Video en foto’s: Boere skenk miljarde liter water aan Kaapstad

Water wat van bo die Kogelbergdam aan Kaapstad se metro geskenk word (Foto: Facebook via Cathy Shaw)

Talle vrugteboere van die Overbergdistrik in die Wes-Kaap word wyd geloof vir miljarde liters varswater wat hulle uit privaat damme aan Kaapstad geskenk het – maar dié boere hou voet by stuk dit is bloot ʼn “medemenslike plig”.

Boere van bo die Kogelbergdam in dié provinsie het sedert Dinsdagmiddag tussen sewe en 10 miljoen kubieke meter water (bykans 10 miljard liter) na die Wes-Kaap gepomp. Dít terwyl ʼn droë winterseisoen in die Overbergdistrik die boere van onder meer Elgin en Grabouw in dieselfde droogte-penarie kan plaas.

Johan Groenewald, uitvoerende hoof van die privaat waternetwerk Groenland Watergebruikersvereniging (GWUA), sê daar is ʼn redenasie agter dié besluit: Talle boere wil hul medemenslikheid betoon aan inwoners van die Kaap wat die ergste geraak word en boonop die verdoemende Dag Zero – wanneer die stad se krane leeg sal loop – in die gesig staar.

Water wat van bo die Kogelbergdam aan Kaapstad se metro geskenk word (Foto: Facebook via Cathy Shaw)

Hy sê die water kom alles uit privaat damme bo die Kogelbergdam wat jare gelede gebou is om die sagtevrugtebedryf in die omgewing te ontwikkel. Dié boere word volgens hom nie tans deur dieselfde droogte geraak nie omdat die distrik in ʼn ander opvangsgebied as Kaapstad val.

“Die boere in ons distrik het genoeg watervoorraad om dié seisoen nog deur te kom, en ons kan mos nie staan en toekyk hoe mense regtig moeilike omstandighede moet beleef terwyl ons weet dat ons met water kan help nie,” vertel hy.

“Om beeldmateriaal te sien van hoe die duisende liters water in die rivier vrygelaat word, gee ʼn mens dan so ʼn goeie gevoel – jy weet daardie water gaan werklik benut word.”

Die beplanningsfase vir dié projek het reeds in Oktober verlede jaar begin. Groenewald sê ʼn GWUA-komitee moes die idee aan die departement van water en sanitasie voorlê en dié inisiatief is intussen goedgekeur.

Volgens Groenewald sal die water nou via die Palmietrivier en die Rockviewdam vloei en uiteindelik vanuit ʼn kanaal tot in die Steenbrasdam gepomp word sodat die Stad Kaapstad daartoe toegang kan hê.

Water wat van bo die Kogelbergdam aan Kaapstad se metro geskenk word (Foto: Facebook via Cathy Shaw)

Hy sê die boere van dié distrik het ook reeds begin om waterbesparingstegnieke toe te pas. “Daar was reeds besprekings oor verskillende tipes besproeiingstegnieke. Ons maak verder gereeld seker dat daar geen lekkasies is nie en dat daar altyd genoeg inligting aan boere van die distrik deurgegee word wanneer daar wel ʼn waterskaarste is.”

Groenewald meen die boere sal dié winterseisoen “op hul knieë” deurbring vir goeie reën. “Die boere leef in vertroue,” vertel hy. “Ons hoop en bid en bly deurlopend op ons knieë. Solank dié inisiatief verligting kan bring aan inwoners van Kaapstad, het ons ʼn waardevolle bydrae gelewer.”

Die Stad Kaapstad het Maandag aangekondig Dag Zero sal volgens alle redelike bepalings na die middel van Mei aanskuif. Die stad het verder ook sedert 1 Februarie vlak 6B-waterbeperkings en -tariewe ingestel in ʼn poging om selfs meer water te bespaar. Dié tariewe is volgens ʼn verklaring gekoppel aan verbruik.

Posted by Cathy Shaw on Tuesday, February 6, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Alta Schutte ·

Dankie….dis so groot van julle….Mag die Here dit dubbel en dwars aan julle teruggee! Ons hier in die stad waardeer dit regtig. Mag die Here julle seen…

blondie ·

Dankie vir die omgee en water wat julle geskenk het.
Ek wil graag net weet Steenbrasdam verskaf vir Stad Kaapstad en watter dam verskaf dan aan Boland en die Helderberg omgewing. As dit Theewaterskloof is soos gesê is dan het daardie dam ook ernstig water nodig. Of verstaan ek verkeerd.

evsbest ·

Voelvleidam. ernstig leeg, bergrivier ernstig leeg. Ons bid.

Robert ·

Blondie, die steenbras dam verskaf ook water aan die helderberg. Die wemmershoek en bergrivier dam verskaf water aan die boland saam met die theewaterskloof en brandvlei dam. Die theewaterskloof verskaf nie net water aan kaapstad nie.

jannie ·

Die boere is darem net goeie mense…sulke goeie harte. Lekker om afrikaans te wees.

Gautenger ·

Wil net graag weet of die Kaap ook die boere in Gauteng en in die Vrystaat gaan help as hulle in die moeilikheid kom. Vergeef maar my pessimisme maar almal het Knysna met die brande gehelp en agterna is die hulp GEKRITISEER en het baievan die skenkings in townships opgeeindig in plaas van by die mense wat deur die brande geraak is. Nou aanvaar almal met ope arms die water, maar KLA omdat die water heeldag in die son in plastiekkanne moet staan .. Ek sal graag wil sien hoe die KAPENAARS ander mense help .. noem my maar pessimisties, maar ek het ‘n vermoede as Gauteng gaan swaarkry is op ons eie.

dolphin ·

Prys die Here dat die boere het omgee hart om vir die kapenaars water te gee vir miljarde liter.Mag die Here nog meer seeninge vir die boere om meer water kan kry en kan niks verruil word nie die kapenaars moet klein geskenkie vir die boere terug :-)

Hannelie ·

Die Here sal hul seën. Dankie aan die Watergebruikersvereniging se groothartigheid. In ‘n tyd van krisis, vat ons almal saam hande.

H2O-ou ·

“Geen goeie daad gaan ongestraf”

Ironies, en ongevraagd, dat parlementslede nou aandring daarop dat hierdie boere se privaatdamme onteien moet word.

Niel ·

EK wil net graag weet of die watertariewe wat nou ingestel is weer sal terugkeer na die tariewe voor die tariefverhogings ingestel is wanneer daar weer voldoende water is?
OP die ou einde van die dag lei waterbesparing tot ‘n laer inkomste van waterverkope vir die Wes-Kaapse regering. OP een of ander manier moet hulle die boeke laat klop en wie sit dan met die rekening? En dit omdat die spul nie na waarskuwings etlike jare terug wou luister nie.

Ada ·

Bonnievale baie droog Inwoners sukkel Alles verdroog Ons bid ernstig vir reen

petro ·

Dit lyk asof ons weer gemanupuleer word en droogtes moedswillig geskep word. Ek vra dat veral kenners op die gebied en boere studiegroepe asb help kyk wat gaan hier aan. Kyk na Dane Wigington se site

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.