Video: Boer sing vir droogtehulp

uli van wyk 1

‘n Skermgreep uit die video.

Uli van Wyk, ʼn sorghumboer en aspirantsanger van Pandamatenga in Botswana, het sosiale media aan die gons nadat ʼn aangrypende liedjie wat hy ten bate van Burre Burger se Droogtehulp-projek opgeneem het, op Facebook gedeel is.

Die musiekvideo van die liedjie “Druppels” is Dinsdag op Burger se Facebook-blad gedeel en is reeds amper 900 keer gedeel.

Van Wyk het aan Maroela Media vertel die liedjie se lirieke is ʼn samestelling van gedigte wat deur ʼn vriend geskryf is. “Ons het ʼn WhatsApp-groep vir ʼn klomp pelle en ons buurman, oom Tiaan, is ook op die groep. Baie aande sit hy by sy huis dan skryf hy vir ons die mooiste gedigte. Ek het toe, met sy toestemming, gedeeltes van verskillende gedigte uitgehaal en dit gebruik.”

Die liedjie is getoonset deur die sanger en liedjieskrywer Pierre Rossouw en dit was ook hy wat voorgestel het dat Van Wyk met Burger kontak maak. “Ek het die liedjie opgeneem met geen verwagtinge van inkomste nie en Pierre het dit geweet. Ek het vir Burre gaan opsoek en van daar af het dinge begin gebeur.”

“Druppels” is in die Kaap deur Rossouw opgeneem en vervaardig. Volgens Van Wyk was Burger emosioneel toe hy die onverwerkte liedjie vir die eerste keer hoor. “Ek kon oor die foon hoor hoe ʼn vreemde man huil van trots.”

Hy sê die lied is nie spesifiek vir die Kaapse droogte geskryf nie, maar eerder vir alle boere. “Ons is saaiboere in Botswana en is 100% afhanklik van reën. Ek weet hoe die manne daar voel. Jy kan in ʼn oogwink alles verloor. Sonder God se reën kan jy niks doen nie.”

Van Wyk vertel trots dat boere in die Pandamatenga-omgewing asook sy familie hom in sy poging ondersteun het deur by te dra vir sy reis- en verblyfkoste in die Kaap. “Dit kos baie om in Kaap te kom en daar te wees vir paar dae.”

Die opbrengs van die liedjie, wat op Deezer en Amazon te koop is, word alles aan die Droogtehulp-projek geskenk. “Ek vat nie ʼn sent van die liedjie se verkope nie en daar gaan ook geen geld deur my hande nie. Alles word net so geskenk.”

Rossouw het aan Maroela Media gesê hy en Van Wyk werk al ʼn paar maande aan die liedjie. “Ek werk met soveel ouens en daar is altyd iemand wat ʼn liedjie vir ʼn spesifieke doel wil maak. Dit is altyd moeilik, want mense se eerste reaksie is gewoonlik dat ouens op die rug wil ry van ʼn kwessie soos droogte. Uli se geval was vir my anders, want hy is ʼn lieflike en opregte ou, wat direk geraak word deur die droogte.”

Light Lounge Productions het die musiekvideo van “Druppels” vervaardig. “Ek moet vir Nelis Engelbrecht van Light Lounge bedank,” sê Van Wyk. “Alle eer gaan aan God, maar ek moet darem ook vir my vrou, familie en vriende, en my ma dankie sê! Ek kan hierdeur help om ʼn druppel in die emmer te sit vir die mense wat so sukkel met die droogte.”

“Druppels” is beskikbaar op Deezer en Amazon teen R10. SMS “Hoop” na 42646 om R30 te skenk aan die Droogtehulp-projek. Vir meer inligting oor die Droogtehulp-projek, besoek www.droogtehulp.co.za

ʼn Boer geval en opgestaan
sy fondasie gaan haal
herinneringe wat hom nie laat lê nie
Met palms vol van hoop
Bind ons die gebede vas op knieë om weer te loop
Stap ons deur wat ons reeds was
Ons palms vol van krag
Staan ons op in murg en been en wag
Ja ons wag vir die druppels

Kyk hier na die video:

Daar is hy nou DRUPPELS 'n lied spesiaal gedoen deur Huldriech van Wyk vir die Droogtehulp Projek … Dankie Pierre Rossouw en Nelis Engelbrecht vir julle hengse aandeel.Share asb die video en daag jou vriende uit om te help waar hulle kan. As jy share vra hulle om te gaan na https://www.facebook.com/groups/Droogte.hulp/ om te sien wat met hulle donasies gedoen word…Ons dra die lied op aan elke boer wat sukkel met die droogte en aan ons Skepper Jesus wat ons gaan kom seën met druppels…Dankie Vredendal Toyota en Toyota SA vir julle bydrae tot die video. Dankie aan elke Lorrie drywer en eienaar en elke skenker…Dankie Gottlieb Rudolph Labuschagne en Paul Labuschagne van Labucon Resources Pty LtdLaat weet asseblief vir ons wat julle van die lied dink.ONS VRA ASB OM VIDEO NET SO TE SHARE EN DIE GEREGISTREERDE LOGOS NIE TE VERWYDER.Imagine ons kan Karen Meiring vra om die Droogtehulp deel te maak van die kykNET Fiestas en Ronel Brink en Bobby Van Jaarsveld ons kan Uli by Afrikaans is Groot laat sing in die Kaap… #druppels #laatditpompvirdieboereHuisgenoot Toyota SA RapportWeb Landbouweekblad Veeplaas Tydskrif Johrné van Huyssteen

Posted by Burre Burger on Monday, February 5, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nettie ·

Nee man! Dit reën mos nie in Worcester nou nie en die dak lek nie ….. waar kom die druppels op my hande en toetsbord nou vandaan???

Liezel ·

My pa het die jaar op 60jarige ouderdom al sy skaap verkoop agv droogte….hy bly al sy lewe lank op n plaas en boer is sy groot liefde….hierdie video laat loop maar die trane

Amanda Landman ·

Dis waarom ek ons Boere nasie ♥♥♥ Mense met groot harte, sterk lywe en stemme soos engele. Hulle werk in uiterse toestande met swaarde van die natuur, die politiek en plaasmoorde oor hulle koppe…maar elke dag staan hulle op en begin weer met MOED, DURF en AKSIE. Wanneer Kaapstad verdroog, wie gee water uit hulle persoonlike damme in die Groenberg streek – die BOERE! Hulle maak planne, hulle kyk in die toekoms en sorg vir die hede, hulle maak die kos op ons borde en uiteindelik sorg vir ekstra water in Kaapstad se krane met water waarmee hulle boer en dan sing hulle so pragtig soos hierdie jong man. Dit gaan eenvoudig my verstand te bowe dat mense in ons eie land hierdie mense wil uitwis en vervolg en vermoor, hulle grond sonder vergoeding wil neem wat hulle wettiglik gekoop en voor betaal het. Dis soos om gif te drink en te hoop die ander persoon gaan dood???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.