Video en foto’s: ʼn Eerste seevakansie vir Frank en Lettie

Frank en Lettie se eerste seevakansie (Foto: Beulah Cronjé)

Toe die vliegtuig anderdag oor die see vlieg, het die 69-jarige Frank en die 56-jarige Lettie – onderskeidelik ʼn huishulp en ʼn tuinier van Pretoria – se lewe albei handomkeer verander.

Die wêreld was skielik groter as voorheen – en die God wat hulle dien, het Hom nog nooit op só ʼn kleurryke manier openbaar nie.

Só het Beulah Cronjé van Pretoria Vrydag aan Maroela Media vertel oor Frank en Lettie, wat al sowat 11 jaar vir haar en haar man, Chris, werk, se eerste seevakansie.

Cronjé vertel sy en Chris het onlangs besluit om hulle met vakansie na Jeffreysbaai in Port Elizabeth te neem om “hulle wêreld bietjie groter te maak”.

Dié twee, wat nié getroud is nie, het al deel van die huisgesin geword, maar het onlangs die eerste keer in hul lewe ʼn vliegrit aangedurf en die “grootheid van die see” beleef. Cronjé vertel sy sou dié ervaring vir niks ter wêreld verruil nie.

Frank en Lettie se eerste seevakansie (Foto: Beulah Cronjé)

“Hulle het so deel van ons lewe geraak in die afgelope 11 jaar dat ons werklik iets spesiaals vir hulle wou doen. Ek en my man het besluit op die seevakansie omdat hulle nog nooit by die see was nie – die meeste van ons aanvaar dit as so vanselfsprekend, maar vir ander mense is dit die grootste geskenk,” sê sy.

Hulle het sommer na Jeffreysbaai gevlieg. Cronjé sê sy het in haar ganse lewe nog nooit só ʼn onstuimige vlug beleef nie. “Siestog; toe was dit nog hulle eerste keer ook. Hulle was albei baie bang. Frank het gesê sy maag het in sy keel gaan sit. Toe hy net dink ons is nou hoog genoeg in die lug, toe bly die vliegtuig styg. Dan sê hy: ‘Maar ons is mos nou hoog genoeg!’ En dan styg die vliegtuig nog bietjie. Lettie het my net so gekyk en gesê: ‘Hierdie man wat bestuur, bestuur nie mooi nie. Hulle moet iemand anders kry om te bestuur.’”

Sy vertel selfs die reën het nié ʼn demper geplaas op Frank en Lettie se opgewondenheid om die see die heel eerste keer te beleef nie. “Jy kan nie die see van die huis af sien van waar ons woon nie omdat dit toegebou is. Ons het dus begin stap, en toe ons so om die draai kom en die see sy kop uitsteek, toe skree Lettie: ‘Daar is hy!’ En toe kyk Frank net so gefassineerd na die see, en vra: ‘Loop hy dan nou net vanself so?’ Dit was wonderlik. Daar is ʼn skoonheid aan hul onskuldige opgewondenheid. Lettie het gesê dis die Here wat dié waters so woel – dit sal my altyd bybly.”

Frank en Lettie se eerste seevakansie (Foto: Beulah Cronjé)

Cronjé sê sy kan nie hulle tevredenheid oor wat hulle beleef het in woorde omskryf nie. “Ons het op die strand gaan stap en skulpies opgetel. Ons het roomys geëet en selfs in die see gaan swem. Maar wat ons die meeste gedoen het, was lag. Hulle het gelag – vir hulself en vir mekaar. Hulle het soms net in verwondering gestaan en kyk na hoe die seewater in- en uitspoel en na hoe die branders oor die rotse breek. Ons het weggehardloop vir branders wat te vinnig uitgespoel het en baie gespot met mekaar. Dit was wonderlik.”

Sosialemediagebruikers het Cronjé intussen vir dié daad geloof. Haar inskrywing op Facebook is meer as 13 000 keer ge-“like” en bykans 4 000 keer gedeel.

“Ag, dis nie wat ek wou gehad nie – dis wonderlik dat mense die mooi daarin raaksien, ek is dankbaar daaroor, maar wat my hart selfs blyer maak, is dat ek iets vir Frank en Lettie kon beteken. Dít gaan ek vir altyd dankbaar in my hart bêre,” sê sy.

Posted by Beulah Cronjé on Monday, November 20, 2017

Posted by Beulah Cronjé on Monday, November 20, 2017

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lienkie ·

Wat ‘n pragtige storie om te lees, dit het sommer ‘n glimlag op my gesig gesit, daar is nog mense wat omgee. Well done Beulah. Daardie mensies het dit baie geniet en waardeer.

Tammy ·

Mooi gebaar! As mense, wie ook al dit is, goed is vir jou, beloon hulle in oordaad.

Lana ·

Sjoe, die trane loop oor hierdie mooi storie. ‘n Pragtige bewys dat ons land se mense nog lief is vir mekaar.

Magaretha van heerden ·

Ek is skoon aangedaan. Julle sal geseend wees.

Francie ·

Maak mens se hart warm . Mooi so, julle is ‘n inspirasie vir almal wat julle storie lees.

Yolanda ·

Wel gedaan , deur die videos te kyk kon ek amper die oomblik saam met julle beleef. Memories is die beste persent!! Geseende Kersfees vir julle almal!! Groete uit n groen NZ

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.