Vicky is gek oor roetine en druk

Deur Cyril Blackburn en Annabelle Lombard

Vicky du Buisson

Vicky du Buisson

Vicky du Buisson, van Hoërskool Riebeeckrand, het ʼn verstommende 11 onderskeidings ingekatrol in die 2016-matriekeindeksamen. Sy het A’s vir Afrikaans, Engels, wiskunde, geografie, visuele kuns, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, drama, rekenaartoepassingstegnologie, ekonomie en lewensoriëntering.

Vicky is Sasha-Lee Roestorff se beste vriendin. “Ons is soos sussies.” Hierdie hoof- en onderhoofdogter het mekaar uitgedaag om so baie vakke te neem en was wonderlike ondersteuning en mededinging vir mekaar. Hulle dink glad nie dis ʼn  buitengewoon uitsonderlike prestasie om soveel onderskeidings te kry nie.

Hierdie slimkop van Randfontein se ouers is Frikkie, ʼn elektrisiën en Christa, ʼn huisvrou. Sy het ook ʼn jonger suster, Beula, wat in Graad 11 sal wees vanjaar. Haar ouers is baie trots op haar prestasies en hulle gloei as hulle vertel hoe sy die eerste een in hul gesin sal wees wat universiteit toe gaan.

Na ʼn lekker vakansie tuis saam met haar gesin, gaan sy verder studeer. Sy is een van net 52 wit studente met toelating vir medies by die Universiteit van Pretoria. Sy wil graag ʼn traumachirurg word. Sy vertel dit is eintlik haar droom om in die lugmag as vlieënier en dokter te werk, maar in ons land is sy te kort. “Dit bly iets wat ek definitief nog gaan doen,” laat weet sy beslis. Vicky floreer onder druk en in stresvolle situasies en sal die uitdagendste beroep moontlik wil hê.

Vicky was hoofdogter en leerlingraadvoorsitter. Sy  is ook die skool se dux leerling. Sy sê sy het dit geniet dit om te lei en dit te doen deur respek te betoon en ander op te bou. Sy is gek oor roetine en druk.  Ons het haar gevra waarom ʼn mens uit vrye wil 11 vakke sou kies en sy het gelag dat dit eintlik nie so ʼn groot ding is nie.

Sy besef sy het ʼn gawe van God gekry en moet dit ten volle benut. Sy het  ook besef sy sal haar dood verveel met net 6 vakke. “Ek moet in ʼn blik gedruk word en gedwing word om te leer”. Sy sê ook sy probeer om in die middae eers bietjie te slaap sodat sy saans en soggens vroeg haar beste kan gee.  Sy kan dan maklik met drie ure slaap oor die weg kom.

Vicky skryf stories en gedigte in haar vrye tyd en sy is ook lief vir lees. Sy erken sy hou van slaap, eet en Snapchat, nes elke ander tiener.  Vicky oefen ook graag.  Sy geniet atletiek en skopboks.

Haar grootste rolmodel is William Blake, vir sy pragtige gedig wat sy dink boekdele spreek oor die lewe:

To see a world in a grain of sand

And a heaven in a wild flower

Hold infinity in the palm of your hand

And eternity in an hour.

Vicky se beste eienskap is haar sin vir humor en spontaniteit. Sy sê sy glimlag sommer vir vreemdelinge in die openbaar.  Oor haar swakste eienskap skerts sy: “ek hou baie van sing, maar ek maak net mense se ore seer”. Vir Vicky is nederigheid en afhanklikheid van God  belangrike  waardes wat ʼn mens ver sal bring in die lewe. Sy skryf ook haar akademiese sukses toe aan God se hulp en seën. “Ek is al my talente en prestasies verskuldig aan God en Hy is die belangrikste aspek van my lewe. Nederigheid, gebed en God sal jou ver bring in die lewe.” Sy glo God stel in ons begeertes belang en ons mag alles vra met danksegging. “Ek maak sommer deeglik daarvan gebruik”, lag sy.

Lees berigte oor ander toppresteerders hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

vanessa vorster ·

Baie geluk Vicky. Jy was en is ‘n inspirasie vir elke Rierander. Jou mooi gesindheid sal jou nog ver bring

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.