Verpleegsters as sterre vereer

Henriette Harris van Life Cosmos Hospitaal in eMalahleni (Witbank) is Solidariteit se Verpleeggilde se verpleegster van die jaar. (Foto: Verskaf)

Die Solidariteit Verpleeggilde het verlede week tydens ʼn glansgeleentheid aan die verpleegberoep erkenning gegee deur pryse te oorhandig aan die wenners van die VerpleegSTER van die jaar-kompetisie.

“Die hele beroep bestaan uit verpleeg-sterre. Ons wil elke verpleegster se onmisbare rol in ons samelewing erken en dankie sê vir die geweldige opofferings wat hulle elke dag maak.

“Daar is soveel dae wat hulle nie ʼn teetyd het nie en waar etenstyd ʼn luukse is. Hulle is letterlik daar vir die pasiënte en hou hande vas wanneer geliefdes nie naby is om dit self te doen nie. Daarvoor verdien hulle al die eer wat hulle toekom,” sê Henru Krüger, sektorhoof van die professionele beroepsgildes by Solidariteit.

Die inisiatief deur die Verpleeggilde het ontstaan na aanleiding van die Covid-19-pandemie. Volgens Krüger is die durf en toewyding waarmee verpleegkundiges daagliks werk duidelik onderstreep, en die belangrike rol van verpleegpersoneel in die gemeenskap is beklemtoon.

Hy benadruk verder dat hierdie hoogs opgeleide en gekwalifiseerde professionele persone ʼn nasionale bate vir Suid-Afrika se gesondheidsorg is.

Kollegas sowel as die publiek is die geleentheid gegun om verpleegpersoneel te benoem waarna die toptien deur ʼn openbare stemproses bepaal is. Die toptien is daarna aangewys en die topdrie wenners is tydens die glansaand gekroon. Die wenner is deur die meeste stemme bepaal.

(Foto: Verskaf)

Die wenners en pryse is as volg:

1ste plek: Henriette Harris – Life Cosmos Hospitaal in eMalahleni (Witbank).

2de plek: Alta Claudine Matthee – Mediclinic Kloof Hospitaal in Pretoria

3de plek: Yolande Durant – Matlosana Medical Health Services in Klerksdorp

“Hierdie wonderlike voorsteliniewerkers verdien eindelose waardering en ondersteuning vir hulle onbaatsugtige toewyding. Deur hierdie inisiatief kan ons in ʼn mate dankie sê aan verpleegkundiges wat hulle kollegas en die publiek se lewens aangeraak het. Hulle het nie hierdie beroep vir die salaris gekies nie, maar om in diens van ander te staan. Ons salueer elkeen van hulle en sê uit ons harte uit, dankie,” sê Kruger.

Die Verpleeggilde se doel is om ʼn nuwe tradisie te begin deur jaarliks ʼn kompetisie te hou waar verpleegsters die geleentheid kry om deur hulle kollegas of lede van die publiek benoem te word as VerpleegSTER van die Jaar, waarna die toptien verpleegkundiges by ʼn glansgeleentheid vereer sal word.

Die doel hiervan is om aan verpleegkundiges erkenning te gee, maar ook om die publiek bewus te maak van die belangrikheid van hierdie beroep binne die samelewing en nuwe waardering daarvoor te kweek.

Die toptien verpleegsters is met ‘n opbenbare stemproses bepaal. V.l.n.r. is: Febe Bruwer, Nathalie van Niekerk, Linda de Villiers, Sureta Schulz, Yolande Durant (derde plek), Charmaine Venter, Maga de Ruyter, Alta Claudine Matthee (tweede plek) , Henriette Harris (wenner) en Riana Hellerle. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.