Versorging van bejaardes druk op spesiale harte

Die Ons Tuis-inwoner spog met haar splinternuwe bril. (Foto verskaf)

Persone met spesiale behoeftes word met ʼn rede só genoem; hulle het unieke behoeftes. Dit beteken dat spesiale mense met spesialis vaardighede nodig is om in hierdie besonderse behoeftes te voorsien.

Natasha van Tonder, maatskaplike werker by Ons Tuis, vertel van ʼn onlangse gebeurtenis wat weer beklemtoon het dat daar wel nog mense is met ʼn hart vir ouer mense, maar spesifiek ook vir persone met spesiale behoeftes.

Ons Tuis, ʼn bejaardesorggeriewe bestaande uit agt oorde, beskik oor verskillende verblyfopsies wat wissel vanaf selfsorgeenhede tot gespesialiseerde voltydse sorg aan persone wat aan demensie of Alzheimer se siekte ly. Personeel met ʼn passie vir ouer mense sluit gekwalifiseerde verpleegkundiges, maatskaplike werkers en opgeleide helpers in.

“Ons soek al lankal na ʼn oplossing om een van ons inwoners met spesiale behoeftes te help om haar stukkende bril reg te kry. Behalwe dat die tannie nie kan verstaan hoekom jy haar bril by haar sal wil wegneem nie, is dit ook bykans onmoontlik om haar vir ʼn oogtoets te neem.

“Die span was al radeloos toe Lynnette Pretorius, oogkundige by Brooklyn Optica, onlangs by Ons Tuis ingestap het om haar eie ma vir versorging na ons te bring. Sy het van die bril-dilemma te hore gekom en ʼn oplossing gehad. Lynnette kon die huidige lensvoorskrif verkry en het toe ʼn splinternuwe bril op grond hiervan aan die tannie geskenk. Sy is ʼn ware engel wat ʼn groot verskil gemaak het. Die tannie glimlag nou breed en lyk pragtig met haar nuwe bril,” het Natasha gesê.

“Wanneer jy met bejaardes werk en veral met persone met spesiale behoeftes, is dit belangrik om in húlle wêreld in te beweeg en jouself die heeltyd te vra hoe jy daardie persoon kan akkommodeer. Ek kan liewer op my knieë staan en my kop regop hou vir beter oogkontak, in plaas daarvan om net af te buig met ʼn skeefgedraaide kop wat maklik verwarring kan veroorsaak.

“Jy weet nie altyd waardeur hulle gaan en hoe hulle voel nie, maar jy kan empatie met hulle situasie hê. Dis so belangrik om hierdie mense met groot geduld, respek en deernis te behandel,” verduidelik Natasha uit ʼn versorger se oogpunt.

Mariana van Tonder is die tehuisbestuurder en maatskaplike werker by Ons Tuis Piet Potgieter in Mokopane (Potgietersrus). Sy vertel dat inwoners met spesiale behoeftes, veral persone wat aan demensie en Alzheimer se siekte ly, as mens aanvaar moet word en dat hulle moet kan sien dat daar vir hulle omgegee word.

“Ons het ʼn sagte aanslag en vermy konflik totaal. As die persoon vandag op die plaas is en sy ma of pa soek, dan soek ons maar saam. Ons het begrip en baie empatie. Dit is ook belangrik om hierdie persone presies te verduidelik wanneer jy iets gaan doen sodat hulle nie verbouereerd word nie. Jy kan nie net in die kamer inkom en aankondig dat sy nou moet gaan eet of hare sny nie. ʼn Kalm en rustige aanslag is die wagwoord,” deel Mariana oor die wisselvallige wêrelde van persone met hierdie soort spesiale behoeftes.

“Die gebrek aan ʼn korttermyngeheue is problematies, omdat jy nou iets sal verduidelik, maar oor drie minute het hulle dit weer vergeet. Versorgers het soveel geduld nodig omdat jy soms in hulle oë kan sien dat hulle werklik nie inneem wat jy vir hulle sê nie. Wat in dieselfde asem ook wonderlik spesiaal is, is wanneer jy op ʼn dag, al is dit net vir ʼn kort rukkie, deel kan wees van ʼn helder oomblik wat hulle ervaar. Vir daardie klein rukkie verstaan en herken hulle jou en kan hulle met jou gesels. Dit is ʼn groot voorreg om dan tot hulle wêreld te kan deurdring.

“Een van ons inwoners het verlede week ʼn groot bohaai gemaak omdat sy dadelik moes gaan hare doen voor ʼn funksie wat sy moes bywoon. Hierdie inwoner het vir daardie rukkie in die verlede geleef en ons kon dit vir haar draagliker maak deur haar na ons salon toe te vat en maar saam te praat oor die funksie. Teen die tyd wat haar hare klaar gedoen is, was sy weer rustig en die funksie vir eers vergete.”

Sommige familielede kan dit glad nie aanvaar dat hulle ouers aan demensie of Alzheimer se siekte ly nie en weet ook nie hoe om dit te hanteer nie.

Mariana verduidelik: “Dit voel soms vir ʼn familielid of ʼn ouer lewendig verloor word. Die hoeveelheid besoeke wat heelwat van hierdie pasiënte kry, is oor hierdie rede soms baie min. Ons personeel speel regtig ʼn belangrike rol om hierdie leemte te vul en ons glo vas dat hulle ons liefde en omgee kan aanvoel. Ek glo ook dat ek God se voete op aarde is en dat Hy my juis hier wil gebruik.”

Poppie Benadie se ma is al ʼn geruime tyd ʼn inwoner van Ons Tuis Piet Potgieter. Sy gaan tuis in Kosmos, die afdeling vir inwoners met spesiale behoeftes. Op die vraag wat die tehuis vir hulle beteken, antwoord sy: “Ons moeder word met liefde en opoffering versorg en ontvang soveel omgee van die personeel. Ons is dankbaar vir die versorging en ons as kinders is gerus oor haar welstand. Sy is in goeie hande. Mevrou Van Tonder se deur is altyd oop om enige probleem te bespreek en op te los. Ons innige dank aan hierdie veilige hawe.”

Miskien word daar ook op jóú hart gedruk om in hierdie spesiale behoeftes te voorsien. Besoek gerus Ons Tuis se webwerf of Facebook-blad, of skakel vir Hannelie Fourie by 012 325 1857/8 vir meer inligting oor hoe jy bejaardes kan bystaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

yahneh ·

Kinders en ou mensies is my achilles heel. Dis so hartseer dat hul stemme net so in die niet verdwyn.

Bitter min mense neem tyd uit om na hul te luister. Ek is mal oor ons ouer garde se wysheid en die gelag van kinders, daar is baie te leer uit hul suiwer harte. Ongelukkig besef sekere mense nie hoe kort ‘n kind se kindwees is nie, dan wil hul dit wegneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.