Video: 6-jarige van PE het wêreld aan haar dansende voete

Ivanah Campbell. (Foto: Facebook)

Dit is nie sommer enige iemand wat sulke indrukwekkende danspassies kan uitvoer dat van Hollywood se grootste sterre dit op sosiale media deel nie.

Maar dit is presies wat die sesjarige Ivanah Campbell van Port Elizabeth reggekry het en oornag het dié ougat dansertjie beroemd geword.

Alles het begin toe Ivanah se tannie, Tania Mejanie, ʼn video van die dogtertjie se danspassies op Facebook gedeel het. Sosialemediagebruikers was gaande oor haar en dit het Mejanie laat besluit om in Mei vir Ivanah haar eie Facebook-blad oop te maak waar sy video’s van haar in aksie kan deel.

Dit was egter toe die Amerikaanse sangeres en kletsrymer Lizzo Vrydag ʼn video van Ivanah op Instagram geplaas het, dat die hele wêreld bewus geword het van dié oulike dansertjie aan die suidpunt van Afrika.

Chris Evans van Avengers-faam het Lizzo se inskrywing op Twitter gedeel met die woorde: “Hierdie kind is cooler as wat ek ooit sal wees”.

Daarna het die akteur Will Smith en sy eweberoemde vrou, Jada Pinkett Smith, ook ʼn video van Ivanah op Instagram geplaas met die woorde: “Hierdie meisie verstaan die lewe! Ek gaan nou verkeer gaan soek en dans!”

Dié video is intussen al vier miljoen keer gekyk.

Die akteur Will Smith het een van Ivanah se dansvideo’s op Instagram gedeel. (Skermskoot: Instagram)

Teen Donderdagoggend het Ivanah se Facebook-blad al 50 000 volgelinge gehad en haar Instagram-profiel ʼn allemintige 193 000 volgelinge. Klaarblyklik kan mense net nie genoeg kry van die talentvolle danser nie! Oral in die wêreld het nuusinstansies oor haar berig, van Boston Herald tot NDTV, India Today en Global News.

Intussen lyk dit asof Ivanah dalk binnekort haar danspassies op die kassie gaan uitvoer. Die regisseur van die Amerikaanse televisiereeks, Little Big Shots, wat deur Ellen Degeneres vervaardig word, het vir Mejanie gekontak om moontlik op dié reeks te verskyn. Die reeks is nou in sy vierde seisoen en wys talentvolle kinders jonger as 12 jaar oud wêreldwyd.

Vir klein Ivanah gaan dit egter net oor dans. “Ek is mal oor dans,” het sy in ʼn onderhoud met Herald Live vertel. “As daar ʼn liedjie speel, begin ek net beweeg. Ek sal ook danspassies namaak wat ek op my gunstelingmusiekvideo’s gesien het. Ek is mal oor musiek, dit doen iets binne my hart. As ek begin dans, voel ek so gelukkig.”

Ivanah doing what she does best

Posted by Ivanah the dancer on Friday, May 24, 2019

Klik hier as die video nie direk in jou webblaaier speel nie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Stan ·

Ons het die video/ dans so geniet. Dink wat soveel aandag trek is die kind se lewensvreugde.

Bridget ·

Ag kyk daai gesiggie dit is so oulik en sy geniet dit vreeslik well done hoop iemand sien haar raak

Ronel ·

Jou pragtige klein pop! En jy dans die wereld aan die brand!

Kompitiesie ·

O o. Pasop Shakira.hiers kompitiesie opad vir jou ou girl.

DA BO ·

????is ek die enigste een wat niks daarvan hou nie. Gee vir haar asb n pop om mee te speel.

Maxi ·

Nee jy is nie. Ek het ook vroeer laat weet dis nie oulik vir my nie. Om verskeie redes. Seker die enigste negatiewe kommentaar op daai oomblik. Haar een voet was dan op die pad terwyl motors verby flits.

Anette ·

Ek stem saam sy is ‘n dierbare en oulike ou dogtertjie maar, ek dink nie haar danspassies pas by haar ouderdom nie.

emily ·

DA BO en Anette, ek stem saam met julle. Daar is te veel pedofiele en origes daarbuite.

Luï ·

Aggenee, sulke suggestiewe bewegings en dit vir ń ou klein dogtertjie. My hart huil vir haar.

BUBBLES ·

sorry maar ek sien ook nie waaroor die hele ding gaan nie – dis net lame

Cornelia ·

ek is so moeg om in hierdie kind se gesig vas te kyk. Maroel , Beeld kan jylle iets leer

Anoniem ·

My dogter is ‘n dance teacher….en sorry om te sê ons sien honderde kinders, selfs nog jonger, wat baie baie beter dans op ‘n daaglikse basis….S A se kids het ritme. Dié enetjie was net “lucky” of nie?…. dat sekere celebrities haar video gesien het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.