Verseker só dat herstelwerk nie ‘n nagmerrie is

car-repair-362150_1920Die meeste verbruikers kan goeie stories oor herstelwerk vertel, of dit nou oor goeie ondervindings of absolute nagmerries was. Verbruikersgoedere, soos motors en elektriese toestelle, breek maar almal die een of ander tyd en moet herstel word. Gelukkig beskerm die Wet op Verbruikersbeskerming verbruikers ook teen uitbuiting deur herstellers. Ina Opperman verduidelik wat verbruikers se regte is wanneer goedere herstel moet word.

Die Wet op Verbruikersbeskerming beskerm twee verbruikersregte wanneer dit by herstelwerk kom, naamlik die verbruiker se reg tot keuse en die reg tot billike waarde, goeie gehalte en veiligheid. Dit is belangrik om te weet wat jou regte as verbruiker is wanneer jy herstelwerk laat doen om te verseker dat jy nie uitgebuit word nie.

Voorafmagtiging

Artikel 15 van die Wet bepaal dat jy herstel- of onderhoudsdienste vooraf moet magtig voordat dit gedoen mag word. Hierdie artikel beskerm verbruikers spesifiek teen probleme wat hulle met die hande in die hare gehad het voordat die Wet in werking getree het, soos dat baie duur herstelwerk gedoen word waarvoor hulle nie begroot het nie. Dit het veral gebeur met motorherstelwerk en hierdie soort klagte was baie moeilik om op te los. Nou mag net werk gedoen word wat jy gemagtig het, soos versiening van jou motor en vervanging van onderdele wat gewoonlik tydens versiening vervang word, soos filters.

Kosteberaming

‘n Mens kan natuurlik nie vooraf magtiging gee indien jy nie weet hoeveel dit gaan kos nie en daarom maak artikel 15 voorsiening daarvoor dat die hersteller vir jou ’n kosteberaming moet gee wat aan die voorgeskrewe vereistes voldoen. Geen vereistes is sover voorgeskryf nie, maar dit is belangrik dat jy presies moet weet waarvoor jy betaal en hoeveel. Dit is ook altyd beter om die kosteberaming op skrif te kry sodat jy ‘n bewys het waarvoor jy magtiging gegee het.

Jy kan ook die die kosteberaming van die hand wys en die werk dadelik magtig, maar die hersteller moet dit eers aanbied. Jy kan ook vooraf enige koste tot op ’n bepaalde maksimum bedrag magtig en die bedrag mag dan nie meer as hierdie bedrag wees sonder jou toestemming nie. Wanneer jy byvoorbeeld jou wasmasjien laat herstel, kan jy vooraf vir die hersteller sê jy wil nie meer as R600 betaal nie en hy moet dan die werk doen tot op daardie bedrag.

Die hersteller mag ook nie ‘n fooi hef om die kosteberaming op te stel nie. Dit sluit die koste van enige diagnostiese werk, uitmekaarhaal of aanmekaarsit wat vereis word om ’n kosteberaming op te stel of enige skade of verlies wat gebeur in die loop van die opstel van die kosteberaming in, tensy die diensverskaffer vir jou sê wat dit sal kos om die kosteberaming op te stel en jy dit goedgekeur het nie. Dit was ook voordat die Wet in werking getree het ‘n groot probleem omdat verbruikers nie verwag het om te betaal vir ‘n kosteberaming of kwotasie nie.

Wanneer die hersteller vir jou ’n kosteberaming verskaf het, mag hy nie vereis dat jy meer betaal vir die werk en onderdele as wat die kosteberaming aandui nie, tensy hy jou in kennis gestel het dat dit meer gaan kos en jy dit goedgekeur het. Dit kan nie meer gebeur dat jy jou motor vir versiening ingee en dan eers wanneer jy dit gaan haal, vasstel dat ‘n duur onderdeel vervang is waarvoor jy nou moet betaal nie.

Waarborg op herstelwerk

Artikel 57 bepaal die waarborg op herstelde goedere om verbruikers te beskerm teen swak herstelwerk. Volgens hierdie artikel waarborg die hersteller elke nuwe of herboude onderdeel wat gedurende herstel- of onderhoudswerk geïnstalleer word, asook die arbeid wat vereis word om die herstelwerk te doen vir drie maande nadat die werk gedoen is of selfs langer indien die verbruiker en hersteller skriftelik daaroor ooreenkom. Hierdie waarborg op herstelwerk geld saam met enige ander versweë of uitdruklike waarborg.

Wanneer jy dus jou oond laat herstel en dit hou op met werk binne drie maande, moet die hersteller die oond gratis herstel as dit dieselfde probleem is, of jou geld teruggee, sodat jy ‘n ander hersteller kan kry om die herstelwerk te doen.

Hierdie waarborg is egter nietig indien jy die onderdeel of goedere wangebruik of misbruik en is nie op gewone slytasie, wat tydens gewone gebruik gebeur, van toepassing nie.

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor bestellings wat nie afgelewer word nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan ·

Wat is die Verbruikersraad se e-posadres, kontaknommers, posadres, ens..? Laat weet my asseblief. Dankie

Johan ·

Die wet op verbruikersbeserming is ‘n hond sonder tande. Daar is geen strafbepalings in die wet, so die diensverskaffer steur hom nie daar aan nie. Absoluut onmoontlik om n geskil te raporteer. Elke provinsie het sy eie kontak nommers. Soek op die web onder “ombudsman”. Miskien het jy meer geluk as ek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.