Video: Emosionele oomblik toe ‘Lion King’-akteurs herenig

‘n Toneel uit die lied “Circle of Life” in die musiekblyspel “The Lion King”. (Foto: Thelionking.co.uk)

Dit was ʼn emosionele oomblik vir die akteurs van die musiekspel The Lion King toe hulle ná 500 dae uiteindelik weer kon herenig om saam te repeteer.

Meer as ʼn 100 miljoen teatergangers is al sedert 1997 in 25 produksies van Julie Taymor se verhoogverwerking van The Lion King wêreldwyd vermaak.

Die gordyn het egter op 15 Maart verlede jaar weens die Covid-19-pandemie voorlopig oor dié bekroonde Disney-musiekspel gesak – in daardie stadium een van die West End se topverkoper-verhoogproduksies en die sesde langlopende musiekspele van alle tye en dié teaterdistrik in Londen.

The Lion King, wat as rolprent vir die eerste keer gehore se verbeelding aangegryp het, spog as teaterproduksie met asemrowende maskers en poppespel wat vir groot betowering op die planke sorg.

Die kern van die musiekspel is natuurlik die kragtige en aangrypende verhaal van die jong leeu Simba en sy epiese avontuur, van grootoog-welpie tot sy bestemde rol as die koning van die Pridelands.

Die rolprent en musiekspel het ʼn eg Suid-Afrikaanse geur met Lebo M wat bykomende musiek daarvoor geskryf het. Dit is ook dié Suid-Afrikaanse musikant wat die aanvanklike openingslyn van die bekende lied “Circle of Life” geskryf en gesing het.

Akteurs van die West End-produksie was verlede week opgewonde om weer ná so ʼn lang tyd saam te repeteer. Gelukkig was daar videograwe om die groot oomblik vas te vang toe almal vir die eerste keer die bekende openingslied “Circle of Life” sing.

In die rolverdeling van die West End-produksie is Kayi Ushe in die rol van Simba, saam met George Asprey as Scar, David Blake as Banzai, Janique Charles as Nala, Gugwana Dlamini as Rafiki, Shaun Escoffery as Mufasa, Gary Jordan as Zazu, Jamie McGregor as Timon, Melone M’Kenzy as Shenzi en Mark Roper as Pumbaa.

Die West End-produksie van die The Lion King is vandag (29 Julie) in die Lyceum-teater in Londen terug op die planke, terwyl die Broadway-produksie beplan om op 14 September in die Minksoff-teater in New York te open.

Kyk hier na die video:

Bron: Broadwayworld en Theatermania.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.