Video: 6-jarige se pittige toespraak vermurwe harte

Dawian van der Westhuizen

ʼn Video van die sesjarige Dawian van der Westhuizen se redenaarstoespraak oor hoe min hy van groente hou versprei soos ʼn veldbrand op sosiale media.

Loriaan van der Westhuizen (38), Dawian se ma, vertel sy en haar man, Dawid (43), se “harte bars van trots” oor hul klein “wonderwerkie”. Dawian is in November 2011 op 25 weke gebore en het net 760 g geweeg. Hy was vir byna drie maande in die neonatale eenheid behandel aangesien hy eers in Februarie 2012 sy opwagting moes maak.

Intussen woeker klein Dawian met sy talente en is video’s van sy nou reeds bekende redenaarstoespraak al derduisende kere op sosiale media gekyk. “Wanneer ek groente eet voel ek sommer baie bleek,” lui die eerste sin van die gr. 1’tjie se pittige toespraak.

“Dames en here, het u geweet? Kinders hou nie van groente nie.” Volgens Dawian “kan julle my maar probeer omkoop met al die goud in die wêreld – ek sal nie al my groente eet nie”.

Loriaan sê Dawian het al van Februarie aan sy toespraak geoefen en dit het eers maar sukkel-sukkel gegaan aangesien hy toe nog nie lees en skryf behoorlik onder die knie gehad het nie. “Hy het baie hard geoefen en baie hard gewerk daaraan. Ons het daardie toespraak ontelbare kere gehoor.”

En hou Dawian regtig so min van groente? “Groente is nie baie lekker vir my nie, maar ek hou van pampoen,” laat hy hoor. “Ek raak baie opgewonde as ek op die verhoog praat en my hartjie word baie bly ook as mense dit geniet.”

Dawian saam met ma Loriaan en pa Dawid.

Dawian se toespraak het vir hom ʼn eerste plek by die Laerskool Vryheidsmonument in Vereeniging besorg waarna hy deurgedring het na die ATKV-Redenaars se halfeindrondes en uiteindelik die nasionale eindronde wat vroeër vandeesmaand by ATKV-Buffelspoort plaasgevind het.

Dawian het algeheel agtste geëindig in die kategorie vir graad 1 tot graad 3, Afrikaans Huistaal. Volgens Loriaan het Dawian ʼn fisieke agterstand aangesien hy baie klein is. Hy kan ook nie te lank stilsit nie omdat sy spiere seer word. Hy ontvang egter terapie en swem gereeld om hiermee te help. “Volgens sy juffrou staan hy egter vir niemand terug nie en is hy ʼn ‘groot seun’ in die klas.”

Dawian se ouers het sommer van vroeg af gesien hul seuntjie het talent wanneer dit kom by dans, musiek en voordrag. Hy neem al van kleuterskool af aan eisteddfods en ander kunstefeeste deel. Hy droom intussen daarvan op eendag op die TV te wees. “As hy net sy voetjies plat op die aarde hou en sy hart nederig, dan sal hy nog ver gaan,” sê Loriaan.

Dawian neem ook graag aan sport deel. Volgens Loriaan doen Dawian se juffrou, Alma Hattingh, baie moeite met hom en het sy drama-onderwyseres, Sonja Myburgh, al verlede jaar gesê die klein mannetjie gaan beroemd wees en nog vir haar ʼn Oscar wen.

Dawian is sy ouers se enigste kind. “Ons gebede om ons kind te spaar is verhoor. Hy het so baie talente en ons is baie nederig en dankbaar. Ons is ook dankbaar vir ons familie wat ʼn bron van aanmoediging is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marlene ·

Baie trots op jou Dawian, en ook Mamma en Pappa, julle deursettings vermoë en liefde werp vrugte af

Anton ·

Te ougat! Hulle word so vinnig groot en al wat hul nodig het is liefde en ondersteuning waarmee gewapen hul die wereld oorwin!

Tiny du Preez ·

Dawian vir Hoofseun!!

Dankie my Broer. Ek gaan hierdie sommer nou vir my Ma stuur sodat sy al die trane van my kinder jare kan verstaan. En vir my kinders, sodat hulle verstaan waneer oupa sweets koop….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.