
Monica Koekemoer, programkoördineerder in versorgingsopleiding by die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut, Ninya Zowitsky, versorger, dr. Elsha Hermann, hoof van navorsing, programme en opleiding, en Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur, by die jongste groep versorgers se plegtigheid. (Foto verskaf)
Deursettingsvermoë en geloof som die verhaal van dié versorger op, wat pas aan die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut afgestudeer het. Sy is ook vereer as die student wat die beste vordering getoon het.
Monica Koekemoer, programkoördineerder in versorgingsopleiding by die Opleidingsinstituut, beskryf Ninya Zowitsky (33) van Pretoria as ʼn ongelooflike vrou wat ʼn reeks uitdagings in haar lewe oorkom het en ʼn inspirasie vir vele geword het.
“Ninya is ʼn sterk, saggeaarde vrou wat altyd omgee vir haar medemens en passievol is oor alles wat sy onderneem. Tog, agter haar stralende glimlag skuil ʼn lewensverhaal van ongelooflike stryd en vasberadenheid,” sê Koekemoer.
“Een van die grootste uitdagings in Ninya se lewe was die diagnose van kanker by haar seuntjie toe hy skaars nege maande oud was. In daardie tyd het hulle nie gedink hy sou sy negende verjaardag sien nie, maar hierdie jaar het hy dié mylpaal bereik.”
Koekemoer sê dit was egter nie die enigste stryd nie. Ninya se man is twee dae ná hul troue met breinkanker gediagnoseer, terwyl haar dogtertjie ʼn paar maande gelede amper aan breinvliesontsteking dood is. Haar laaste lewende familielid, haar pa, is vanjaar in April oorlede. ʼn Maand daarna is die gesin tydens ʼn huisroof oorrompel en Ninya is aangerand. Haar kinders het gelukkig weggekruip, anders was hulle ook beseer.
“Ten spyte van hierdie uitdagings het Ninya ʼn ongelooflike veerkragtigheid en dryfkrag getoon. Sy het besluit om aan te hou studeer, nie net vir haar eie toekoms nie, maar ook as ʼn manier om die duiwel te wys dat hy nie sal wen nie. Haar verlange om ʼn uitweg te vind en ʼn lewe te bou, het haar aangevuur om nooit op te gee nie.”
Sy het in 2022 ʼn artikel oor Helpende Hand se versorgingskursus gelees en dit het presies ingepas by haar roeping en droom om ʼn versorger te word. Sy het nie gehuiwer om in te skryf nie en vanjaar die kursus gedoen nadat sy ʼn rentevrye studielening van Helpende Hand se Studietrust ontvang het.
Ninya het pas afgestudeer en het reeds werk by die Residentia Mirtehof tehuis vir bejaardes in Pretoria gekry. Sy is een van 106 versorgers wat reeds deur Helpende Hand opgelei is en wat ʼn verskil maak in die lewens van weerlose mense.
“Ninya het nie net geleer hoe om te versorg nie, maar ook die belangrikheid van empatie en hoe om konflik te hanteer. Die belangrikste van alles was dat God altyd ʼn sentrale plek in hul lewens behou het.
“Hierdie storie is ʼn bewys van die krag van geloof, vasberadenheid en liefde. Haar verhaal herinner ons daaraan dat daar selfs in die donkerste tye daar altyd ’n lig aan die einde van die tonnel is. Ons kan almal in onsself en ons drome glo, en ons kan onsself dryf om ons doelwitte te bereik,” sê Koekemoer.
Vir meer inligting oor die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut en om studente soos Ninya te ondersteun om die versorgingskursus te doen, besoek www.helpendehandopleiding.co.za.
Baie geluk Ninya Zowitsky met die prestasie en baie dankoe aan Solidariteit se Helpende Hand Opleidingsinstituut wat dit moontlik gemaak het. Alle dank aan alle Versorgers, julle doen ongelooflike werk wat 100% deur pasie gedryf word, ek haal my hoed vir julle af.