[Video] Die skoen wat saam met ʼn kind groei

Die skoen wat saam met 'n kind kan groei Foto: TheShoeThatGrows.org

Die skoen wat saam met ‘n kind kan groei Foto: TheShoeThatGrows.org

Die idee van ʼn “skoen wat saam kan groei” is al in 2007 geskep toe Kenton Lee in Nairobi, Kenia gewerk het.

Talle behoeftige kinders wat in arm gebiede of op verafgeleë plekke grootword, moet soms sonder skoene klaarkom, omdat daar nie elke jaar genoeg geld is vir ʼn nuwe paar skoene nie.

“Daar is meer as 300 miljoen kinders wat nie skoene het nie, en nog talle ander wat skoene het, maar nie reg pas nie,” verduidelik Lee op die organisasie se webwerf, TheShoeThatGrows.org.

Die “skoen wat groei” is ʼn gepatenteerde ontwerp vir ʼn skoen wat verstel kan word en groter gemaak kan word. Dit is gedeeltelik deur ʼn skoenontwikkelingsmaatskappy in Kanada, Proof of Concept, ontwerp.

Die skoen is in twee groottes, naamlik “klein” en “groot” beskikbaar. Elke skoen kan tot vyf groottes verstel word en hou vir minstens vyf jaar lank, danksy die duursame materiaal wat gebruik word.

Die “klein”-skoen is geskik vir kinders van kleuterskool tot Graad 4 en die “groot”-skoen is geskik vir kinders van Graad 5 tot Graad 9.

Die skoene is gemaak van leer, saamgeperste rubber en knippe. Daar is geen meganiese dele of ratjies wat kan breek nie. Die skoene is boonop maklik om skoon te maak en maklik om te gebruik.

Indien jy een paar skoene vir jou kind koop, sal die organisasie twee pare skoene skenk. Klik hier om ‘n paar skoene te koop. Een paar skoene kos $50 (ongeveer R800).

Klik hier om die webwerf te besoek, die skoen te koop of ʼn donasie te maak.
Die “skoen wat groei” is die eerste projek van ʼn organisasie wat homself toespits op praktiese deernis – Because International. Die organisasie is in 2009 in Nampo, Idaho opgerig. Besoek hul webwerf.

https://youtu.be/oHts0SjPryU

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.