is wat die wrak so goed “preserveer”?