Eers het hulle verstar gesit en luister na die klanke in hul ore – aanvanklik ʼn biepgeluid, en toe stemme. Ma en pa het met snesies gereed gestaan; dokters het immers gesê daar is ʼn groot kans dat die kinders nie positief op klank gaan reageer nie. Maar hulle het, want sekondes later het dié boetie en sussie geglimlag soos hulle nog nooit vantevore het nie.
Dit was Maandag die eerste keer in Corban (11) en Samantha (9) Venter van Pretoria Tuine se jong lewens wat hulle hul ouers se stemme, én ander geluide, kon hoor.
Die boetie en sussie het vroeër in Maart kogleêre inplantings gekry, en dié gehoorapparaat is Maandag vir die eerste keer aangeskakel.
Hulle pa en ma, Tanya en Johan, is albei blind. Johan is blind gebore en Tanya het op ʼn jong ouderdom blind geraak weens die genetiese siektetoestand retinitis pigmentosa. Die egpaar se jongste kind, Micyla (2), kan sien én hoor.
“Dit het ongelooflik goed gegaan,” vertel Tanya. “Ons het ons voorberei daarop dat hulle groot gaan skrik vir die klank, maar hulle was eerder opgewonde en het van oor tot oor geglimlag.
“Toe Samantha haar stem die eerste keer hoor, het sy die heeltyd een geluid herhaal omdat dit vir haar so fassinerend was om klank te hoor.”
Die gesin kon vroeër vanjaar daarin slaag om uiteindelik net meer as R900 000 bymekaar te maak sodat Corban en Samantha die inplantings kon kry.
Die gesin sal voortaan steeds met gebaretaal kommunikeer, omdat dit altyd hul eerste taal sal wees. Die kinders praat in gebaretaal en Johan en Tanya voel hul hande om uit te maak wat hulle sê. Nie ʼn enkele woord word gekommunikeer nie, maar dit is selde dat die regte boodskap nié voldoende verstaan word nie.
“Dis maar ons eie stelsel en dit werk vir ons. Vir langer as ʼn dekade was my hande vir my baie belangrik; dit was die enigste kommunikasiemiddel tussen my en my kinders. Nou het dit verander en ons gaan van voor af moet leer kommunikeer, maar ons is dankbaar. Dit sal die eerste keer in hul lewens wees wat hulle ʼn ketel kan hoor kook,” sê sy.
Die gehoorapparaat van die kogleêre inplanting sal stelselmatig harder gestel word. Daar is egter nog ʼn lang pad wat vir die gesin voorlê.
“Albei kinders was baie ouer as ander kinders wanneer hulle die inplantings kry. Die senuwees is dus nooit gestimuleer nie, en die kanse dat hulle soos ek en jy sal praat en verstaan, is skraal. Hulle gaan egter nou spraakterapie kry en hulle is baie ywerig om te weet wat woorde beteken en te luister.”
Vir meer inligting, besoek die gesin se webwerf.
Kyk die video’s ook op Facebook.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
13 Kommentare
Ag lieflik. So bly vir hulle. Die kiddies is pragtig.
net jammer dat albei kinders die satanistiese handgebaar toon op die foto – hoop die ouers kan dit regstel
Mooiste glimlagge ooit!!
pragtige kinders. Wonderlike, hartseer storie. Ek hoop die kinders sal kan leer hoor en praat sonder te veel stres.
hoe awesome is dit, so lekker om dit te sien en maak my hart bly