Versoeningsaamtrek: Vat hande, bid vir SA

Angus Buchan

Angus Buchan (Argieffoto)

Die tyd raak min om jou gratis sitplek te bespreek vir 19 November se versoeningsbyeenkoms by die FNB-Stadion in Soweto, Johannesburg.

Die evangelis, Angus Buchan, wat een van die sprekers by die Sacred Assembly-byeenkoms is, het gevra dat alle volwassenes en kinders saam moet kom bid vir vrede en stabiliteit in Suid-Afrika.

“Mense soek hoop, liefde, vrede en stabiliteit. Dit is juis liefde, vergifnis en goeie gesindhede wat geweld en woede moet vervang,” het Buchan gesê. Volgens hom is daar ʼn reusegebrek aan mense wat mekaar verstaan en vergewe. Dit lei tot ʼn gees van geweld, woede en negatiwiteit wat weer oorspoel na die jeug. “In die proses raak ons liefdeloos, is ons besig om mekaar meer en meer te wantrou en die land se naam deur die modder te sleep. Dit is uiteindelik selfvernietiging.”

Die hooforganiseerder van die byeenkoms, die sanger Joe Niemand, het gesê dit is nie net ʼn een-dag-gebeurtenis nie. “Dit moet net die begin wees van iets wat ʼn nasionale trefkrag gaan hê. Die geleentheid word gratis aangebied in belang van die land en sy mense, en in afhanklikheid en geloof dat ons hemelse Vader dit sal gebruik om ons gesindhede te verander. Die byeenkoms strek ver oor alle kleur, taal en kerklike denominasies heen.”

Niemand vertel hoe hy in ʼn restaurant met ʼn groep leiers in die taxi-bedryf vergader het om te praat oor openbare vervoer na die FNB-stadion op 19 November. “Dit is besonder sensitief, aangesien mense oor afgebakende sones vervoer sal moet word. Die onderhandelinge het gegaan oor vreedsame samewerking en buigsaamheid op die dag. Aan die einde van die vergadering het die hele groep in die middel van die besige restaurant opgestaan, in ʼn kring hande gevat, en saam gebid vir God se seën oor Suid-Afrika.”

“Dit was ʼn Goddelike oomblik en die teenwoordigheid van Jesus was aanvoelbaar. Verreweg die meeste mense in Suid-Afrika, oor alle kleur- en kultuurgrense heen, smag na hoop, vrede en geregtigheid.”

Buchan sê Suid-Afrikaners kyk dikwels soveel waarhede mis deur meer op die negatiewe te fokus. “Ons woon in een van die mooiste lande ter wêreld en verreweg die meeste Suid-Afrikaners is warm en liefdevolle mense. Dit is dieselfde mense wat voor die Here moet buig en Hom vra om die gees van verwoesting te breek.

“Ek nooi alle Suid-Afrikaners om op 19 November in Soweto saam te trek: jonk, oud, swart, wit, bruin, Indiërs, mans, vroue en kinders; elke individu – myners, studente, predikers, boere, sportmense, huisvroue, oues van dae, onderwysers, politici, sakemense en werkloses …”

Buchan glo Suid-Afrikaners moet in die eerste plek erken dat ons as mense fouteer en dat ons om vergifnis moet vra. “Eers wanneer ons voor die Almagtige buig en sy leiding vra, kan ons ʼn ommekeer in die land verwag.”

  • Lesers wat die geleentheid wil bywoon kan kaartjies bekom deur dit direk by Computicket se kiosks af te haal of deur Computicket se dienssentrum te skakel by 0861 915 8000  of 011 340 8000. Kaartjies word beperk tot 10 per persoon. Kaartjies vir parkering kan ook by Computicket bespreek word en Park n Ride-geriewe is beskikbaar. Rea Vaya-busse en Uber-taxis sal ook vervoer na die geleentheid verskaf, met spesiale afslag vir mense wat die eerste keer van Uber se diens gebruik maak.
  • Vir meer inligting, besoek Buchan se Facebook-blad of webwerf.
  • Die FNB-stadion in Soweto, Johannesburg, word vir die geleentheid gebruik omdat dit een van die stadions in die land met die grootste kapasiteit het sodat die beoogde 100 000 Christene gemaklik hier bymekaar kan kom, het Buchan gesê.
  • Lees al die berigte oor die Sacred Assembly-byeenkoms op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Maria Van Dieweeck

Dankie oom Angus, wens ek kon dit bywoon!

Carel

ka-ching

Engelbek

Sal maar die toekoms dophou om te sien of dit enige vrugte afwerp.

humor

Hierdie is so n grootse saak dat niemand negatief daaroor wil staan nie. Dit is egter jammer sekere kerke het in n groot mate hul geloofwaardigheid verloor en daarmee ook elke geloofsaksie en die Christendom laat bevraagteken. Die waarheid moet seefier dat buite die versoening van CHRISTUS kan daar geen versoening wees nie. Versoeninng beteken die allerlaaste die aan vaarding van die Belharbelydenis of die prysgawe van die eiendomlike van eie identiteit soos dikwels verkondig. Christus se versoening het ook volkere en kulturele verskeidenheid geheilig.. Daarom sal die christen juis sy eie eindomlike as gawe van God hoog ag en… Lees meer »

humor

Nou ja veswyg dan maar die waarheid