Video: Dis net vet pret by kykNET Buite Ekspo in Sondela

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

As jy nog nie planne het vir die naweek nie, moet jy opskud en beslis ʼn draai by die kykNET Buite Ekspo in die Sondela-natuurreservaat gaan maak.

Dit is nou die wintervakansie, so bring sommer die hele gesin en kom geniet die gasvryheid en warmer weer vir Limpopo maskervry by die ekspo, wat in ʼn veilige plaasatmosfeer sowat 80 km buite Pretoria gehou word.

Hier is hope pret vir die hele gesin en daar is beslis iets te vinde vir elke sak en smaak, maar dit is veral die kamp- en natuurliefhebbers en avontuurlustiges wat op hulle gelukkigste hier gaan wees.

Of dit nou die eenvoud van ʼn tweemanstent en ʼn rustige vuurtjie is, of die mooiste woonwa met van die beste bybehore wat jou tyd in die kamp luukser maak; jy gaan die nuutste kamptoerusting en deskundige raad by dié ekspo se uitstallers vind.

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Avontuurlustiges kan hier kom saam droom oor hul volgende 4×4-ervaring. By die ekspo kan besoekers gratis saam met André de Villiers, aanbieder van Safari 4×4,  ʼn Volkswagen Amarok deur sy passies sit of die grondpad-uithouvermoë van ʼn Ford Raptor en Stormtrack saam met Action Ford Modimolle se behendige bestuurders kom toets.

Daar sal verder ook helikopter- en kameelritte beskikbaar wees.

Die meer kunssinniges kan uitsien na ʼn kuns- en snuffelmark en die kleingoed kan van hul energie ontslae raak by die pretpark of ʼn heerlike vertoning van Jakkie Louw se Felias en Pokkel geniet.

Jimmy’s Sauces sorg oudergewoonte vir ʼn smullekker braaikompetisie saam met gewilde kykNET‑akteurs van sepies soos Binnelanders en Getroud met rugby. Danksy Hankook Tyres sal verskeie kunstenaars, onder wie Pieter Smit, Irene-Louis van Wyk, die sanggroep Adam en Droomsindroom vir ure lange vermaak saam met die seremoniemeester, Riaan Grobler, sorg.

Feesgangers kan ook uitsien na smullekker kos en ʼn verskeidenheid “verversingstuine”, wat alles van tee tot wyn sal bedien.

Met die afskaffing van die laaste Covid-19-regulasies vir byeenkomste vroeër die week word geen inentingsertifikate, negatiewe toetsuitslae of maskers vir bywoning  benodig nie.

  • Besoek Ekspo.co.za vir meer inligting.
  • Kaartjies kan by die ingang gekoop word, maar koop nou jou kaartjies hier om teleurstelling te voorkom.
  • Die hekke open reeds om 09:00 en die ekspo duur tot Sondag 26 Junie.

En indien jy nog ʼn bietjie oortuiging benodig, kyk hier hoe Maroela Media die kykNET Buite Ekspo Vrydag geniet het:

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.