Video: Dié renoster, hond en skaap is beste maats

David en Esmé toe hulle nog klein was (Foto: Verskaf)

Deur Janie Monsieur

Wat het ’n renoster, ’n hond en ’n skaap in gemeen? Wel, in hierdie geval is dit ’n hegte vriendskap en oneindige liefde vir mekaar.

Dié diere het mekaar sowat drie jaar gelede in die Hoedspruit Endangered Species Center (HESC), onder leiding van Lente Roode, ontmoet en was byna van die eerste ontmoeting af onafskeidbaar.

Vandag baljaar Esmé die witrenoster, David die anatoliese herdershond en Mielie die Thaba Manzi Pedi-skaap daagliks uitbundig by HESC.

Linri Janse van Rensburg, hoof-dierekurator by HESC, vertel dat Esmé as ’n jong kalfie van sowat ’n maand oud van ’n wildsplaas na HESC gebring omdat haar ma nie genoeg melk gehad het om haar te voed nie en daar gevrees is dat die kleinding nie sou oorleef nie.

David is aan Esmé voorgestel toe hy sowat agt weke oud was. Anatoliese herdershonde is bekend daarvoor om die herder se plek in ’n trop skape in te neem en om hulle dan te beskerm. Hulle is ook baie moederlike diere en was daarom ’n goeie keuse as maat vir Esmé.

David het oorspronklik by Esmé gebly en geslaap, maar as gevolg van David se gesondheid kon hy nie aanbly nie. Daarom het hulle vir Mielie as plaasvervanger gekry.

David en Esmé (Foto: Verksaf)

“Mielie en Esmé is 24/7 bymekaar. Mielie slaap by Esmé en hulle is die hele dag bymekaar. Ons bring dan vir David na hulle toe en dan speel hulle al drie saam,” vertel Janse van Rensburg.

Janse van Rensburg sê dit het sowat ’n uur geneem vir Esmé en David om aan mekaar gewoond te raak en dat hulle daarna onmiddellik onafskeidbaar was.

Dit het wel ’n bietjie langer gevat om vir Mielie en Esmé gewoond te kry aan mekaar omdat Esmé toe al ’n bietjie ouer was en Mielie nie gewoond was aan mense nie. Maar twee dae later het die twee nog nie weer hul oë van mekaar afgehaal nie.

“Dit gebeur nie baie met hulle twee dat die een buite die sig van die ander een is nie, en wanneer dit gebeur, begin Mielie roep en Esmé begin huil tot hulle weer mekaar gevind het,” sê Janse van Rensburg.

David en Esmé (Foto: Verksaf)

Sy vertel dat Mielie en Esmé graag saam rondloop en gras eet, terwyl David en Esmé graag met die tuinslang speel en ’n lekker modderbad saam geniet.

“Ons sal vir Esmé ’n modderbad tap en sy sal daarin speel, dan sal David deur die water van die tuinslang spring in die modderbad in saam met haar.

“David speel-byt graag vir Esmé op haar hakskene en dan jaag sy hom op en af. As sy ophou, byt hy haar weer en so gaan dit aan. En as Esmé hardloop, dan hardloop Mielie saam.

“Dit is regtig ongelooflik om die spesiale verhouding te sien wat die verskillende spesies met mekaar het,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Amatambo ·

Weet nie of ek nie behoorlik kan sien nie, maar ek sien die skaap nie. Nogtans pragtigm\, hierdie vriendskap tussen diere – net jammer mense kan mekaar nie aanvaar nie, hulle verskille ten spyt…

Amatambo ·

Ag – “SORRIE”!!! het nou die skaap ook in die video gesien – pragtig!!

Pieter ·

Die natuur is baie vredeliewend en verdraagsaam. ‘n Wit hond en ‘n donker wit renoster. Geen BEE hier teenwoordig nie en alles is wonderlik en lieflik om te aanskou. Dankie Lente

Anel ·

My oom het op sy plaas in Natal, gefurende die begin van die 90 jare, ook 2 renosterkalfies hans groot gemaak. Hulle het ‘n staffie gehad en die 3 was ook groot maats. Die renostertjies het gereëld op hul sye gaan lê dan het die staffie die bosluise en ander goggas af gebyt. Dit was vir ons ook baie spesiaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.