Video: Droomhuis vir skoolverlaters van kinderhuis

‘n Inwoner van die President Kruger-kinderhuis in Pretoria wys hulle tuin. (Foto: Skermgreep uit video)

Die Afrikaanse Toekomstrust, in samewerking met Just Imagine Properties se Dream Team en die sanger Jo Black en sy broer, Willem Engelbrecht, het ʼn projek van stapel gestuur om ʼn sogenaamde Huis van Drome te skep vir die skoolverlaters van die President Kruger-kinderhuis in die Moot, Pretoria.

Dié kinders wat op 18-jarige ouderdom en nadat hulle gematrikuleer het elders ʼn heenkome moet vind, sal in dié droomhuis gehuisves word.

Die Huis van Drome-projek is van stapel gestuur as lanseerplatform om jong mense toe te rus om ʼn sukses van hul lewens te maak en hulle ʼn geleentheid te bied wat kinderhuiskinders wat matrikuleer nie noodwendig beskore is nie.

“Ons stap al ʼn lang pad saam met die President Kruger-kinderhuis en het ʼn groot liefde vir die Moot-omgewing. Ons het met die kinderhuis geskakel en hulle het ʼn behoefte vir ʼn heenkome vir die matrikulante wat ná skool die kinderhuis moet verlaat, geopper.

“Dit was vir ons belangrik om vir hierdie kinders die geleentheid te gee wat elke persoon in sy en haar lewe nodig het, deur die behoefte aan ʼn heenkome te vervul, eerder as dat hulle weer na die omstandighede waaruit hulle in die eerste plek kom, moet terugkeer,” sê die Dream Team.

Die Huis van Drome bied ʼn heenkome vir dié jong mense wat opleiding in hul onderskeie loopbane moet begin, maar wat nie ouers of familielede het wat hulle kan help deur die geskikte omgewing en geleenthede te bied nie.

Die huis kan vir tien jong mense ʼn naskoolse oorbruggingsgeleentheid bied vanwaar hulle kan studeer, ʼn internskap doen en selfs aansoek doen vir ʼn bestuurslisensie.

Albert Bredenhann van Pixel Pro Photography is betrokke by Just Imagine Properties as fotograaf en het só van die projek te hore gekom.

Hy het ʼn besoek aan die kinderhuis afgelê en met die kinders gesels wat volgende jaar ʼn ander heenkome moet kry nadat hulle matriek geskryf het. Die video’s wat hy van dié ontmoeting gemaak en op sosiale media geplaas het, het intussen soos ʼn veldbrand op platforms soos Facebook en TikTok versprei.

“Dit was ʼn baie positiewe ervaring om met die kinders by die kinderhuis kennis te maak en as’t ware op ʼn toer van hulle huis geneem te word,” het Bredenhann aan Maroela Media gesê.

“Dit was glad nie ʼn somber affêre nie en die kinders lyk baie gelukkig. Dit was lekker om te sien dat hulle ʼn groot tuin en swembad het, ʼn massiewe eetsaal en ʼn klerekamer wat hulle die ‘Woolies’ gedoop het,” sê hy.

Volgens Engelbrecht verg die projek langtermyn-betrokkenheid om volhoubaar te wees.

“Die planne is daar om langtermyn-betrokkenheid van die Moot-gemeenskap te verseker en nie net eenmalige skenkings nie. Die Dream Team sal saam met die Afrikaanse Toekomstrust die projek fasiliteer en verseker dat dié groot droom vir die area op ʼn baie gefokusde manier deur die jong volwassenes uitgeleef word.”

Die publiek kan by die projek betrokke raak deur te help met geldelike skenkings vir die maandelikse bedryfskoste van die Huis van Drome. Om betrokke te raak, maak telefonies kontak met Elanie (083 446 8082) of Annchen (082 561 6555) van Just Imagine Properties, of stuur ʼn e-pos na [email protected].

President Kruger Children's Homes Initiative

President Kruger Kinderhuise Inisiatief | President Kruger Children's Homes initiative Just Imagine Properties' Dream TeamIn samewerking met die | in collaboration with the Afrikaanse ToekomstrustRaak betrokke | Get involved: office2@justimagineproperties.comDankie Jo Black vir julle betrokkenheidwww.justimagineproperties.com #DreamTeam #community #love

Posted by Just Imagine Properties on Thursday, November 4, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sylvia ·

Wonderlike omgee, maar nou word dit oral uitgeblaker en tot video’s van die jong meisies die wêreld ingestuur om geld in te samel, maar intussen word hulle blootgestel aan alle vullis daar buite. Wat ‘n beter teiken as ‘n huis vol pragtige jong meisies, dink in die tye waarin ons nou leef moet mense begin bedag wees op wat, hoe en waar goed gepubliseer word.

Johanna ·

Aggenee nou oordryf jy regtig. Jong meisies us nie eers veilig in hulle eie ouer-huise of saam met sommige eie oupas en ooms nie. Cellphone stel ook enige kind bloot.

Zombie ·

Dit is baie waar wat jy sê. Iemand wat sê dat jy oordryf, het skynbaar geen idee van die werklike lewe nie. Indien die kinders nog nie 18 jaar oud is nie, maag daar nie eers foto’s of videos van hulle geplaas word nie.

Annakapat ·

Daar sal darem seker ouer toesig wees.
Hulle sal seker nie n klomp tieners alleen in n huis laat bly nie.
Ek hou van die idee van n plek vir hierdie kinders.

Chantel ·

Dis vir my hartseer, dat weereens, daar nie na ons jongmense omgesien word nie. Dan kan mens verstaan hoekom soveel van die jong kinders net eenvoudig oorgee aan dwelms en boemelaarskap. Welgedaan aan julle met die vestiging van hierdie hawe.

Helizna ·

Wat ‘n wonderlike inisiatief! Kan dit uitgebrei word na ander kinderhuis kinders oor die land?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.