Verpleegster ry 800 km deur die nag om pasiënte te help

Sr Siebritz en Cally Williams (Foto: Verskaf)

Twee pasiënte van Port Elizabeth wat gewag het vir ʼn nieroorplanting wat hul lewe sou red, het onlangs die oproep gekry waarvoor hulle al so lank bid: Daar is gepaste nierskenkers vir hulle albei gevind. Al probleem is dat hulle vroeg die volgende oggend in Kaapstad moet wees, aangesien die oorplanting slegs binne ʼn sekere tyd vandat die nier beskikbaar gestel is, gedoen kan word.

“Nadat ons die nuus gekry het, het ons dadelik ʼn manier begin soek om Cally in Kaapstad te kry, want anders sou haar kans verlore raak,” het Mercia Heilbron wat een van die vroue, Cally Williams (25), se primêre versorger is, gesê.

Sr. Salome Siebritz, ʼn verpleegster by National Renewal Care (NRC), wat gesorg het vir die pasiënte se akute dialise in Port Elizabeth, ken Williams al sowat vyf jaar lank, en het gewonder hoe die twee vroue op sulke kort kennisgewing in Kaapstad gaan kom.

Sr Siebritz (tweede van links) saam met die NRC span (Foto: Verskaf)

“Ek was by die huis die aand toe my kollega my gebel en die nuus gegee het. Ons het die logistiek bespreek van hoe die pasiënte betyds vir die oorplanting in Kaapstad gaan kom,” het Siebritz gesê.

Die laaste vlug van die dag van Port Elizabeth na Kaapstad sou reeds binne 30 minute vertrek nadat die pasiënte in kennis gestel is van die skenkers. So, hulle het nie genoeg tyd gehad om die vlug te haal nie.

“Daar was nie tyd om te verloor nie. Ek het onmiddellik vir Cally gebel om vervoerreëlings te tref, omdat ek bekommerd was dat sy die geleentheid gaan misloop. Ek het besluit ek sal haar sélf Kaapstad toe neem,” het sy gesê.

Siebritz het ook die ander pasiënt, wat anoniem wil bly, genader en aangebied dat sy ook kan saamry.

“Ek het die NRC gebel en gevra of daar kleinkasgeld is vir die petrol wat ons nodig het vir die 800 km. Die personeel het gesê hulle wil bydra tot die koste van die reis. Hulle het spontaan geld bymekaar begin maak, van die dokters tot die skoonmaakpersoneel. Selfs ʼn paar pasiënte was gretig om skenkings te maak om dié twee vroue in Kaapstad te kry,” het Siebritz gesê.

Siebritz het vir Williams, haar tannie Mercia en die ander pasiënt om negeuur die aand opgelaai en die 800 km begin aanpak.

Williams moes by Netcare Christiaan Barnard Memorial Hospitaal uitkom en die ander pasiënt by Groote Schuur Hospitaal.

“Dit was ʼn groot verligting toe ons agterkom dat ons betyds is ná ons deurnag gery het,” het Siebritz gesê.

Die geld wat ingesamel is om hul reiskoste te dek, het almal se verwagtings oortref en was ook genoeg om vir Williams ʼn vliegtuigkaartjie te koop toe sy uit die hospitaal ontslaan is. Vervoer vir die ander pasiënt is ook gereël.

Vir meer inligting oor hoe om ʼn orgaanskenker te word, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

SM ·

Wat ‘n wonderlike en onselfsugtige daad! Well done Salome. Mag dit tienvoudig terug kom na jou.

Gert van Wierdapark ·

Dis mos waarvoor ons op die planeet aarde geplaas is – om ander te help en nie net bymekaar te wil maak, of te vra “what is in it for me”. Pragtig dames en sterkte met die operasies en seen vir die herstelproses. Die brokkie nuus om 22:22 het my dag opgevrolik nadat ek vroeer vandag van ons 15,5 jaar oue foxie, Soekie, moes afskeid neem met genadedood.

Nettie ·

Sien, daar bring hierdie positiewe berig ‘n vonkie verligting in iemand se lewe wat – toevallig – op daardie spesifieke dag baie hartgebroke moes wees. Om ‘n “fur kid” af te staan aan die dood – en boonop nog daardie baie, baie moeilike besluit te neem om ‘n dokter toe te laat om ‘n dodelik-giftige mengsel in hul are in te spuit – breek ‘n mens se hart, net soos jou hart sou gebreek het as dit ‘n mense kind was wat aan ‘n ongeneeslike siekte dood is. Sterkte, Gert van Wierdapark – my oë “lek” sommer nou vreeslik hier op my hande waar ek tik …………

Heksie ·

Onbaatsugtige liefde vir jou naaste, ek is nou sommer in trane!
Sterkte aan die pasiente met hul nuwe niere!

Saartjie ·

Salome Siebritz verdien ‘n medalje of ‘n orde of die een of ander amptelike erkenning – nie net vir die feit dat sy ‘uit die boks’ gedink het nie, maar ook dat sy gewillig was om self die lang pad Kaapstad toe aan te durf! Jy’s ‘n voorste vrou, Salome!

Esme ·

Soveel negatiewe goed in die wêreld.. soveel selfsug.. Hoe lekker om te lees oor die GOEDHEID van mense.. DANKIE!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.