Verveeld tydens afsondering? Luister ons radiodramas

Terwyl ons almal 21 dae lank in ons huise vasgekeer is tydens algehele afsondering, is ons almal op soek na iets lekker om te doen en iets wat bietjie ons aandag kan aflei van die nuus.

Maroela Media maak spesiaal weer ons radiodramas beskikbaar. Maroela is al vir meer as ses jaar lank betrokke by die vervaardiging, finansiering en verspreiding van radiovervolgverhale, in samewerking met Bettie Kemp.

Bestel gerus die radiodramas Plattelanders, Môregloed, Vuurvreters en Staal Burger in ons aanlyn winkel, Die Koöperasie. Dis die ideale afleiding!

Elkeen van dié radiodramas is vroeër landswyd op verskeie gemeenskapsradiostasies uitgesaai.

  • Die algehele afsonderingsperiode weens Covid-19 is veral ʼn groot terugslag en uitdagings vir akteurs en kunstenaars wat van regstreekse uitsendings en vertonings afhanklik is. ʼn Gedeelte van elke radiodrama wat verkoop word, word geskenk aan die akteurs wat by dié radiodramas betrokke was.

Plattelanders

Maroela-fontein lyk net soos enige ander plattelandse dorpie – rustig, kalm en ver van die stad se gejaag en daaglikse dramas. Maar is dit regtig so ʼn stil, rustige plekkie sonder enige geraamtes?

Plattelanders is presies dit – ʼn sterbelaaide drama vol humor, romanse, spanning, lekker skinder, geheime en veel meer. Dié radiovervolgvervaal, uit die pen van Joe Kleinhans, het hoof‑ sowel as spanningvolle storielyne wat só verweef is om die luisteraar vasgevang te hou. Hier word ook vir mekaar omgegee, en hier is ook goeie dinge wat gebeur (met ʼn goeie dosis humor ingesluit!).

Die luisteraar gaan kennis maak met Klara Korsten (Bettie Kemp), die spogsakevrou op die dorp wie se man ná ʼn beroerte aan ʼn rolstoel gekluister is. Daar is ook die nuwe “wewenaar” wat sy intrek neem op Maroela-fontein, dr. Dirk Duvenhage (Richard van der Westhuizen). Kaptein Swys Steenkamp (Lochner de Kock) werk hard om misdaad te bekamp, maar daar loer kort-kort iemand oor sy skouer: die geselserige Sandra Serfontein (Ria Smit). Sy staan ook van tyd tot tyd in vir die dorp se koerantman wat haar seker maar rede gee om haar neus oral in te steek. Die dorp het ook ʼn nuwe bankbestuurder, Roger Smith (Duncan Johnson). Hy en die aantreklike klinieksuster, Riana Roelofse (Natasja Jacobs), se eerste ontmoeting het erge gevolge vir albei.

Dan is daar Ricky October (Johny Klein), eienaar van Rocky’s Funerals, wat hy by sy legendariese bokserpa, Rocky October, geërf het. Reeds met die storie se intrapslag sorg hy vir groot drama!

Die temalied van Plattelanders is spesiaal vir Maroela-fontein geskryf. Die lied is geskryf en opgeneem deur Michael van der Walt en Christiaan Muller.

Die stel bestaan uit 120 digitale klanklêers (MP3’s); een vir elke episode. Alles word saam afgelaai in een 814 MB ZIP-lêer.

*Bestel en laai Plattelanders nou af vir slegs R95-00.

Vuurvreters

ʼn Wrede moord op ʼn agent van die Staatsveiligheidsagentskap (SSA) in Nairobi lei tot die aanstelling van ʼn taakspan onder leiding van direkteur Victor Fransman, bygestaan deur agente Sally Bloemhof en Henry Vogel. Meer moorde volg in Suid-Afrika wat die taakspan noodsaak om sy fokus na die binneland te verskuif …

Die radiodrama Vuurvreters, geskryf deur Joe Kleinhans, is ʼn produk van Maroela Media en vervaardig in samewerking met Bettie Kemp.

Die stel bestaan uit 120 digitale klanklêers (MP3’s); een vir elke episode. Alles word saam afgelaai in een 590 MB ZIP-lêer.

*Bestel en laai Vuurvreters nou af vir slegs R95-00.

Môregloed

Die verhaal van Môregloed draai rondom ʼn ma, Aletta de Jongh, en haar dogter, Elmari Neethling, wat ná 22 jaar herenig word en die pad saam begin loop. Aletta kook om aan die lewe te bly en Elmari begin ʼn nuwe hoofstuk deur ʼn laventelplaas en kleuterskool oop te maak. Die skoolhoof is die knap Patricia de Villiers van Eersterus wie se seun Anton in die Baviaanspoort-gevangenis is. En dan is daar natuurlik die man wat Aletta se huwelik destyds op die rotse laat beland het, Theuns Malan.

Aletta kuier gereeld by Griet Kotze in die Joos Becker Karavaanpark by die Wonderboom-Junction, Pretoria. Griet se groot droom is om Maggie, haar dogtertjie huis toe te bring. Dit is hier waar die storie begin… maar waar die verlede hulle inhaal.

Joe Kleynhans, skepper van dié drama, meen Môregloed het ʼn skeppie van alles. “Die stryd om te oorleef, terugslae, vasbyt, deernis, die hoop en seer rakende pleegsorg, kinderontvoering, die vernietigende uitwerking van dwelms, moord en genoeg spanning. En in dié proses is almal maar net inherent op soek na ʼn beter môre!”

Die stel bestaan uit 120 digitale klanklêers (MP3’s); een vir elke episode. Alles word saam afgelaai in een 724 MB ZIP-lêer.

*Bestel en laai Môregloed nou af vir slegs R95-00.

Staal Burger

Tot op hede was Staal Burger een van die gewildste radiostories. Hy was as ‘t ware Afrikaanse radio se eie James Bond, en die oordadige en dramatiese byklanke en hoogdrawende taalgebruik van dié Afrikaanse superheld was uiters suksesvol onder oud en jonk.

Dié radiostorie is in die vroeë sestigs geskep deur Fanus Rautenbach, en later het Daan Retief aangesluit by Fanus as medeskrywer.

ʼn Span gesoute akteurs en radiopersoonlikhede het byeengekom om nuwe lewe in hierdie baie bekende, ou radiokarakter en -storie te blaas. Die skrywer is Martin Jansen, en André Retief, die seun van Daan Retief wat oorspronklik die rol van Staal Burger vertolk het, sal in die nuwe reeks die rol van Staal vertolk.

Die storie word op presies dieselfde wyse vertel. Die karakters bly almal dieselfde, behalwe vir ʼn kinkel in die kabel met ʼn karakter wat bykom … advokaat Gerrie Nel – en hy speel homself!

Die stel bestaan uit 26 digitale klanklêers (MP3’s); een vir elke episode. Alles word saam afgelaai in een 652 MB ZIP-lêer.

*Bestel en laai Staal Burger nou af vir slegs R95-00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae