
Verkeersbeampte Ludwe Barnes. (Foto: ‘n Skermgreep uit die video)
ʼn Motoris van Mosselbaai in die Wes-Kaap het verlede Donderdag ʼn aangename verrassing op sy verjaardag gekry toe ʼn verkeersbeampte tydens ʼn roetine padblokkade vir hom begin sing het.
Jan Bronkhorst is op sy 59ste verjaardag in George deur ʼn provinsiale verkeersbeampte van die pad afgetrek. Dié verkeersbeampte is later deur die George Herald as Ludwe Barnes geïdentifiseer.
“Sy het gevra sy wil my lisensie sien en na die voertuig kyk,” het Bronkhorst aan Maroela Media vertel. “Sy het op my lisensie gesien dit is my verjaardag en het skielik losgetrek en vir my begin sing.”
Hy sê hy het haar onderbreek en gevra om weer te sing sodat hy ʼn video-opname daarvan kon maak. “Dit was vir my net só oulik.”
Bronkhorst vertel sy vrou, Vinkie, was saam met hom in die voertuig toe dié aangename voorval plaasgevind het. “Ons het natuurlik gelag, want dit was baie vreemd.”
Hy sê hy is later deur die George Herald genader vir ʼn storie oor die gebeurtenis en dit is dié gemeenskapskoerant wat vir Barnes opgespoor het. “Sy het glo twee jaar gelede ook vir ʼn motoris gesing toe hy verjaar het. Dit is absoluut wonderlik.”
Die video van Barnes is verlede Donderdag op Facebook geplaas en is reeds meer as 141 000 keer gekyk en meer as 2 000 keer gedeel.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
10 Kommentare
wat ‘n wonderlike dame!
Pragtige gebaar!
Altyd darem die opflikkerings wat hoop staande hou in die helhool. Pragtige gebaar.
well done aan haar!! wens ons kan haar in Gauteng kry xx
Prys die Here dat daar nog sulke lieflike mense in uniform op ons paaie is.