Verrassingsvonds gemaak by Bethulie-monument

bethulie

Die bottel wat in die muur gevind is. (Foto: Quadeen Grundling)

ʼn Man van Bethulie in die Vrystaat het Dinsdag ʼn groot verrassing gekry toe hy ʼn marmerplaatjie van die Ossewa-monument op dié dorp wou restoureer.

Quadeen Grundling het aan Maroela Media vertel hy het Dinsdag ʼn glasbottel met briewe agter die plaatjie in die muur van die monument gevind. Dié bottel moes in 1938 daar geplaas gewees het tydens die simboliese ossewatrek wat in daardie jaar, 100 jaar ná die Groot Trek, op die dorp plaasgevind het.

Volgens Grundling het hy dadelik met Trudie Breedt-Venter, ʼn afgetrede geskiedenisboekskrywer wat op die dorp woon en vrywillig help om monumente te restoureer en in stand te hou, in verbinding getree.

“Ek het die plaatjie afgehaal, want ek wou die letters tuis gaan oorverf. Toe ek die bottel in die muur sien, het ek dadelik geweet ek het nou iets interessants hier beet en hom uitgehaal. Dit het vir my gelyk of daar koeverte binne-in opgerol is met ʼn dokument aan die buitekant. Die letters is baie vaag, so ons weet nie wat daarop staan nie.”

bethulie

Die monument. (Foto: Verskaf)

Breedt-Venter het aan Maroela Media gesê die monument het gepryk met beelde van ʼn ossewaentjie en twee osse bo-op. Die beelde is gemaak van patroondoppies wat tydens die gevegte van die Anglo Boereoorlog agtergebly het. “ʼn Klomp seuntjies het die doppies opgetel en toe een van die seuns groter was, het hy die beelde van die ossewaentjie en osse gemaak.”

Die osse is in 1990 afgesteel en die ossewaentjie is daarna in die museum geberg. “Ons het replikas van die osse laat maak en wou ʼn foto van die oorspronklike ossewa en ossies saam met ʼn inligtingsbord by die monument laat opsit. Dit is toe dat ek vir Quadeen kontak.”

Sy vertel hulle weet nog steeds nie wat presies in die dokumente wat in die bottel is staan nie, aangesien hulle dit nog nie wou oopmaak nie. “Ons is baie versigtig met die vonds. Dit is baie oud en ons is bang die papier gaan skeur of ander skade ly. Dit is ʼn hele rol papiere wat styf opgerol is. Ons kan sien daar is nog fyn op geskrywe, maar ons kan nie sien wat dit sê nie.”

Die bottel is tans in kartonbokse in ʼn kluis bewaar sodat dit geen son of vog kan kry nie, terwyl die  restoureerders op soek is na kundiges wat hulle kan help om die bottel oop te maak, die dokumente te bestudeer, te dupliseer en te bewaar.

“Ons beplan om ʼn groot dag daarvan te maak wanneer ons onthul wat in die dokumente is. Ons vermoed dit is groete-boodskappe van mense wat die simboliese ossewatrek van 1938 bygewoon het.”

Kundiges wat na vore wil kom en hulp wil verleen, kan vir Trudie Breedt-Venter kontak by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Adel ·

Wow dit is fantasties. Sal ook graag wil weet wat daarop gegriffel is. Iets kosbaars

Rooi Els ·

Dit bevat die presiese ligging van die plek waar die krugerrande versteek is.

HB ·

Hulle moet die Erfinisstigting by die Voortrekkermonument kontak. Daar is mense wat met jare oue argiewe werk en ek is seker hulle is kundig genoeg om hulp te verleen. (012) 325 7885 of (012) 323 9050

Karin ·

Dit is lekker en interessant om so ‘n berig te lees. Sal graag vorentoe weer wil hoor wat verder met die bottel gebeur het.

henda ·

Dit is so lekker om so iets nog te kan lees. Sal graag wil weet wat op daardie dokumente staan, hou ons op hoogte asb maroela.

Elma ·

Ek is gedoop op daardie ossewa trek in Desember 1938. Kan ‘n foto onthou van my ouers met hulle Voortrekker drag maar is nie seker presies watter dorp. My pa was onderwyser op Vaalbosbult ek vermoed by Bloemhof

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.