Vervaardigers van Afrikaanse bordspeletjies vereer

André Steyn, Spoetnik se bemarkingshoof, het die toekenning van die FAK namens Spoetnik ontvang. (Foto: Verskaf)

“Spoetnik verrig ʼn heldetaak; hulle speletjies bring gesinne nie net bymekaar nie, maar dit hou die Afrikaanse kultuur op ʼn dinamiese en innoverende manier lewendig terwyl hulle ook ons geskiedenis vir ons kinders teruggee.”

Met hierdie woorde het dr. Danie Langer, uitvoerende hoof van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), Donderdag erkenning gegee aan die werk wat die Spoetnik-span doen om die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis met oorspronklike bordspeletjies te bevorder.

Spoetnik vervaardig en versprei sedert 2015 unieke bordspeletjies soos Boereplaas, TydToer, die Patriot-troefkaarte, Tel jou woorde en Borgwoordkies.

Langner het by die geleentheid nog ʼn toekenning aan Pieter Liebenberg oorhandig vir sy ontwikkeling van die eerste Afrikaanse bordspeletjie wat spelers strategies deur die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog neem.

In dié bordspel, Eendracht Maakt Macht, neem spelers bevel oor hulle eie kommando, bou aan hul eie unieke vaardighede en word gelei om met ander saam te werk om ʼn gemeenskaplike doel te verwesenlik. Deur die loop van die spel word spelers aan verskeie historiese karakters en gebeure blootgestel.

Liebenberg het gesê hy is al meer as 23 jaar besig met die ontwikkeling van Eendracht Maakt Macht en as die eienaar die Wolfkraal is dit die eerste bordspeletjie wat onder sy handelsmerk uitgereik is. Hy het kenners soos prof. Fransjohan Pretorius ingespan om seker te maak die uitdagings in die bordspeletjie is getrou aan die geskiedenis van die tydvak.

“Ek was nog altyd self lief vir ons Suid-Afrikaanse geskiedenis, maar het verlede jaar terwyl ek hand bygesit het met die tuisonderrig van kinders in die familie gesien hoe kommerwekkend die inhoud van die geskiedenis as vak is. Dit het my laat besef dit is nou die regte tyd om hierdie bordspeletjie bekend te stel.”

Liebenberg meen penkoppe tot grysaards sal iets oor die Anglo-Boereoorlog leer as hulle die bordspeletjie speel.

Hy verduidelik in die speletjie word ʼn stryd gevoer teen tyd. Wanneer die oorlogkalender die einde van die spel aankondig, bepaal spelers of hul genoegsame heldepunte verdien het om as oorwinnaars van die stryd uit te tree.

Spoetnik versprei ‘n reeks unieke Afrikaanse bordspeletjies. (Foto: Verskaf)

André Steyn, bemarkingshoof by Spoetnik, het die toekenning namens die vervaardiger ontvang. Hy sê die prys van die FAK is ʼn groot eer.

“Ons het besef kinders spandeer soveel tyd aanlyn dat ons net ʼn plan moes beraam om hulle op ʼn ander manier besig te hou.”

Steyn sê bordspeletjies se gewildheid is wêreldwyd aan die toeneem, en dit is plaaslik ook die tendens.

“Ons moet egter ook vir Eskom bedank, want ons het al by meer as een geleentheid gehoor dat as die ligte afgaan, haal die kinders sommer dadelik die Boereplaas‑bordspeletjie uit.”

Pieter Liebenberg verduidelik hoe Eendracht Maakt Macht werk. Die speletjie neem spelers deur die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog. (Foto: Verskaf)

Alhoewel bordspeletjies soos Scrabble, Risk en Monopoly in Afrikaans beskikbaar is, was daar aanvanklik geen planne om die weergawes te hernu nie.

Spoetnik se span het destyds besluit daar is ʼn behoefte by Afrikaanse gesinne vir ʼn unieke Afrikaanse bordspeletjie en het Boereplaas laat herleef. Die bordspeletjie het so gewild geword dat daar in die tussentyd reeds twee uitbreidings vir die vervaardigers se weergawe ontwikkel is.

Steyn sê Spoetnik se drome vir Afrikaanse bordspeletjies is nog lank nie uitgeput nie. Die span stel binnekort ʼn Afrikaanse Christelike bordspeletjie getiteld Kalologos bekend.

Hulle wil ook in volgende jaar ʼn speletjies-olimpiade op kulturele vakansiedae by Fort Schanskop saam met die FAK aanbied, wat veral Patriot-troefkaarte, TydToer en Eendracht Maakt Macht sal inspan.

Spoetnik se fokus is om gehalte speletjies te ontwikkel wat spelers op ʼn lekker manier aan die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis blootstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anonymouse ·

Ek het net 2 aande terug Boereplaas bestel vir my dogter-hulle vir Kersfees. Ek het heeltemal vergeet van die speletjie, en toevallig noudie dag ‘n foto daarvan gesien en gedink my skoonseun sal mal wees daaroor.

Vrijburger ·

Ps. Oom Sakkie se ook baie geluk. En hy vra weereens groot ekskuus vir al die moeilikgeite wat hy al vir julle gemaak het daar op die boereplaas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.