Kranige breiers het landwyd kragte saamgesnoer om 2 700 vroue wat ʼn mastektomie moes ondergaan, van gebreide borsprosteses te voorsien.
Dié brei- en hekelwerk vorm deel van Solidariteit Helpende Hand se Boesemvriendinne-projek, wat hulself daarvoor beywer om vroue op verskeie vlakke van die lewe by te staan.
ʼn Intieme spoggeleentheid is Dinsdag by Helpende Hand se hoofkantoor in Centurion gehou om van die gebreide borsprosteses te oorhandig. Dié geleentheid is ook gebruik ter viering van die projek se deurlopende sukses, aangesien dit sedert sy ontstaan in 2021 nagenoeg 7 000 vroue van borsprosteses kon voorsien.
“Borskanker is ’n siekte wat talle vroue reg oor die wêreld raak en ’n diagnose wat geen vrou ooit wil kry nie. Sommige van hulle moet ʼn mastektomie of ander borsprosedures ondergaan om die kanker te verwyder. Baie mastektomie-pasiënte wat dit kan bekostig, kry terselfdertyd ’n borsrekonstruksie,” het René Roux, woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand, by die geleentheid gesê.
“Maar vir baie ander is dit ’n droom wat finansieel onbereikbaar bly. Dit kan ’n groot uitwerking op hul selfbeeld en lewensgehalte hê. Daarom het Solidariteit Helpende Hand se *FroueVonds ons Boesemvriendinne-projek van stapel gestuur om hierdie vroue te help om hul waardigheid en selfvertroue te herwin.”
Alhoewel dié projek se uitdeeldag jaarliks reeds in Oktober gehou word, sê Roux dat dit nie die einde van die jaar se breiery beteken nie.
“Dit stop nie nou nie, dit is dalk die einde van Oktober, maar borskankerbewusmaking moenie nou stop nie,” het Roux aan Maroela Media verduidelik.
“Dit is ʼn ongelooflike lekker, mooi en sagte projek. Vanoggend se funksie was baie klein en intiem, ons glo dat dit ʼn hartsaak is. As ek kon, sou ek elke breier hier gehad het vanoggend, maar dit is nie moontlik nie, want almal is so wyd oor die land versprei.
“Dit is eintlik die mooi daarvan – dat ʼn gemeenskap saamstaan om ons vroue te help.”
*“FroueVonds” word met opset verkeerd gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg loop nie.
Kyk ʼn video van die geleentheid hier:
Baie dankie aan al die Vlytige dames was deel geneem het aan die Boesemvriendinne-projek. Ek het nie eers geweet dit bestaan nie.